Markus 12:28-34
Petrus lag in sy mou as hy die groepie Sadduseërs druipstert sien wegstap. Hulle het tog sékerlik nie gedink dat hulle die Meester sou vasvra nie? Sal hierdie spul addergebroedsels dan nóóit leer nie? Sy Rabbi het vir elke vraag van hulle tien antwoorde. Maar dan raak Petrus sommer weer warm onder die boordjie as hy die Skrifgeleerde sien aangeloop kom. Blykbaar het die man nie die boodskap gekry nie! Tot sy verbasing sien Petrus egter dat hierdie Skrifgeleerde nie bymotiewe het nie. Dit lyk asof hy eerlik ‘n antwoord soek as hy vir Jesus vra wat die grootste gebod is. Hierdie man het besef dat Jesus die Sadduseërs baie slim geantwoord het.
Eintlik is hierdie gladnie so ‘n dom vraag nie, want as ons die magdom wette waaronder die Jode gebuk moes gaan, in ag neem is dit ‘n vraag wat dalk op elke Jood se lippe kon hang. As daar tóg maar net een enkele wet was wat al die ander wette kon vervang!
Moses het vir die eerste keer die wet van God, die tien gebooie ontvang op die berg. Elke Jood moes stiptelik volgens hierdie wet leef om enigsins in aanmerking te kon kom vir die ewige lewe. Later is daar nog ‘n lang ry wette bygevoeg, soos wat hulle mag eet en wat nie. Die reinheidswette het dit weer duidelik uitgespel waaraan jy mag en nie mag raak nie, en wat jy mag doen en wat nie. En dan het die Fariseërs boonop nog ‘n streepsak-vol ekstra wette bygevoeg, net vir ingeval. Daar was ‘n volle 613 bepalings buiten die 10 gebooie! En dan het ons nog nie eers gepraat van al die offerandes en rituele nie. Daar was omtrent ‘n offer vir elke situasie. Vir die doodgewone Jood was hierdie dinge net eenvoudig te veel om te begryp. Selfs vir hierdie Skrifgeleerde het dit nou al een te veel geword! Is daar nie dalk nét miskien een enkele gebod wat almal kan vervang nie?
Jesus sien dadelik dat hierdie man geen bymotiewe het nie: “Die Here ons God is die enigste Here,” begin Hy. Dit is baie belangrik om te begryp dat daar slegs EEN God is. Dit onderskei dan ook die Joodse Godsdiens van al die ander godsdienste.
Jesus haal nou verder twee gebooie uit wat ewe belangrik is - die een kan nie sonder die ander gelees word nie. Die eerste kom uit Deuteronomium 6:4-5, wat sê dat jy jou volledige toewyding aan God alleen moet gee. Jy moet God dus liefhê met jou hele wese. Die tweede kom uit Levitikus 19:18, en dit lui dat mense mekaar moet liefhê, net soos wat hulle hulleself liefhet.
Die vraag is: Hoe kan twee gebooie al die ander vervang? Is dit ooit moontlik? Wat dan van die tien gebooie? Word dit dan nou nietig verklaar? Nee, géénsins! As ons mooi kyk na die tien gebooie, sien ons dat die eerste vier handel oor hoe ons God moet aanbid. As jy God werklik liefhet, is dit net natuurlik dat jy Hom alléén sal aanbid en dat daar géén ander gode in jou lewe sal wees nie. Daar sal niks tussen jou en God kom nie, want jy het Hom mos lief. En natúúrlik sal jy Sy wonderlike en heilige Naam mos eer! Jy sal nie Sy Naam ligtelik of spottend gebruik nie, veral nie as ‘n kragwoord nie (Oh my God!) Alles kan saamgevat word as liefde vir God.
Die laaste ses gebooie sê presies dieselfde in verband met ons medemens. As jy hom liefhet, sal jy sy eiendom respekteer en diefstal sal nie ‘n opsie wees nie. Jy sal hom op géén manier seermaak nie, nie eers gepraat van doodmaak nie. Egbreuk is iets wat bittere pyn veroorsaak. Ook dít sal nie ‘n opsie wees nie! En natuurlik sal jy nie iets sleg sê van enige iemand anders nie en beslis nie skinder van hom nie, want dit kan groot skade en pyn veroorsaak. En jou ouers? Jy sal aan hulle (én al jou meerderes) die nodige eerbied en respek betoon. Alles kom neer op liefde vir jou naaste.
Jesus het egter nie slegs in teorie hierdie saak gestel nie. Hy het dit prakties uitgeleef! Hy het inderwaarheid uit Sy pad gegaan om daardie naasteliefde op alle terreine uit te leef. Sodoende het Hy vir Sy volgelinge ‘n voorbeeld gestel van hoe ware naasteliefde lyk. Hy het die ekstra myl geloop en Homself afgesloof vir ander mense. Hy het siekes gesond gemaak, mense kos gegee, skares geleer. Hy was nederig, nie alleen teenoor Skrifgeleerdes en Fariseërs soos Nikodemus nie, maar ook teenoor doodgewone mense, selfs die uitgeworpenes van die samelewing! Hy het alles oorboord gegooi, selfs ’n goeie reputasie, deur Homself te meng met ‘n veragtelike Samaritaanse vrou met ‘n slegte reputasie en gehate tollenaars en hulle twyfelagtige sondaar-vriende.
Hierdie Skrifgeleerde het baie goed begryp wat Jesus gesê het. Hy het selfs verstaan dat dit belangriker is om jou naaste lief te hê as al die offerandes aan God. “Jy is nie ver van die Koninkryk van God af nie,” sê Jesus vir hom. Hierdie man het dalk beter verstaan waaroor dit gaan, selfs as Jesus se Apostels. Daar was nog net een ding wat in sy pad gestaan het om die ewige lewe te kon kry, een enkele eenvoudige treetjie: Hy moes in Jesus glo. Het hy ooit daardie tree geneem? Ons kan maar net raai.
Die vraag wat ek vanoggend in groot erns vir jou, liewe leser, wil vra, is of JY daardie finale tree gegee het? Baie wat vanoggend hierdie oordenking lees, het nog nie so ver gekom nie. Een enkele treetjie……...
Gebed:
Here, ek bid vir elkeen wat vanoggend hierdie oordenking lees, wat nog nie vir Jesus “Ja” gesê het nie. Plaas asseblief ‘n dringendheid in elke hart om Jesus se aanbod van die Ewige Lewe te aanvaar.