Jona 3:1-4
Dit is ‘n baie, baie lang vermoeiende reis na Nineve. Ure word dae en dae word weke en uiteindelik 'n volle maand deur die woesteny. 'n Maand waarin hy alleen saam met die Here is met niks en niemand om te pla nie. Maar Jona benut nie hierdie wonderlike geleentheid nie, want hy doen hierdie ding slegs uit pligsbesef.
Uiteindelik sien Jona in die verte op die horison die stadsmure in die hittegolwe ronddans. Dit is seker die mooiste prentjie wat die uitgeputte Jona nog óóit gesien het - waarlik ‘n oase in die dorre woestyn! Pynlik stadig kruip die stad al nader en nader, maar hoe nader hy aan die stad kom, hoe meer begin Jona se senuwees hom opkeil. “Wat gaan ek vir die mense sê? Hoe preek ‘n mens in elkgeval vir goddelose heidene?" Jona se maag trek op 'n pynlike knop by die blote gedagte daaraan!
En dan hoor Jona weer daardie nou al bekende stem binne in hom: “Jona, Ek het mos gesê dat Ek Sélf die woorde vir jou sal gee”. Jona se maag slaan 'n slag bollemakiesie. Sy senuwees is aan flarde. Die onverbiddelike mure van Nineve doem voor hom op. In sy verbeelding sien hy al die goddelose heidene waar hulle krepeer in dronkenskap, brassery en sedelose losbandigheid. Jona sidder by die blote gedagte!
Jona bewe van pure angs as hy die laaste paar honderd treë aflê na die duiselingwekkende klipmure wat reik tot aan die soom van die hemel. Hy verwag om gestuit te word deur ondeurdringbare stadspoorte, maar tot sy groot verbasing staan die hekke wawyd oop. En boonop nooi vriendelike mense hom binne om deel te kom hê aan hulle wonderlike stad.
Baie versigtig sluip Jona Nineve binne. Hy loer gedurig oor sy skouer om seker te maak dat iemand hom nie dalk agtervolg nie. Agter elke pilaar verwag hy 'n sluipmoordenaar of 'n rower. Maar oral waar hy kyk is stalletjies en winkeltjies en handelaars wat soebat dat hy na hulle ware moet kom kyk. Goud en silwer blink op elke tafel en die mees verruklike juweliersware word uitgestal. Jona maak of hy hulle nie sien nie en stap net aan. Hy verkyk hom aan alles. Tussen al die mooi deur merk hy goue afgodsbeeldjies en dit ruk hom terug na die werklikheid. Dit laat hom besef waaroor hy éintlik hier is. Hy moet God se oordeel oor die stad kom uitspreek!
Dit begin laat word en Jona soek slaapplek. Hy loer by ‘n herberg in. Binne is daar ‘n uitbundige gelag en geskerts en tussen alles deur merk hy so terloops 'n paar halfnaakte meisies wat die gaste vermaak met hulle wriemelende lywe. Die drankwalms wat swaar in die herberg hang laat Jona naar voel. Hy gril vir die goddeloosheid en dan draai hy haastig om. “In hierdie hool kan ek mos nie vannag slaap nie!”
Jona draai haastig om en vlug weg van die plek af. Hy kan nie vinnig genoeg by die stadspoorte kom nie en eers wanneer die stad al 'n paar honderd treë agter sy rug is, gaan staan Jona en kyk kopskuddend terug na Nineve. Baie ver buitekant die stadsmure gaan skrop Jona vir hom 'n slaapplekkie teen ‘n skurwe boomstam, terwyl die gloeiende son agter die horison verdwyn.
Die nag gooi sy donker kombers oor Nineve. Jona verwonder hom aan die miljoene sterre wat skitter in ‘n hemelruim. Hy het dit al soveel keer gesien maar elke keer laat dit hom in verwondering. Onwillekeurig begin Jona die wysie neurie van die pragtige Psalm van die groot koning Dawid: “Wanneer ek na U hemelruim kyk, die werke van U vingers, die maan en die sterre wat U gevestig het – wat is die mens dan dat U hom in gedagte hou, 'n mensekind dat U aan hom aandag skenk?”
“Ja, Jona,” prewel hy vir homself, “soveel sterre as wat jy vanaand sien, soveel mense is daar sékerlik in hierdie groot stad!” Sy oë dwaal oor die vlaktes. Oral waar hy kyk sien hy die liggies flikker van vuurtjies en lampies in die gehuggies van die mense wat oor 'n wye gebied buitekant die stad bly. Hierdie mense is natuurlik álmal deel van Nineve.
Jona begin sommetjies maak oor hoe groot hierdie stad dan nou éintlik is. “Dit sal ten minste drie dae neem om deur hierdie verskriklike groot stadsgebied te stap!” Hy sidder! “En wat gaan ek vir hulle sê?” In sy geestesoog sien hy al hoe die mense hom uitlag, bespot, uitjou! Daardie nag maak Jona nie ‘n oog toe nie. Hy rol rond en bekommer hom siek oor sy preek. "Niemand gaan óóit na my luister nie! Niemand gaan hulle steur aan my preek nie!"
Dit het my al sóveel keer oorgekom dat ek my dodelik siek bekommer oor wat ek gaan sê by die een of ander geleentheid. En wanneer die oomblik van waarheid aanbreek, dan is ek verstom as die woorde oor my lippe vloei. En wanneer jy die meeste teenstand van iemand verwag, dan is hy eintlik 'n oop boek vir jou en totaal ontvanklik!
Die groot geheim is om nie te bekommer en sélf die ding te wil doen nie maar om dit oor te laat aan die Heilige Gees. As die Here my na iemand stuur, sal Hy deur my praat. Ek moet maar net gewillig wees, dis ál wat Hy vra. Alles kom eintlik neer op volle vertroue in Hom.
Gebed:
Here, leer my asseblief om U ten volle te vertrou in alles, ook wanneer U my stuur en om alles slegs aan U oor te laat!