Die Groot Gebod

8 March, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Groot Gebod

Matteus 22:34-40

Johannes kan die Fariseërs nie lekker kleinkry nie: Hulle probeer vir Jesus vastrek met die een of ander slim vraag, en dan kry hulle ‘n vernederende loesing. Die volgende dag is hulle maar weer terug, en dan gebeur presies dieselfde. Maar dit is asof hulle so dikvellig is, dat hierdie pak slae hulle net vir ‘n rukkie bedwelm, maar dan kom hulle net weer terug vir nóg ‘n loesing. Dit lyk of hulle net nie kan leer nie!

Het hulle nou werklik gedink, na soveel keer wat hulle tweedebeste gekom het, dat hulle vir Jesus kon vastrek met ‘n strikvraag? Hierdie keer wil hulle weet wat die grootste gebod in die Wet is. Dit is nie asof hulle nie geweet het nie, want hulle het die wet agterstevoor uit hulle koppe geken. Hulle het egter tog só gehoop dat Jesus hierdie slag die verkeerde antwoord sou gee, en dan kon hulle Hom vastrek. Johannes wil eintlik uitbars van die lag, en hy wonder hoe Jesus hulle híérdie slag gaan antwoord?

Die arme Sadduseërs het so pas in die stof gebyt toe hulle Hom wou vasvra oor die lewe na die dood. Jesus het hulle meesterlik geantwoord en hulle druipstert weggestuur. Dit was óók vir die Fariseërs ‘n gevoelige slag, want alhoewel hulle nooit om dieselfde vuur sit nie, het hulle nou ‘n verenigde front teen Jesus gevorm. As die een wen, wen almal. Jesus het immers gekom en die hele Joodse Godsdiens op sy kop gekeer.

Toe die Wetskenner hierdie vraag vra, dink Johannes dadelik aan die honderde bykomstige wette en voorskrifte waarmee die einste Fariseërs die volk doodwurg. Watter een van hierdie talle wette is die belangrikste? Is daar ooit een wat uitstaan?

Jesus se antwoord steek regdeur die kern van die saak: Hy haal aan uit Deut. 6:5. Die grootste gebod is dat die hele mens - wil, gevoel en denke - op God gerig sal lewe. Natuurlik het die Skrifgeleerdes dit geweet, maar dan verras Jesus as Hy ook uit Lev. 19:18 aanhaal oor die houding teenoor jou medemens. Hy stel hierdie wet gelyk aan jou houding teenoor God, en saam is hulle die totale wil van God vir jou lewe. Hierdie twee gebooie is dus één, net soos wat ‘n mens nie die kop- en stertkant van ‘n muntstuk kan skei nie.

Vir Johannes gaan daar 'n lig op oor die volle implikasies van Jesus se antwoord. Oor die eerste helfte, die liefde vir God, is daar géén misverstande nie. Dit is oor die tweede helfte wat almal so kleitrap. Naasteliefde alleen is eintlik gladnie genoeg nie. Dit op sy eie is bloot humanistiese liefde, en die heidene bedryf dit ook! Naasteliefde word eers liefde wanneer jy dit in die lig van die liefde vir God spieël. Die belangrike is dat ons mekaar nét so lief moet hê soos Jesus óns liefhet. Eers dán ontdek jy ware naasteliefde. Jesus het vir ons ‘n voorbeeld gestel oor hoe om lief te hê. Dit was nie ‘n teoretiese lippetaal-liefde nie, maar 'n praktiese doen-liefde. Hy het prakties gegaan en Sy hele lewe gewy daaraan om mense se lewens te verander deur hulle die regte pad te leer, te wys en boonop om aan hulle onmiddellike nood aandag te gee - genesing, kos gee, vertroosting ens. Net so moet ons liefde nie alleen woorde wees nie, maar ‘n praktiese doen-liefde.

Ons moet dit ook baie duidelik verstaan dat hierdie kerngebod nie die “mindere” gebooie vir ons Christelike lewensstyl vervang nie. Inteendeel, alle ander voorskrifte moet eers gemeet en getoets word aan hierdie gebod. Wanneer ons byvoorbeeld die tien gebooie lees, sien ons telkens dat elke gebod (of voorskrif) gemeet kan word aan die liefdesgebod. Om dood te slaan is om liefdeloos op te tree. Egbreuk kom wanneer die liefde nie meer daar is nie of wanneer dit gekaap word. Diefstal is ‘n liefdelose aksie. Slegte begeertes veroorsaak dat jy dinge doen wat die liefde totaal oorboord gooi. Vals getuienis is eweneens liefdeloos, want dit kan bitter seer maak. En natuurlik is die eerste vier gebooie uit en uit ‘n uitleef van liefde teenoor God. Wanneer ons mooi oor hierdie wette gaan dink, dan sien ons ‘n baie groter prentjie van liefde.

Dit was juis die groot probleem met die Fariseërs. Die fout was nie dat hulle allerhande wetsvoorskrifte gehad het nie, maar dat hulle juis dít wat die heel swaarste by God geweeg het, naamlik die liefde, nêrens in hulle wette laat geld het nie. Vir hulle het dit gegaan oor die wette, en nie oor die mense agter die wette nie. Hulle het die wette tot in die fynste besonderhede uitgeleef sonder dat liefde êrens ‘n plek daarin gehad het.

Natuurlik moet ‘n Christen-gelowige se lewe gedissiplineerd wees, maar daar moet ‘n fyn balans wees, sodat dit nie rigied raak nie. Dit mag nooit gaan om ‘n wet ter wille van ‘n wet nie, maar ‘n wet wat jou verbind om God en jou naaste in liefde te dien. Dan natuurlik verder ook om jou liefde teenoor God en jou naaste ten volle uit te leef. Dit doen jy natuurlik nie uit plig nie, maar omdat dit diep uit jou hart uit kom uit dankbaarheid vir God se groot genade en onvoorwaardelike liefde teenoor jou.

Gebed:

Here, vul asseblief vandag my hele lewe met liefde, sodat dit sal oorborrel, en ek almal wat vandag oor my pad kom, se lewens sal aanraak met ’n alles-omvattende liefde.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026