Lukas 14:15-24
‘n Paar jaar gelede, tydens ‘n sendingfees in ons gemeente, voer ‘n groepie studente van ‘n sendingstasie in ons omgewing ‘n toneeltjie op. Dis die storie van ‘n welgestelde man wat besluit het om ‘n groot partytjie te hou. Hy doen baie moeite en spandeer baie geld om vir sy vriende ‘n onvergeetlike aand voor te berei. Toe alles gereed was, stuur hy sy skakelpersoon om al sy vriende te gaan haal. Toe hy by die eerste een kom, is sy so besig met gesprekke op haar selfoon, dat sy hom skaars kans gegee het om sy saak te stel. “Jammer”, was haar antwoord, “ek kan ongelukkig nie - ek is te besig!” ‘n Tweede was ‘n student was besig was om voor te berei vir eksamens, en sy kon haar nie losskeur van die boeke nie. Toe hy by ‘n beroemde model kom, was haar nuwe kontrak wat sy losgeslaan het belangriker as partytjies. En so moes hy uiteindelik die nuus aan sy baas oordra dat niemand sy fees kon of wou bywoon nie!
Die man was woedend! Tot die groot verbasing en frustrasie van sy skakelbeampte, stuur hy hom strate toe om die huisloses, straatkinders, bedelaars en boemelaars te gaan bymekaarmaak. En hét die spul uitgeworpenes van die lewe vir jou fees gevier! Daar was gejol, geëet en gesing tot laatnag toe!
‘n Moderne weergawe van Jesus se gelykenis wat Hy vertel het terwyl hulle aan tafel was by die vooraanstaande Fariseër se huis. As ons in Jesus se verhaal kyk na die verskonings wat die mense opgedis het, dan was nie ‘n enkele een onredelik nie. Maar as ons hulle ‘n bietjie nader onder die vergrootglas plaas, dan sal ons sien dat in elke geval dit die mense se besittings was wat vir hulle belangriker was as hulle vriendskap met die man. Die mense was selfsugtig, en daarom het hulle materialistiese belange voor verhoudings met ander mense gekom, selfs voor hulle vriende!
Terloops, die verskoning van die een wat aangevoer het dat hy pas getroud was en daarom nie kon kom nie, het hier ook met eiendom te make. ‘n Vrou was daardie jare as ‘n man se eiendom of besitting beskou!
Jesus vertel dat die man baie kwaad geword het omdat die mense hom so beledig het deur sy uitnodiging van die hand te wys. Hy het sy slaaf dringend uitgestuur om die uitgeworpenes op die strate bymekaar te maak vir die feesmaal. Hy het die slaaf selfs wéér ‘n tweede keer gestuur om buite die stad te gaan soek vir nóg mense. Hy moes enigeen wat hy in die hande kon kry, saambring en hy moes by hulle aandring om te kom! Ons sien ‘n besliste dringendheid in hierdie man se bevele. Daar was nie nog tyd vir uitnodigings stuur en mooipraatjies nie!
Wat moet ons maak van so ‘n storie? Hoe moet ons dit verstaan?
In die eerste plek het die verhaal gegaan vir die mense wat saam met Jesus aan tafel gesit het. Hulle was almal mense wat hulleself as “vriende van God” beskou het, want hulle was immers die kerkleiers en mense wat Bybelkennis gehad het. Hulle was egter ook die mense wat baie skepties was teenoor Jesus, en wat Hom uiteindelik sou verwerp en vervolg. Daarom rig Hy sy uitnodiging eerder aan die gewone mense en selfs nie-Jode, want hulle sóú Hom aanvaar!
Hierdie verhaal spreek egter ook vandág baie hard tot ons elkeen. Hoeveel tyd het ons werklik nog vir die Here? Hoeveel tyd spandeer ons elke dag in die teenwoordigheid van ons Vader? Ongelukkig het “tyd saam met God” vir die meeste gelowiges geword, ‘n vinnige skietgebedjie, twee versies uit ‘n Psalm lees en as daar nog tyd is, gou ‘n bladsytjie uit Oom Solly se dagstukkieboek te lees. Om erns te maak van stiltetyd en waarlik die Here se teenwoordigheid te soek - daarvoor is daar net eenvoudig nie tyd nie! Ons werk is baie belangrik en ons sloof ons af vir die baas, maar die Een wat wérklik belangrik is, kry net ‘n ou lekseltjie van ons tyd!
“Waar moet ek die tyd kry?” Deur net ‘n halfuur of ‘n uur vroeër op te staan, maak jy vir jouself oorgenoeg tyd. Vroegoggend, het ek gevind, is heerlik want dan is alles doodstil en daar is niemand wat jou pla nie. Dit is asof ek God se stem klokhelder en duidelik kan hoor in die oggendstilte. Persoonlik beleef ek Hom nog meer intens as ek neerskryf wat ek uit die Woord ervaar. Hierdie dagstukkies is elke oggend vir my persoonlik ‘n wonderlike avontuur wat ek beleef saam met my Vader. Daarom kan ek ook nie anders nie as om dit met die ganse wêreld te deel. Ek wil dit uitroep, uitbasuin dat die Here wonderlik is!
Die tyd wat ek soggens saam met die Here spandeer, het ook ‘n ander uitwerking: dit maak dat ek net eenvoudig nie kan wág dat dit Sondag moet word nie, want die erediens is vir my die hoogtepunt van die week. Ek wil dit vir niks op aarde misloop nie! Ek is opgewonde oor my belewenis met die Here, en dit is heerlik om dit te kan uitleef. Is jy ook opgewonde?
Gebed:
Here, elke dag saam met U is ‘n wonderlike fees. Dankie, dankie, dankie Here!