Die Engel by die Tigris

3 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Engel by die Tigris

Daniël 10:4-10

VIDEO | LUISTER

Die somer was aan die kom, en dit het beteken dat dit tyd geword het vir die Persiese koninklikes om hulle jaarlikse verskuiwing te doen. Van Babilon af trek hulle nou die vierhonderd kilometer na Ekbatana. Volgende winter trek hulle weer terug. Daniël het so pas drie weke lank met die Here geworstel, gebid en gevas. Maar nou is hy reeds op pad na sy somerbestemming. Die reuse kameelkaravaan kom by die drif deur die Tigrisrivier aan, en almal pak af vir ‘n blaaskansie. Hulle het alreeds ‘n honderd en twintig kilometer agter die blad, en die gryse ou Daniël se tagtigjarige sitvlak is letterlik deurgesit. ‘n Pragtige gesig - die Tigris. Daar lê nog ‘n volle week se reis voor anderkant hierdie mooi rivier.

Skielik kry Daniël ‘n eienaardige gewaarwording - daar is ‘n soort rammeling in die lug - iets onbeskryflik, soos wat hy nog nooit voorheen ervaar het nie. Daniël se hart klop in sy keel. Die klomp bygelowige heidene saam met hom is so vreesbevange dat hulle almal die hasepad kies - net weg van hierdie on-aardse plek. En dan sien Daniël hom - die man met die skitter-wit priesterkleed. Daniël skrik hom asvaal - dit kan maar net ‘n engel wees. By al die vorige geleenthede het hy slegs engele gesien in ‘n droom of visioen. Maar hier staan die engel voor hom in lewende lywe. Daniël voel hoe die bloed uit sy gesig en kop dreineer - hy voel bewerig. Wat sou dit beteken?

Om die engel te probeer beskryf is absoluut onmoontlik, want hoe kan jy iets beskryf wat jy voorheen nog nie gesien het nie: daardie gordel om sy middel - suiwer, skitterende goud - die héél beste kwaliteit. En die sneeuwit kleed - maar dit is nie die klere wat so besonders is nie - dit is die man sélf. Waar sy liggaam onder die kleed uitsteek, skitter sy vel soos ‘n kleurvolle edelsteen. Sy arms en bene lyk soos blinkgepoleerde brons. Daniël se mond hang oop, en hy bewe soos ‘n riet. Hy waag dit om die man in die gesig te kyk. Daniël skrik hom buite weste, want die gesig is, om die minste te sê, vreesaanjaend. Sy gesig flikker soos weerlig en sy oë spoeg vuur. Wat ‘n asemrowende heiligheid!

En dan begin die engel praat. Sy stem kan nie in menslike taal beskryf word nie - dit is soos ‘n diep dreuning van duisende-der-duisende mansstemme. Dit is die laaste strooi vir die arme Daniël. Hy voel hoedat sy knieë slap word. Sy kop draai, en hy val daar neer op sy gesig soos ‘n stuk lap. En daar is nie ‘n enkele mens in sig om die ou profeet te help nie, want teen hierdie tyd was sy bygelowige reisgenote al diep in die woestyn ingevlug. Die engel het nader getree en Daniël opgehelp. En daar staan Daniël, bewend soos ’n riet van angs en aandoening op sy hande en knieë.

Nie een van die mense wat saam met Daniël was het hierdie gesig aanskou nie, want almal het natuurlik weggehol. Waarom? Dit was ‘n heilige oomblik, en God wou alleen praat met Daniël. Daarom het Hy eers die plek “skoongevee” en ontslae geraak van al die goddelose heidene.

Daar is ook ander vrae: Wie was hierdie engel? Daaroor kan ons vandag maar net spekuleer, want Daniël sê nie vir ons nie. Ek dink dat hy só aangegryp was deur die grootheid van die gebeure, dat hierdie detail nie eers by hom opgekom het nie. Party geleerdes sê dat dit Gabriël was; ander wil selfs beweer dat dit “die Engel van die Here”, Christus was. Hoe dit ookal sy - dit bly net spekulasies…...

Die ander vraag wat opkom, is waarom Daniël dan so beangs was? Ja, Daniël was iemand wat baie naby aan God geleef het. Nogtans is die sonde wat hy sekerlik ook maar ervaar het, ‘n muur tussen hom en die onbeskryflike heiligheid van God. As hy dan van aangesig tot aangesig met hierdie heiligheid kom, dan is dit een té veel vir sy sondige menslikheid. Hoe diep het ons as mense nie in die sonde verval nie! Adam het nog vreesloos en vryelik saam met God gewandel en verkeer. Die verwydering wat die sonde gebring het is egter so groot dat selfs die heilige Daniël nie eers net ‘n ou klein stukkie van God se glans kan verwerk nie!

Watter wonderlike voorreg het ek en jy nie vandag nie. Jesus het gekom en alles verander. Hy het die skeidsmuur tussen ons en God kom verwyder. Daardie ondeurdringbare voorhangsel in die tempel wat God van die mens geskei het, het van bo na onder middeldeur geskeur sodat die skeiding vir ewig weg is. Nou is dit nie meer nodig om deur middel van skrikwekkende engele met God ‘n gesprek te voer nie, want Jesus is die Middelaar tussen ons en God. En wat meer is: nou hoef ons ook nie te wag vir spesiale geleenthede om met Hom te praat nie - elke oomblik van die dag is Hy daar, en op enige plek en tyd en situasie kan ons met Hom gesels. Ons hoef ook nie meer ons boeglam te skrik as ons Sy stem hoor nie - die sagte stem van die Heilige Gees praat heeldag met ons. Al wat ek en jy moet doen om daardie heerlike, soet stem te hoor, is om ingesteld te wees daarop.

Gebed:

Here, dankie dat U nie vandag met ons praat in ‘n skrikwekkende stem nie, en dat ek met U kan gesels!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026