Lukas 23:50-56 & Johannes 19:38-42
Petrus word wreed uit sy rustelose slaap geruk: “Petrus! Petrus, kom gou! Iets verskriklik het gebeur!” Maria Magdalena is histeries en uitasem gehardloop.
Petrus spring regop. “Wat's fout, Maria?” Daar kon beslis niks erger gebeur het as wat alreeds die afgelope paar dae gebeur het nie!
“Hy is weg!” Nou is sy in trane en Petrus moet eers troos voordat sy snikkend kan vertel.
“Wag nou Maria, haal diep asem, raak kalm en begin héél voor: wie is weg?”
“Jesus, ons geliefde Meester. Hulle het Hom uit die graf gehaal en ek weet nie wat hulle met Hom gedoen het nie.”
Petrus raak yskoud van skrik. Nou is Johannes ook by: “Hoe weet jy, Maria?”
“Ek het vroeg vanmôre na die graf toe geloop en toe ek daar kom, is die klip weggerol en Hy was nie meer daar nie. Ek weet nie waarheen hulle Hom gevat het nie of waar hulle Hom nou begrawe het nie......”
Petrus en Johannes kyk vir mekaar en dan besluit hulle om sélf te gaan kyk wat gebeur het. Die twee manne begin hardloop so vinnig as wat hulle kan.
Johannes is die jongste van die twee en hy hardloop los onder Petrus uit. “Wag vir my!” wil Petrus nog skree, maar Johannes hardloop soos 'n ribbok teen die Olyfberg af. By die graf gaan staan hy verslae: die reuse klip is weggerol. Dit moes minstens twintig manne gekos het om daardie swaar klipskyf te beweeg. Versigtig loer hy by die grafkelder in. Binne is dit donker, maar as sy oë aan die skemer begin gewoond raak, sien hy net die doeke lê op die klipbank in die graf.
Petrus kom nou ook uitasem daar aangestoom. Hy druk vir Johannes opsy en dan klim hy in die graf in sonder om te aarsel. Oopmond staar hy na die prentjie voor hom. Netjies opgevou op die een punt van die bank lê die doek wat om die Meester se gesig gedraai was. Die res van die doeke lê in 'n groot bondel by die voetenent. Petrus verstaan nou gladnie. As iemand dan nou die liggaam kom steel het, sou hulle mos nie eers die doeke losgedraai het nie?
Johannes waag dit nou ook om in die graf in te klim. “Hier is iets baie vreemd aan die gang, Petrus. Waarom lê die doeke hier? En waarom is daardie een so netjies opgevou?”
“Niks maak sin nie!” beaam Petrus.
Wanneer die twee manne uitgaan om huiswaarts te keer, tref hulle 'n huilende Maria Magdalena buite die graf aan. Hulle laat haar daar alleen met haar smart en stap terug huistoe met baie vrae in die gemoed. “Wie sou so 'n walglike ding doen?” wonder Petrus.
Wanneer hulle by die huis kom waar hulle die afgelope twee nagte geslaap het, tref hulle 'n paar baie opgewonde vroue aan. “Petrus, ons was by die graf!” babbel Johanna, “en dis leeg!”
“Ja,” sug Petrus, “ek en Johannes was óók daar. Hulle het ons Meester se liggaam gesteel!”
“Nee, nee, jy is verkeerd!” Maria, Jakobus se ma is borrelend van opgewondenheid. “Hy het opgestaan!”
“Wat bedoel jy met 'opgestaan'?” Nou verstaan Petrus soos gewoonlik alweer gladnie.
“Hy het opgestaan uit die dood! Hy lewe!”
Johannes is baie skepties: “Hoe weet julle?”
“Ons twee is saam met Maria Magdalena na die graf toe en ons sien dat dit oop is.”
“Ja, ja, dit het ons óók gesien!” snork Petrus.
“Maria het weggehardloop toe sy dit sien maar ek en Johanna wou uitvind wat gebeur het. En terwyl ons nog daar staan en wonder, toe verskyn daar skielik twee engele uit die niet, hemelse wesens in skitterende klere.”
“Ja,” gaan Johanna voort, “en toe vertel hulle ons dat Jesus opgestaan het, en dat Hy lewe.”
Op daardie oomblik kom Maria Magdalena uitasem daar aangehardloop: “Hy leef! Hy leef!” skree sy opgewonde so vêr as wat sy gaan, “ek het Hom met my eie oë gesien! Hy leef!”
Nadat hulle vir Maria gekalmeer het, vertel sy dat nadat Petrus en Johannes daar weg is, sy bedroef in die graf ingekyk het, en daar sien sy twee hemelse wesens in blink klere – engele! "Ek het baie groot geskrik!" vertel sy. Sy het omgedraai en daar agter haar staan die “Man”. Haar oë was so dik gehuil dat sy Hom nie eers herken het nie. Sy het gedink dat dit die tuinier was, maar toe noem Hy haar op haar naam: “Maria.”
"Hoe kon ek óóit daardie stem vergeet? Toe ek opkyk sien ek vir Jesus in lewende lywe voor my staan! Ek het op my knieë op die grond neergeval en Hom om die bene gegryp en Hom styf vasgehou!"
"Toe sê Hy vir my om terug te gaan en vir julle te gaan vertel wat ek gesien het."
Groot vreugde heers onder Jesus se volgelinge. Petrus wil ronddans van blydskap. Maar daar is nog daardie onsekerheid wat bly knaag. Alles is so verskriklik onwerklik. Het Jesus wáárlik opgestaan?
Gebed:
Here, ek wil vanoggend jubel: “U het waarlik opgestaan! U leef! U is my Here en Verlosser!”