Eksodus 32:1-35
Etlike mense wat baie naby aan God geleef het in die Bybelse tyd, moes veertig dae van afsondering deurmaak, meestal in die woestyn. Dis gewoonlik ‘n tyd van voorbereiding vir ‘n baie groot taak. Ons weet ook dat Jesus veertig dae en nagte in die woestyn deurgebring het kort voor die laaste drie jaar van Sy bediening. Nou gebeur dit ook met Moses. God beveel hom om die berg uit te klim tot heel bo. Die volksleiers, wat ‘n entjie saam was, sien vir Moses verdwyn in die wolk wat die berg omhul. En dan wag hulle. ‘n Dag gaan verby en Moses kom nie weer te voorskyn nie. Dit word twee dae, twee weke, en die volk begin onrustig raak. Hulle begin wonder of die stokou Moses ooit nog lewe?
Wat hulle egter nie besef het nie is dat daar op die berg iets baie groot besig was om te gebeur. Die Here praat met Moses, en Hy gee vir Moses talle voorskrifte wat die Tien Gebooie verklaar. Hy verduidelik ook vir Moses in fyn detail hoe die plek van aanbidding moet lyk en hoe die klere moet lyk van die priesters wat daar gaan dien. Elke item word noukeurig beskryf. Om alles te beseël moet Moses vir die Here twee plat klippe bring. Daarop skryf God met Sy eie vinger die getuienis neer. ‘n Volle veertig dae gaan intussen verby en dan gee die Here vir Moses die klippe en stuur hom terug na die volk.
Intussen is daar baie onheilighede besig om uit te broei aan die voet van die berg. Daar het ‘n gefluister opgegaan onder die Israeliete: “Waar bly Moses so lank?”
“Leef die ou man ooit nog?”
“Waarom hoor ons niks van hom nie?”
En dan dryf hulle vir Aäron in ‘n hoek: “Moses is weg - maak vir ons ‘n god!” dring die manne by hom aan.
En die grondlegger van die priesterdom stem in: “Bring julle goue oorbelle!” beveel hy, en baie gou heers daar ‘n feestelike stemming in die kamp van die Israeliete. Onder die kunstige hand van Moses se broer kry die beeld van ‘n bulkalf stadig vorm.
Dalk sou jy wil vra waar daar so baie goue oorbelle gekry is tussen ‘n klomp voormalige slawe? Die antwoord is eenvoudig: Voor hulle vertrek het die Israeliete goud en silwer en ander kosbaarhede van hulle Egiptiese bure geëis as geskenke.
Wanneer die bulkalf-beeld voltooi is rig Aäron dit op en hy bou ‘n altaar voor die beeld. “Môre vier ons fees vir die Here!” verkondig Aäron. En wát ‘n fees was dit nie! Al van vroegdag af is daar offerandes gebring, en dan begin die groot fees. Hulle onthou nog baie goed van die vrugbaarheidsrituele en hoe hulle kon fees vier in Egipte, en hier het dit dus ook baie jolig gegaan. Wellus en losbandigheid is aan die orde van die dag. Alle inhibisies word totaal vergeet. Al wat nou saak maak is hulle eie begeertes!
Maar bo op die berg is Moses besig met God. Dan sê die Here vir Moses iets wat hom yskoud laat word: “Moses, klim van die berg af, want jou volk het iets vreesliks gedoen!” Moses skrik hom asvaal - waar is Aäron dan? En dan sê die Here dat die volk Israel net eenvoudig nie wil saamwerk nie - hulle bly in opstand kom. “Ek wil hulle vernietig!” sê die Here, “Vir jou sal ek dan ‘n groot nasie maak.”
Alles lyk verlore. Is alles waardeur Abraham en Isak en Jakob is dan tot niet? Is dit die einde van Israel? Inderdaad is God almagtig. As Hy uit Abraham ‘n groot volk kon vorm binne slegs ‘n paar honderd jaar, kan Hy mos dieselfde met Moses doen. Maar Moses pleit by die Here vir die volk: “Asseblieftog, spaar hulle!” En dan luister God na Moses se gebed. Hy besluit om die volk te spaar.
Dit wys net weereens vir ons hoe kragtig gebed is. Hy luister na Moses en Hy luister na my en jou. Hy verander selfs Sy oordeel op grond van Moses se gebed. Ja, die Here luister na my en jou, selfs wanneer ons bid vir iemand wat dit nie verdien nie.
Wanneer Moses die berg afstap met die twee plat klippe in sy arms, kan hy nie glo wat hy sien nie. Van ver af hoor hy al die lawaai, en as hy by die kamp kom, sien hy hoe die spul skaamteloos rondom die goue kalf dans. Hy is rasend van woede, en dan gooi hy die twee klippe waarop God geskryf het dat hulle aan flarde spat. Die beeld word in die vuur gegooi en daarna fyn gemaal en in die drinkwater gegooi. Dan word die Israeliete gedwing om dit te drink. Aäron word voor stok gekry, maar hy pak die skuld op die volk: “Ek het maar net die goud in die vuur gegooi, en toe kom hierdie kalf daar uit.…!” Patetiese verduideliking!
En dan doen Moses iets amper onverstaanbaar: Hy klim op na die Here toe en gaan vra God se vergifnis namens die volk. “Vee maar my naam uit die Boek van die Lewe ter wille van hulle,” pleit Moses. Hy is bereid om sy eie lewe prys te gee vir hulle - die volk wat hom soveel hoofbrekens gee. Sal ek en jy bereid wees om so onselfsugtig op te tree soos Moses? Inderdaad het Jesus dit gedoen. Hy het Sy lewe opgeoffer aan die kruis sodat ek en jy die ewige lewe kan hê!
Gebed:
Here, dankie vir die voorbeeld van Moses. Leer my om ook so onselfsugtig te lewe!