Daniël 5:1-16
Nebukadnesar word opgevolg deur koning Belsasar - ‘n man wat gewéét het van partytjie-hou. Hy hou ‘n dinee waarnatoe ‘n duisend van sy top-amptenare uitgenooi was. Natuurlik, soos op elke goeie partytjie, was daar oorgenoeg wyn, en algaande het die dinee in ‘n gesuip ontaard. Lekker aangeklam, gee Belsasar die opdrag dat die goue en silwer bekers wat sy voorganger uit die tempel in Jerusalem gebuit het, laat haal word. En dan word hierdie artikels wat bedoel was om God mee te dien, misbruik as almal op die partytjie vrolik uit dit drink. Dit is soos om ‘n wilde partytjie te gooi, en dan die nagmaalkelkies en bekers uit die kerk te loop haal, en daaruit te suip. Nee, die kelkies is nie “heilig” nie, maar deur die aksie sê jy vir God dat jy niks vir Hom omgee nie, want dié dinge wat gebruik word om Jesus se kruisdood mee te gedenk, word terselfdertyd nou ook gebruik om die god van drank, Bacchus te vereer! En dit is presies wat gebeur op Belsasar se partytjie, want toe God se bekers uitkom, toe begin hulle die afgode aanbid! En nie net een of twee nie: Die skrywer maak dit duidelik dat hulle deur die hele kaboel draf (gode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip). Vir almal skree hulle “Hoeraa!”, buiten natuurlik vir dié Een Wie se bekers dit is - die enigste ware God.
Sou God daarmee tevrede wees? Sou Hy dit sommer maar net so ongesiens, ongestraf laat verbygaan?
Meteens kom daar ‘n wending in die verhaal. Skielik hou die wilde musiek eensklaps op; die verleidelike danseresse staak hulle wriemelinge en daar sak ‘n geskokte stilte oor die banketsaal toe. Regoor die kandelaar het ‘n hand verskyn wat in die lug hang, en die hand begin vreemde woorde op die witgekalkte muur skryf. Belsasar skrik hom asvaal en skoon nugter. Onmiddellik besef hy dat hierdie ‘n Goddelike verskynsel is, en dat dít wat teen die muur geskryf word alleen ‘n Goddelike boodskap kan wees.
Die koning is doodsbenoud. Hy laat roep al die sterrekykers, voorspellers en besweerders om te kom help. Hulle móét net eenvoudig hierdie boodskap vir hom uitlê! Só benoud is Belsasar, dat hy belowe dat die een wat dit kan uitlê “’n koninklike kleed en goue halsketting” sal kry, en boonop as derde in rang in die koninkryk aangestel word.
Die slim manne het hulle oë op skrefies getrek, gekyk en wéér gekyk, maar hulle kon nie eers uitmaak wat daar geskrywe staan nie - wat nog van die boodskap uitlê. Absoluut niks maak sin nie! Nou is Belsasar doodsbleek - wit soos ‘n laken. Wat gaan hy maak? Selfs die hoofamptenare staan verslae. Gaan hierdie boodskap vir ewig by hom spook? Gaan hy ooit iemand kry wat dit kan oplos?
Vrae, vrae, vrae......
En dan kom die koningin ingestap, en sy red die hopelose situasie: “Moenie so bang en bleek wees nie.”, paai sy die bibberende koning. Daar ís iemand in die koninkryk wat dit kan oplos: Daniël! Sy vertel vir hom dat die “die gees van die heilige gode” in Daniël is, en dat hy deur Nebukadnesar gebruik is en baie hoog aangestel is. “Laat haal vir Daniël, en hy sal vir u die uitleg gee”, por sy vir Belsasar aan.
‘n Mens wonder dalk waarom Daniël nie op hierdie dinee was nie. Hy was immers een van die hoogste amptenare van die koninkryk! Sou dit dalk wees dat hy hom nie wou ophou met sulke wêreldse goed nie? ‘n Gesuip het hom net eenvoudig nie aangestaan nie!
Daniël word laat haal, en die koning kry sy asem terug: “Is jy die Daniël uit die Judese ballinge?” Hy wil eers dóódseker maak dat hy die regte man hier het. Maar hy gee Daniël nie eers kans om te antwoord nie, en hy babbel voort en vertel vir hom wat gebeur het, en van al sy slim manne wat nie kan hond haaraf maak met hierdie boodskap nie en dat hy gehoor het dat Daniël só goed is met dinge uitlê en probleme ontrafel en dat hy hom ‘n koninklike kleed en goue ketting sal gee en derde in die ryk aanstel as hy tóg maar net hierdie boodskap kan uitlê…...
Ek dink die arme Daniël het sprakeloos daar voor die koning gestaan, en hoe harder hy probeer om ‘n woordjie in te kry, hoe meer hou die benoude koning aan babbel.
Maar hier moet ons die verhaal eers stop, want die bladsy raak vol. DV gaan ons môre verder en kyk wat Daniël se antwoord was.
Ek kan net nie help om te dink aan al die Kerspartytjies wat al weer oor ‘n paar maande op hande is, wanneer ek hierdie verhaal lees nie. Wilde kantoorpartytjies, waar daar gesuip gaan word soos visse, en waar die baas opgehemel gaan word en almal hulle oor ‘n mik gaan vreet, want die kos is verniet! En intussen word Jesus Christus se heilige Naam gekoppel aan hierdie afskuwelike brassery! Kersfees is immers die Christusfees! Is dit nie dalk presies dieselfde as Belsasar se dinee nie? Dink maar daaroor.......
Gebed:
Here, ons wil vanoggend bely dat ons U heilige Naam so dikwels misbruik, en U heiligheid vertrap. Vergewe ons, en lei ons op die regte pad!