Matteus 18:1-5
As voorgeskrewe boek vir Matriek, het ek ‘n Hollandse verhaal gehad met die titel: “De Klijne Johannes”. Hierdie eenvoudige verhaaltjie het so ‘n geweldige indruk op my gemaak, dat ek nou nog, na meer as vyftig jaar, dele van die boek kan onthou. Dit is ‘n boek met ‘n baie diep betekenis, en gaan oor ‘n klein seuntjie (Johannes) wat deur verskillende stadiums van sy opgroeiproses beweeg. As ‘n klein seuntjie glo hy onwrikbaar aan feetjies en al die mistieke wesentjies van die bos. Wanneer hy op die moeras op ‘n bootjie sit, wéét hy verseker dat hulle daar rondom hom is. Wanneer hy egter groter word, begin twyfel hom beetpak. Dan begin sy soektog na die “klein boekie,” die Boek van die Lewe. Uiteindelik begin hy alles en almal rondom hom in twyfel trek. Wanneer die ware Boek van die Lewe aan hom voorgehou word, trek hy selfs dié in twyfel, en hy sit sy soektog voort.
In ‘n sekere sin ‘n baie droewige boek, want jy wil die hele tyd vir Johannes sê: “Moenie jou kinderlike geloof weggooi nie! Dis so mooi!” en wanneer hy by die Boek verbykyk, dan wil jy vir hom skree: “Die Waarheid is hier reg onder jou neus! Gryp dit!” en dan voel jy so moedeloos as hy in die duister rondtas.
As matriekseun het ek die boek gelees, en dit het my aan die hart gegryp. Ek het dit verstaan, maar die groot les daaruit het ek nooit op my eie lewe toegepas nie, tot eers nege jaar later, toe ek ook in my soeke na die waarheid, uiteindelik die waarheid reg onder my neus ontdek.
Jy het sékerlik al ’n Sondagskoolafsluiting beleef, waar die dominee ’n punt daarvan maak om die kinders ‘n groot aandeel te gee in die Erediens. Die meelewendheid van hierdie ou kleintjies gryp jou aan die hart. Die kinderlike opregtheid en oorgawe waarmee hulle deelneem, laat trane van aandoening in jou oë. Selfs al ken hulle nie al die woorde nie, en al doen hulle soms die dinge totaal verkeerd, maak dit nie vir hulle saak nie. As ek as grootmens gevra word om dieselfde dinge te doen voor ‘n klomp mense, doen ek dit baie selfbewus met ‘n stywe nek, en gaan ek waarskynlik oor my eie voete val!
As volwassenes kan ons baie by die ou kleintjies leer. Jesus het hierdie waarheid gebruik as deel van Sy vierde groot preek. Eg kinderlike geloof kan jou aan die hart ruk. Ek het al menige sêgoed van kinders gekry in my e-pos, en wanneer jy daardeur lees, kom jy agter hoe opreg die kleintjies glo. Om dit te illustreer, wil ek ‘n storietjie gebruik wat iemand eendag vir my gestuur het.
Klein Jannie se ma vra hom om die besem op die stoep te gaan haal, maar toe Jannie by die deur uitloer, lyk die stoep vir hom verskriklik donker. Hy draai om: “Ma, ek is bang vir die donker!”
“Moenie bang wees nie, Jannie, Jesus is altyd by ons, en Hy is selfs op die donker stoep.” Mamma probeer vir Jannie ‘n waarheid leer.
Nét daar draai Jannie om, loop na die deur, maak dit op ‘n skrefie oop en sê: “Liewe Jesus, gee asseblief vir my die besem aan.”
Ons wil lag hieroor, want dit is mos nou absurd, maar so kinderlik opreg moet ons geloof wees. Dit is egter nie alleen kinderlike geloof waaroor Jesus hier praat met Sy dissipels nie. Hulle wou eintlik weet wie die belangrikste in die Koninkryk is. Kinders was in daardie tyd totaal geminag. Hulle het feitlik geen betekenis gehad in die samelewing nie, en was beslis nie beskou as belangrik nie. Vir Jesus se dissipels was daar egter gedurig ‘n gestryery oor wie van hulle twaalf nou eintlik die belangrikste is. Ek dink dat hulle met hierdie vraag vir Jesus wou probeer uitlok dat Hy ‘n beslissing gee. Hy moes dit vir eens en altyd uitklaar en sê dat Petrus of Johannes of wie ookal die belangrikste is.
En nét hier knyp Jesus hulle tjank af. Hy verduidelik dat hierdie geminagte kindertjies eintlik die héél belangrikste is! Ek dink hulle het maar bra bekaf gevoel!
So dikwels wil ons neersien op die “eenvoudiges” en verkleineer ons hulle menswaardigheid. Uit hierdie gedeelte leer ons ‘n baie waardevolle les, om niemand te minag nie. Gee aan die ou bedelaar dieselfde respek as wat jy vir die hooggeplaaste persoon sou gee. Hoe weet jy wat daardie persoon se omstandighede is? Hoe durf ek oordeel?
Onthou jy nog die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put? Jesus het Homself verneder deur te doen wat géén gerespekteerde Joodse man óóit sou doen nie, deur met haar te praat. Hy luister met groot deernis na haar. Hy stel intens in haar belang, en Hy veroordeel haar nie oor haar weggooi-lewe nie. Hy gee haar weer moed om in haarself te glo. Die gevolg was dat sy uit haar wegkruip-kokon gebreek het en met die mense gaan praat het wat haar verwerp het. En die hele dorp se mense het na Jesus gestroom oor haar getuienis.
Deur ‘n verworpe persoon te laat verstaan dat sy ook ‘n iemand is, het die wêreld vir haar oopgegaan. Dit kan ook gebeur wanneer ek en jy die “kleintjies” in die Koninkryk behandel asof hulle volwaardige mense is, geskep na die Beeld van God. Sodoende kan ons aan hulle menswaardigheid gee.
Gebed:
Here, dankie dat U aan my menswaardigheid gegee het - dat U my na U Beeld geskep het. Maak asseblief my oë oop sodat ek ander mense - veral die “kleintjies” in dieselfde lig sal sien.