Die Golwe Kring Uit

17 November, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Golwe Kring Uit

Amos 5:10-17

Video - Oudio

Van die middelpunt af begin ons nou weer een-vir-een die golwe kruis na buite. Die eerste kring wat ons oorsteek is die stand van reg. Dit voel dikwels asof jy jou teen ‘n muur van onreg vasloop. Moedeloos staan ons en toekyk wanneer die media of enkelinge in die politieke arena reuse korrupsie en onreg blootlê. Diegene wat egter die waarheid soek, word uitgekryt as moeilikheidmakers. Wanneer die waarheid nie meer welkom is nie, is dit ‘n simptoom van ‘n totaal korrupte gemeenskap. Ek hoef nie eers hierop uit te brei nie, almal weet waarvan ek praat.

Amos skryf van die arm mense wat vertrap word, terwyl diegene wat hulle laaste bietjie koring van hulle afpers in pragtige huise van gekapte klip woon, en wyn drink wat uit hulle lowergroen wingerde kom. Amos waarsku dan ook dat diegene wat hulle só aan magsmisbruik skuldig maak, alles gaan verloor, hulle luukse wonings én hulle wingerde. Dit was ‘n bose tyd waarin Amos geleef het. Maar is dit nie dalk nét so ‘n bose tyd waarin ons vandag leef nie? As gelowiges staan ons magteloos teen die verskriklike oormag van boosheid, en ons beste pogings is maar ‘n druppel in die emmer. Maar weet verseker: God sien alles! Die wiel draai, en Hy sal geregtigheid laat geskied. Daarom kan ons maar rustig wees daaroor, want dit is nie in ons hande nie, maar in Sy uiters bekwame hande.

Nou bereik ons die tweede golf met die tema: Soek die Here en Leef! “Probeer goed doen, nie verkeerd nie, dat julle kan lewe”, pleit Amos in vers 14. As kinders het ons “cowboys en crooks” gespeel, waar goed teen kwaad geveg het in ‘n verbete stryd. Die tema van goed teen kwaad kom tot uiting in William Shakespeare se klassieke werke, en word telkemale herhaal in duisende boeke en rolprente wat deur die jare vervaardig is, dink maar aan die onlangse treffer: Avatar. Maar ook in ons eie lewe speel daardie verskriklike stryd hom af. Daar is elke dag die konflik, en ek moet wilsbesluite neem, kies of ek sal toegee en die maklike, dikwels baie lekker pad  van kwaad (sonde) gaan loop, en of ek eerder gaan vasbyt en die regte ding doen, al verg dit van my baie inspanning en ongemak en selfs vervolging.

Om goed te doen, soos Amos by ons pleit, is nie maklik nie. Dit beteken in die eerste plek dat jy moet haat wat verkeerd is. Let wel: dit is nie die bose mense wat jy moet haat nie, maar die verkeerde dinge wat jou eie lewe kruis! ‘n Aandjie saam met die manne in ‘n ontkleeklub, klink na ‘n opwindende idee. My pêlle por my aan om saam te kom. Aag, dis tog mos net ‘n bietjie onskuldige pret! Dit kan soms moeilik wees om nee te sê. En as ek dan uit pligsgevoel weier, maar my hart is steeds saam met my maters, dan kon ek netsowel maar saamgegaan het! Dit vra dan eintlik van my om ‘n wilsbesluit te neem om sulke sondighede te haat. 

Alles kom eintlik neer op die regte verhouding met die Here, want daardie sondekol moet gevul word met iets totaal anders: liefde vir dít wat goed is. Wanneer dit die dag in my lewe gestalte kry, gebeur daar iets wonderliks met my: ek begin waarlik te lewe! Nou is dit nie meer wêreldse plesier en die materiële wat my gelukkig maak nie, maar die wonderlike blydskap wat alleen God kan gee wat my lewe vul.

Dit bring ons dan weereens by die buitenste kring: Dood en begrafnis. Amos beskryf ‘n treurmare: “Ag tog, ag tog!”, snik die bedroefde begrafnisgangers. Op die strate, op die vlaktes en selfs in die wingerde klink die klaagliedere van die treursangers op. So sien Amos dit in sy geestesoog gebeur as Israel nie gehoor gee aan die finale oproep van die Here om tot inkeer te kom nie. Die verskriklike oordeel van die Almagtige God sal hulle tref. Israel se begrafnis is op hande!

Hoe moet ek en jy as gelowiges hierdie profesie van Amos sien? Ons eerste reaksie is om dit met ons eie land, Suid-Afrika (of Australië, Amerika, Brittanje of waar jy ookal bly) te vergelyk, en dan presies dieselfde dinge raak te sien wat Amos beskryf van Israel. Natúúrlik mag ons nie blind wees vir die onreg wat so verskriklik seëvier in ons land nie. Ons moet dit raaksien, en ons durf nie daaroor stilbly nie. Ons moet ook bid vir ons leiers, dat hulle tot inkeer sal kom en die Here sal leer ken.

Maar die belangrikste is dat ek en jy persoonlik gaan introspeksie doen. Ek moet my eie lewe onder ‘n vergrootglas plaas sodat ek die verkeerde dinge daarin kan raaksien. ‘n Gelowige se lewe behoort gevul te wees met die heerlikheid van die Heilige Gees. Ongelukkig is ons lewens dikwels soos ‘n emmer vol sonde-klippe. Die Heilige Gees is wél daar, maar daar is so baie klippe in ons emmer dat daar min plek is vir Hom. As ons daardie sonde-klippe uitgooi, is dit slegs die Heilige Gees wat oorbly, en wat ons ganse lewe kan vul. Wat ‘n wonderlike gedagte. Kom ons maak plek vir Hom sodat ons voluit kan lewe tot eer van God!

Gebed:

Here, dankie vir die heerlike beloftes van oorvloedige lewe as ons in U bly. Help my ook om ‘n nuwe perspektief te kry en U te dien met alles in my.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026