Matteus 18:1-5
As voorgeskrewe boek vir Matriek, het ek ‘n Hollandse verhaal gehad met die titel: “De Klijne Johannes”. Hierdie eenvoudige verhaaltjie met ‘n baie diep betekenis het ‘n geweldige indruk op my gemaak! Dit handel oor ‘n klein seuntjie wat deur verskillende stadiums van sy opgroeiproses beweeg. As ‘n klein seuntjie glo hy onwrikbaar aan feetjies en al die mistieke wesentjies van die bos. Wanneer hy egter groter word, begin twyfel hom beetpak. Dan begin sy soektog na die “klein boekie,” die Boek van die Lewe. Uiteindelik begin hy alles en almal rondom hom in twyfel trek. Wanneer die ware Boek van die Lewe aan hom voorgehou word, trek hy selfs dié in twyfel en hy sit sy soektog voort.
In ‘n sekere sin ‘n baie droewige boek, want jy wil die hele tyd vir Johannes sê: “Moenie jou kinderlike geloof weggooi nie!” en wanneer hy by die Boek van die Lewe verbykyk, wil jy vir hom skree: “Die Waarheid is hier reg onder jou neus, gryp dit aan!”
Die verhaal het my aan die hart gegryp en ek het dit verstaan, maar die groot les daaruit het ek nooit op my eie lewe toegepas nie! Eers jare later, in my eie soeke het ek die waarheid reg onder my neus ontdek.
Dis Sondagskoolafsluiting en die kinders voer ‘n Kersfeestoneel op tydens die erediens. Die meelewendheid van hierdie ou kleintjies gryp jou aan die hart. Die kinderlike opregtheid en oorgawe waarmee hulle deelneem, laat trane van aandoening in jou oë. Een van die ou kleintjies sien die Jesus-pop raak. Sy gryp dit en hardloop daarmee weg. Dan volg totale chaos! As die ontvoerde “Jesus” teruggevind is, gaan die spel onverstoord voort met hope selfvertroue en die spel is uiteindelik ‘n reuse sukses, ten spyte van talle glipse!
Ons kan beslis baie by die ou kleintjies leer! Jesus het hierdie waarheid gebruik as deel van Sy vierde groot preek. Eg kinderlike geloof kan jou aan die hart gryp. Die dikwels skreeusnaakse sêgoed van kinders laat jou besef hoe opreg die kleintjies glo. Om dit te illustreer, wil ek ‘n storietjie gebruik wat ek eenmaal gehoor het.
Dis aand en klein Jannie se ma vra hom om die besem op die stoep te gaan haal, maar toe hy by die deur uitloer en die donker stoep sien, kom sy bewende stemmetjie: “Ma, ek is bang vir die donker!”
“Moenie bang wees nie Jannie, Jesus is altyd by ons en Hy is selfs op die donker stoep.”
Jannie draai om, loop na die deur en maak dit op ‘n skrefie oop: “Liewe Jesus, gee asseblief vir my die besem aan!”
Ons wil lag hieroor want dit is mos nou absurd, maar so kinderlik opreg moet ons geloof wees. Dit is egter nie alleen kinderlike geloof waaroor Jesus hier praat met Sy dissipels nie. Hulle wou eintlik weet wie die belangrikste in die Koninkryk is. Kinders was in daardie tyd totaal geminag. Hulle het feitlik geen betekenis gehad in die samelewing nie en was beslis nie beskou as belangrik nie. Vir Jesus se dissipels was daar egter gedurig ‘n gestryery oor wie van hulle twaalf nou eintlik die belangrikste is. Ek dink dat hulle met hierdie vraag vir Jesus wou probeer uitlok dat Hy ‘n beslissing gee. Hy moes dit vir eens en altyd uitklaar en sê dat Petrus of Johannes of wie ookal die belangrikste is.
Dan laat Jesus hulle skaamkry as Hy verduidelik dat nie een van húlle “belangrikes” nie, maar hierdie geminagte kindertjies eintlik die héél belangrikste is! Ek dink hulle het maar baie bekaf gevoel!
So dikwels wil ons neersien op die “eenvoudiges” en verkleineer ons hulle menswaardigheid. Uit hierdie gedeelte leer ons ‘n baie waardevolle les, om niemand te minag nie. Gee aan die ou bedelaar dieselfde respek as wat jy vir die hooggeplaaste persoon sou gee. Hoe weet jy wat daardie persoon se omstandighede is? Hoe durf ek oordeel?
Onthou jy nog die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put? Jesus het Homself verneder deur te doen wat géén gerespekteerde Joodse man óóit sou doen nie, deur met haar te praat. Hy luister met groot deernis na haar. Hy stel intens in haar belang en Hy veroordeel haar nie oor haar duistere lewe nie. Hy gee haar weer moed om in haarself te glo. Die gevolg was dat sy uit haar wegkruip-kokon gebreek het en met die mense gaan praat het wat haar verwerp het. En die hele dorp se mense het na Jesus gestroom oor haar getuienis!
Deur ‘n verworpe persoon te laat verstaan dat sy ook ‘n iemand is, het die wêreld vir haar oopgegaan. Dit kan ook gebeur wanneer ek en jy die “kleintjies” in die Koninkryk behandel asof hulle volwaardige mense is, geskep na die Beeld van God. Sodoende kan ons aan hulle menswaardigheid gee.
Gebed:
Here, dankie dat U aan my menswaardigheid gegee het - dat U my na U Beeld geskep het. Maak asseblief my oë oop sodat ek ander mense - veral die “kleintjies” in dieselfde lig sal sien!