Handelinge 2:37-47
‘n Reuse skare Jode drink die woorde van Petrus in. “Wat staan ons nou te doen?” is die vraag wat op almal se lippe is.
Petrus se boodskap is eenvoudig: “Bekeer julle, en word gedoop in Jesus se Naam!” Dit was die eenvoudige antwoord, toe die mense wou weet wat hulle te doen staan.
Die resultate was absoluut verstommend: Drieduisend mense het daardie dag tot bekering gekom, genoeg om ‘n groot pawiljoen vol te sit. Die miserabele groepie van 120 gelowiges wat die oggend bymekaargekom het, het skielik ‘n reuse skare van gelowiges geword, alles op een enkele dag. Nou is daar ‘n behóórlike fondament gelê vir die kerk van Jesus. En dit deur een enkele preek! Johannes se mond het behóórlik oopgehang!
Maar wag ‘n bietjie: hierdie preek was nou nie juis wat ‘n mens sou noem ‘n oratoriese meesterstuk nie! Dit was teen alle standaarde gemeet maar redelik power! Die antwoord lê in die wonderlike, onverklaarbare werking van die Heilige Gees. Petrus was gewillig om die Gees deur hom te laat werk, en dit was heeltemal goed genoeg.
Al wat die Here van jou en my vra, is om gewillig te wees, en onsself beskikbaar te stel. Hy, die Heilige Gees sal die res doen.
Die vraag is: wat kan ek as doodgewone mens doen? Ek weet nie eers waar om te begin om die evangelie te verkondig nie?
Die goeie nuus is dat elke gelowige, maak nie saak hóé ver hy op die geloofspad gevorder het nie, ten volle by magte is om die evangelie uit te dra. Ja, ook jy! Luister fyn na die Stem van die Heilige Gees, en wees gewillig om selfs die onbenulligste takie vir Hom te verrig. Aan die einde van die dag kan dit ontplof in ‘n reuse wonderwerk. Om maar net hierdie dagstukkies na iemand anders aan te stuur, is al klaar ‘n metode van evangelisasie! Die wêreld is honger vir die evangelie! En ‘n gesig wat blydskap toon kan ‘n hele kantoor vol mense beïnvloed en van Jesus vertel.
Vir Johannes en sy maats was Pinksterdag egter nie die einde van die pad nie, maar slegs die begin. Nou moes hulle die dinge wat Jesus hulle oor drie jaar geleer het, prakties gaan toepas en dit weer vir ander gelowiges leer.
Onder hulle leiding ontwikkel ‘n totale nuwe leefstyl. Dit was ‘n dinamiese, Geesvervulde gemeente wat hier aan die groei was.
Hoe het hierdie gemeenskap gelyk?
Hulle onderhou die leer van die apostels getrou. Wat beteken dit? Die leer van Johannes-hulle het gewentel om die persoon en werk van Jesus Christus, onder andere die verkondiging van die Woord van God. Jesus was dus die middelpunt van die mense se lewens.
Hulle was onderling aan mekaar verbonde. Daar is dus ‘n baie spesiale, splinternuwe band van liefde wat tussen die gelowiges gevorm het. Hulle is nou nie meer vreemdelinge nie, maar broers en susters, bloedfamilie binne die nuwe gesin van God.
Hulle het gemeenskaplike maaltye geniet. In daardie tyd was ‘n maaltyd baie meer as net om gou ‘n stukkie kos af te sluk, soos so dikwels vandag ons lot is. Dit was dikwels ‘n godsdienstige ritueel waar familie saam was en die kos ‘n geestelike betekenis gehad het. Hierdie nuwe gelowiges het die tradisies voortgesit, maar met ‘n heel nuwe betekenis. Tydens die maaltyd is daar gedink aan Jesus se groot offer, en veral ook aan die teenwoordigheid van die opgestane Here.
Dan was daar die kwessie van volgehoue gebed, wat ‘n kenmerk was van die gemeente. Waar die Gees aan die werk is, is gebed ‘n integrale deel van jou lewe.
Eensgesindheid is ‘n ander wonderlike kenmerk van hierdie gemeente. So heg het hierdie band geword, dat mense selfs bereid was om hulle besittings met mekaar te deel. Daar heers ware broederskap, want mense gee waarlik om vir mekaar, en hulle leef aktief hierdie omgee uit.
Ek dink, ek en jy het baie om te leer van hierdie eerste gemeente. Dit het tyd geword dat ons as gelowiges weer saamgebind word as die gesin van God, en dat ons familiebande ons nader aan mekaar trek. Dit help nie om maar net daaroor te filosofeer nie! Ons moet daadwerklik ‘n besluit neem en iets daaromtrent doen. As ons bereid is sal die Heilige Gees ons daarmee help. In ons gemeente het selgroepe alreeds daardie eerste tree geneem, en die hegte gesinsbande wat daar gesmee word is goud werd! Kom ons begin weer die “koinonia,” die spesiale band van liefde prakties uitleef in ons gemeentes.
Gebed:
Dankie Here, vir wonderlike herinneringe. Help ons asseblief om weer waarlik omgee-Christene te word.