Johannes 17:1-26
Jesus se laaste oomblikke in gesprek met Sy dissipels breek aan en Hy gebruik dit deur hulle in gebed aan die Vader op te dra. Hierdie Hoëpriesterlike gebed bestaan uit 4 fases: In die eerste deel (17:1-5) verklaar Jesus dat Sy werk op aarde afgehandel is en dat Hy nou gereed is om terug te keer hemel toe. In die tweede fase (v. 6-19) sê Jesus dat daar ‘n groep mense is wat Sy boodskap in geloof aanvaar het. Hy bid vir hulle en hulle behoeftes en dat die Vader hulle sal beskerm. Die derde deel van Jesus se gebed (v. 20-23) handel oor ander mense wat ook nog tot geloof in Hom gaan kom, dus oor die uitbreiding van die kerk. In die slotgedeelte (v. 24-26) vra Hy die Vader om al die gelowiges eendag te laat kom waar Hy nou heen gaan.
Die tyd van Jesus se verheerliking het aangebreek. Wat is die toppunt van Sy verheerliking? Die afgryslike kruisgebeure! Ons wil moeilik hieraan sluk, want is dit dan nie eintlik vernedering nie? As ons kyk na ons groot volkshelde - waarin kom hulle verheerliking na vore? Racheltjie de Beer se verheerliking het gekom toe sy in ‘n sneeustorm haar klere uitgetrek het om haar boetie se lewe te red. Sy het ‘n wrede ysdood gesterf, maar dit het haar ‘n held gemaak. Wolraad woltemade het ‘n held geword toe hy die ysige stormsee aangedurf het met sy perd om skipbreukelinge te red en sélf in die proses verdrink het. Jesus se verheerliking het nie gekom in Sy hemelvaart nie, maar in die versoeningsdaad aan die kruis, waar Hy die straf moes verduur vir die sondes van mense deur die eeue.
Dit was egter nie Sy enigste taak nie. Uit Sy gebed sien ons dat Hy na die aarde gestuur is as God se Gesant om die Vader aan die mensdom te kom openbaar. Voor Jesus se koms, het niemand ooit die voorreg gehad om God te kon sien nie. Moses het wel van aangesig tot aangesig met God verkeer, maar selfs toé het hy slegs Sy heerlikheid en glans beleef in die tent van samekoms. Wat hy daar ervaar het, kon hy slegs deel met ‘n klein deeltjie van die aarde se bevolking. In Jesus kon die mensdom God nou in lewende lywe sien en ervaar. Wat meer is, diegene wat Hom aanvaar in die geloof, word nou deel van God se gesin en hulle het die voorreg om Hom persoonlik te kan ken. Dit is dan ook die ware betekenis van die ewige lewe, om in die teenwoordigheid van God te kan leef. Is dit nie ‘n wonderlike gedagte nie? En nee, dit gebeur nie eers eendag nie, maar dit is reeds deel van elke gelowige se lewe!
Eintlik het Jesus se taak om God aan die mense bekend te stel alreeds duisende jare tevore begin. Abraham het alreeds iets hiervan ervaar, toe Jesus saam met twee engele aan hom verskyn het. Jesus het gereeld aan Moses verskyn en God aan hom voorgestel, sodat hy daardie kennis weer aan Israel kon oordra. Maar nou kom maak Jesus Homself openbaar aan álle mense en dra só die beeld van die Vader oor.
Daar is egter ‘n ander baie belangrike taak, naamlik om dit aan die mensdom bekend te maak dat hulle gered kan word. Diegene wat aan Hom behoort, kry die ewige lewe. Die wonderlike is dat ál hierdie mense uiteindelik na die Vader geneem sal word sodat hulle ook kan wees waar Jesus heen gaan.
Verlossing is suiwer genade en God doen ál die werk. Maar die mens het tóg ‘n klein aandeel hierin, om die besluit te maak of hy deel wil wees van God se gesin of nie. Dit is al! Regdeur hierdie Evangelie sien ons Jesus se oproep om daardie keuse te maak. Het jy dit al gedoen?
In die derde fase van Jesus se gebed, dra Hy Sy volgelinge wat moet agterbly aan die Vader op. Daar gaan baie eise aan hulle gestel word, en Jesus bid dat die Vader hulle veilig sal bewaar. Dit gaan egter nie net oor húlle nie, maar oor die Naam van God wat in gedrang is. Hulle is immers deel van God se gesin en daarom is hulle en GOD ineengeweef. Hulle belange vloei in mekaar. Daar is dus ‘n hegte eenheid tussen die gelowige en God. Uit hierdie eenheid behoort dit voort te vloei dat die kinders van God sal optree soos wat die Vader van Sy kinders verwag. Dit moet vir die wêreld daar buite baie duidelik wees Wie se kinders hulle werklik is. Daardie eenheid behoort al hegter en hegter te groei. Jesus bid dan ook spesifiek dat niemand hulle ooit uit daardie eenheid sal ruk nie.
‘n Kind van God kan egter nie net in homself en sy verbintenis met God gekeer wees nie. Die blye boodskap van verlossing moet ook uitgaan na die wêreld daar buite. Jesus stuur hulle dan juis die wêreld in (v. 18) om net soos Hy die Evangelie uit te basuin. Hulle moet dus nou die taak oorneem om die Vader aan die wêreld bekend te stel. Die gelowige moet as’t ware ‘n spieël wees wat God se beeld reflekteer.
Jesus bid ook vir eenheid, nie alleen dat gelowiges een met God sal wees nie, maar dat hulle gesamentlik as ‘n eenheid sal funksioneer. In hulle eenheid moet die eenheid tussen gelowige en God ook sigbaar word.
Laastens pleit Jesus dat Sy liefde ook deel sal wees van elke gelowige se lewe. Leef dus liefde uit!
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U ook vir my gebid het. Help my om altyd een te wees met U en my medegelowiges.