Filippense 4:10-20
Ek en Mosbolletjie was jonk getroud, ons eersteling pas ‘n volle jaar oud. Ryk was ons nie, maar ons het genoeg gehad. Toe moet ons hoor dat die familiebesigheid vir wie ons gewerk het bankrot was en ek was my werk kwyt. Ek was verslae! Maar die Here het voorsien en ek kry ‘n werk as bestuurder van ‘n Christelike boekwinkel in Welkom. Die winkel het nie juis wins gemaak nie, dus was my salaris maar bitter klein, maar ons kon oorleef. Ons het blyplek gekry op ‘n plaas buite Welkom.
Op ‘n dag kom Mosbolletjie die winkel ingestorm, asvaal geskrik. Haar beursie met ons hele maand se salaris in, is gesteel! Ek is verslae! Wat gaan ons maak? Dit was ‘n bitter lang maand en uiteindelik was daar net gladnie meer kos oor in die huis nie. Toe onthou ek van die turksvylaning op die plaas waarvan die vrugte net mooi lekker ryp begin word het. Vir die volgende week tot maandeinde oorleef die Nelle op turksvye! Eers baie later het ek gehoor dat turksvye jou dermkanaal kan verstop, maar die Here het ons deur hierdie krisis gedra. Daar sou later nog baie groter krisisse in my lewe kom, maar ek het ‘n waardevolle les geleer oor hoe die Here voorsien, dikwels uit totaal onverwagse oorde.
Die Here beloof ons as gelowiges nie ‘n bootjie wat op gladde waters voortseil nie. Om die waarheid te sê, ons word juis gewaarsku oor die swaarkry, vervolging en moeilike tye wat deel van ‘n gelowige se lewe kan wees. Maar onthou, dit is nie omdat jy gesondig het dat God jou straf met swaarkry nie! Mense wat baie naby aan die Here leef, is dikwels dié wat die swaarste getref word deur die ongeluk. Paulus is ‘n goeie voorbeeld daarvan. As daar nou een gelowige is wat kop en skouers bo alle gelowiges uitstaan, dan is dit Paulus. Tóg het die ongeluk hom bloots gery! Hy was gegésel, in kettings geboei in die tronk, met klippe half doodgegooi, verskeie kere die stad uitgejaag soos ’n sleg hond en vervolg deur sy mede-Jode. Hy het byna versuip toe sy skip gesink het en toe word hy boonop deur ’n dodelike slang gepik! Hierdie is maar net enkele van die dinge wat Paulus se lewe gehamer, gebeitel en ge-paneelklop het. Hy was die laaste klompie jare van sy lewe in ’n tronk opgesluit, voordat hy uiteindelik volgens oorlewering onthoof is deur die Romeine.
Dit is egter nie hierdie swaarkry waaroor Paulus praat nie, dit is sy stryd om genoeg geld te hê om maar net te kon oorleef. Paulus het nie in weelde geleef soos sommige suksesvolle evangeliste vandag nie. Daar was dikwels swaar tye waar hy letterlik moes hongerly. Nogtans was hy dankbaar vir elke bietjie wat sy kant toe gekom het en regdeur die Filippense-brief hoor ons die jubelende klanke van Paulus se blydskap, selfs deur die swaarkry heen.
Een ding leer ons egter van Paulus, dat ‘n gemeente verplig is om God se bedienaars te onderhou. Soms lê die Here ook iemand in ‘n gemeente se pad wat nie noodwendig die gemeente se leraar is nie, maar dalk ‘n sendeling wat iewers die Woord uitdra aan heidene, soos dit in Paulus se geval was. Dan durf jy nie nee sê en maar die gedagte afskud nie. Die gemeente in Filippi het die regte ding gedoen deur mildelik by te dra tot Paulus se lewensonderhoud terwyl hy in Rome in die tronk was. Deur hierdie bydrae het hulle dit help moontlik maak dat Paulus talle briewe kon skryf wat selfs tweeduisend jaar later steeds ‘n reuse impak maak op miljoene menselewens.
In ons gemeente moet ons baie mooi gaan dink hoe ons ons geld spandeer. Word dit gebruik om vir onsself die beste en mooiste kerkgebou in te rig? Gebruik ons dit om peperduur lugreëlingstelsels te installeer en pragtige behangsels en versiersels te maak? Of gebruik ons dit eerder om iewers ‘n sendeling te onderhou in ‘n verarmde gemeenskap of om uitreike te finansier na gebiede wat onbereik is deur die Woord?
In Durban het die situasie byvoorbeeld ontstaan waar die gemeente in die middestad uit ‘n handjievol brandarm oumense bestaan het wat gladnie die onderhoud van die kerkgebou of ‘n leraar kon bekostig nie. Boonop lê die veld daar braak vir bearbeiding onder straatkinders, vlugtelinge, werkloses, prostitute, jongmense ens. Maar fondse of mannekrag daarvoor het totaal ontbreek.
Al die NG gemeentes van die Durban omgewing het saamgestaan en die Durban Metropool Bediening in die lewe geroep. Die ou kerkgebou is strategies geleë in 'n plek waar die nood op sy hoogste is. Daar is hard saamgebid, gedink, beplan. Van oral het hulp begin instroom. Verskeie instansies van buite het kom inskakel om uiteindelik van hierdie kerkgebou 'n miernes van bedrywigheid te maak. Vandag word die evangelie daagliks daar aan duisende mense van alle volke, tale en nasies uitgedra.
Gebed:
Here, dankie dat U so mildelik in my eie behoeftes voorsien. Gee my asseblief ‘n passie in my hart om ook die nood daar buite raak te sien en iets daaraan te doen!