Psalm 23
Al ooit gewonder hoe Psalm 23 gebeur het? Elke lied het iewers ‘n storie, is dit nie so nie?
‘n Frisgeboude jong seun met ‘n rooierige gelaat stap saam met sy troppie skape deur die klipperige veld naby die slaperige dorpie Betlehem – Isai se jongste seun, Dawid. Diep in gedagte neurie hy saggies ‘n wysie. Skielik sprei ‘n breë glimlag oor sy gesig: “Het hom!” skree hy vir homself. “Hierdie wysie gaan perfek pas!”
Dawid kyk tevrede na sy troppie skape, spekvet en in ‘n uitstekende kondisie. Hy is lief vir sy wollerige troppie en hy versorg hulle met oorgawe. Hy gaan sit op ‘n groot rots vanwaar hy presies kan sien waar elke skaap is. “Die HERE is my herder.....” sê hy hardop vir homself. “Ja, die HERE is MY Herder!”
Opgewonde trek hy baie versigtig ‘n snaarinstrument uit sy sak. Met geoefende vingers streel hy oor die snare van die lier. Stadig neem sy nuwe lied vorm aan: “Die HERE is my Herder!” Sy klokhelder stem sweef oor die verlate veld.
Dawid wéét hoeveel hý omgee vir sý skape en die blote gedagte dat die Here nog soveel méér vir hóm omgee bring trane van aandoening in sy oë. Sy oë speel oor sy kuddetjie. Hulle lyk so tevrede, so asof hulle alles het wat hulle nodig het. Dan tref die gedagte Dawid: “Maar ek het óók oorgenoeg! Ek ly beslis nie gebrek nie!” Die tweede lyntjie van sy lied het pas vorm gekry.
Haastig staan Dawid op en begin verder loop. Die skape volg kort op sy hakke. Skielik lê ‘n kleinerige kom voor hom, bedek met lowergroen gras. Die skape is opgewonde om by die sappige groenigheid uit te kom en Dawid gaan vly hom neer op die sagte, grastapyt.
“In groen weivelde laat Hy my rus....” sing hy. Dan spring hy ligvoets op om eers sy dors te gaan les by die yskoue, kristalhelder watertjie wat uit die rotswand borrel en ‘n spieëlgladde poeletjie voed. Weldra huppel die skape na die poeletjie en verlustig hulle in die lafenis.
Alles is so wonderlik rustig in hierdie stukkie paradys. “Na water waar daar rusplek is, lei Hy my.”
Dawid is opgewonde! “Hy gee my nuwe lewenskrag!” Die lewenslus borrel deur sy are as hy net dink aan die geweldige omvang van hierdie gedagte. Die Here gee hom inderdáád nuwe lewenskrag!
Dan spring Dawid op – tyd om aan te beweeg met sy skape as hy voor donker by sy slaapplek vir die aand wil kom. Hy voel egter ‘n beklemming om sy hart want voor wag daar vir hom ‘n baie gevaarlike stukkie pad. Hy moet deur ‘n nou kloof met hoë rotswande aan beide kante. Só nou en diep is hierdie kloof, dat dit sommer donker kan raak daar onder. En daar’s rowers! Maar Dawid weet: “Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.”
“Here,” bid hy hardop wanneer hy die kloof instap, “Ek is in U hande! Ek is nie bang nie want ek wéét dat wanneer ek deur hierdie gevaarlike kloof stap, dan is U elke tree van die pad saam met my!”
Dawid klem sy knuppel styf vas net vir ingeval..... hierdie stok het hom al uit baie benarde situasies gered!
Een van die skape skrik vir iets en dan spring hy om en hardloop holderstebolder tussen die trop deur. Voor hy egter konsternasie kan veroorsaak, haak Dawid hom blitsvinnig om die nek met sy herderstaf en bring hom saggies tot bedaring.
Dankbaar sien Dawid die helder sonskyn deurbreek aan die anderkant van die kloof.
“Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel!”
Voor Dawid vou die grasvlakte oop. Hier gaan hy vir die volgende paar dae met sy trop skape oorbly. Hy gaan vly hom neer in die skadu van ‘n doringboom. Skielik is hy rasend van die honger want daar was heeldag nog nie eers tyd om te dink aan kos nie. Hy maak die sak oop wat sy ma vir hom saamgegee het. Sy maag slaan eintlik bollemakiesie as die heerlike geure van die padkos sy neus tref. Daar is varsgebakte broodjies, heuningkoek in ‘n fles, olywe, gedroogde dadels......
Dis ‘n fees! Hy breek ‘n broodjie oop en druk ‘n stuk heuningkoek daarin. Hy kreun eintlik van pure lekkerkry as hy die eerste groot hap afbyt, met heuning wat om sy mondhoeke afdrup.
Dawid glimlag: “U dek vir my 'n tafel voor die oë van my teenstanders.”
‘n Spontane dankgebed borrel oor sy lippe: “Here, U is só goed vir my! My beker loop oor van al die goedheid wat U my gee! U oorlaai my met U wonderbare liefde! Here, ek wil nooit, óóit van U af weggaan nie. Ek wil net in U huis bly solank as wat ek lewe!”
Dan jubel Dawid: “U verfris my kop met olie; my beker loop oor. Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae!”
Spontaan trek hy sy lier nader en weldra sweef die soet klanke van sy welluidende stem oor die grasvlaktes:
“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen........
Gebed:
Here, mý Here, dankie dat ek ook soos Dawid kan weet: U is MY Herder en U gee my alles wat ek nodig het! Ek aanbid U, Here en ek wil nooit óóit sonder U wees nie!