1 Timoteus 1:12-17
Dit gebeur dikwels in die lewe dat ek die een of ander opdrag kry. Die vraag is, wat maak ek met my opdrag? Die meeste van ons se eerste reaksie is dat ons verlede so sleg was dat ons dit nie kan waag om die opdrag uit te voer nie. Ons verlede mag ons dalk net inhaal!
Een so ‘n “opdrag” wat ek 18 jaar gelede gekry het, was om dagstukkies te skryf. My eerste reaksie was dat ek dit nooit sou regkry nie, en ek wou soos Jona van ouds weghardloop. Vandag het ek vir jou, liewe leser, ‘n “opdrag”. Nee, eintlik is dit ‘n versoek, ’n pleidooi om asseblief vir my name en adresse te gee van persone wat nog nie hierdie dagstukkies ontvang nie, en dit dalk baie graag sou wou kry.
Paulus het ook eenmaal ’n opdrag gekry, om Christene uit te roei en om die “Christensekte” totaal van die gesig van die aarde af te vee. Hulle was ’n gevaar vir die Joodse geloof. Sy opdrag om uit te roei het gekom van die kerkleiers van daardie tyd. Maar daar, op pad na Damaskus, kry hy ’n nuwe opdrag, dié slag nie van die kerkleiers nie, maar van die Here persoonlik. En sy opdrag is direk teen die intruksies van die kerkleiers in.
Paulus het tyd gehad om te dink oor die opdrag en die gevolge. Sou hy dit aanvaar, dan sou dit beteken dat hy alles waarvoor hy in die lewe gewerk het moes prysgee. Ja, hy was ’n gesiene man in die kringe van die Fariseërs, want hy het sy werk met groot passie gedoen. Onder die Skrifgeleerdes het hy ’n groot naam gehad, want hy het ’n deeglike studie van die Woord gedoen, en niemand kon hom vasvra nie.
Wanneer Paulus egter die opdrag kry om die Evangelie van Jesus te gaan verkondig, aanvaar hy dit met hart en siel, ten spyte van sy twyfelagtige verlede. Dit was nie maklik nie. Om die waarheid te sê: dit was bitter swaar! Al sy ou vriende verwerp hom summier en skryf hom af as nóg een wat gesneuwel het onder die invloed van die Christene. Aan die ander kant onthou die Christene maar alte goed hoedat hy hulle slegs ’n kort rukkie tevore wreed vervolg het. Toe hulle geliefde diaken, Stefanus vermoor is deur ’n klomp woedende Jode, was Paulus by, en hy het sy goedkeuring uitgespreek. Talle Christene sit opgesluit in smerige tronke as gevolg van die einste Paulus se toedoen. En nou wil hy vir hulle kom staan en preek? Dit moet ‘n set wees van die Fariseërs.......
Paulus se verlede het soos ‘n swaard oor sy kop gehang, maar hy het op die Here vertrou. En die getroue Vader se genade was oorgenoeg vir Paulus. Ja, dit het etlike jare geneem voordat Paulus uiteindelik ten volle aanvaar is, maar omdat hy krampagtig aan die hoop wat God hom gebied het vasgeklou het, het sy deursettingsvermoë uiteindelik vrugte afgewerp.
Die ongelooflike kennis wat hy opgedoen het van die Woord en die Wet, was vir Paulus van onskatbare waarde, en al daardie kennis het hy nou ingespan om die Evangelie te verkondig. Paulus het ‘n antwoord gehad vir elke argument, juis omdat hy die Joodse argumente so op die punte van sy vingers geken het. As Fariseër was dit immers dag-vir-dag in hom ingedril!
Maar hoe het Paulus dit alles reggekry? Vir hom was daar slegs een Dryfkrag wat hom deur alles gedra het, krag gegee en getroos het wanneer hy moedeloos was: Jesus. “Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.” So jubel Paulus dit uit tot lof van die Een wat hom nie alleen die opdrag gegee het nie, maar hom ook deur die uitvoering van die opdrag gedra het, ten spyte van sy verlede.
Vandag moet ek en jy onsself die vraag afvra: “Hoe staan dit met die opdrag wat die Here my gegee het?” My heel eerste gedagte toe ek die opdrag gekry het om dagstukkies te skryf, was om myself uit daardie situasie uit te wurm. Ek het selfs so ver gegaan om briewe te skryf aan 'n klomp predikante om te help. Maar die Here het beter geweet, en hy het daardie deur toegemaak sodat ek baie onwillig uit nood maar sélf moes begin skryf. Vandag kan ek God net loof en prys dat Hy my deur duisende dagstukkies gedra het en elke dag getrou was om die boodskap vir my te gee, boodskappe wat al duisende harte aangeraak het. En dit ten spyte van my twyfelagtige verlede en onvermoë. Natuurlik is ek nie perfek nie, en verontagsaam ek nog dikwels die Here se opdragte met allerhande verskonings.
Maar wat van jou? Ek weet nie wat die Here se opdrag aan jou is nie, maar jy sal weet! Probeer jy dalk skuil agter ‘n slegte verlede om uit die opdrag te kom? Dikwels is dit juis daardie verlede wat jou die kennis gee om met mense wat in dieselfde sonde vasgevang is te kan gesels, soos byvoorbeeld dwelmverslawing. My pleidooi is dat jy vandag biddend voor die Here sal gaan en jouself beskikbaar stel vir daardie opdrag wat dalk al jare in jou binneste maal. Hy is getrou, en Hy sal jou al die krag en kennis gee wat nodig is om daardie opdrag uit te voer - ek praat uit ondervinding!
Gebed:
Here, ek stel myself vandag tot U beskikking om U opdrag uit te voer. Maak my asseblief gewillig, en gee my die toerusting daarvoor.