Johannes 11:1-16
Dis weer een van dáárdie dae! Petrus en sy maters het hulle hande vol om die reuse skare mense in toom te hou wat almal tegelyk Jesus se aandag nodig het. En nes dinge op die besigste is, kom daar 'n man uitasem aangehardloop en wurm homself tussen die mense deur om by Jesus uit te kom. "Wag jou beurt af!" wil Petrus vir die man skree, maar dan sien hy dat die kêrel vodde gehardloop is. Hy is só moeg dat hy skaars kan praat en dit lyk of hy nét daar sou inmekaarsak!
"Dis Lasarus, U vriend," hyg hy uitasem. "Hy is baie siek, ek dink hy gaan sterf!"
Petrus skrik groot want hy weet hoe lief Jesus hierdie gesin het. Lasarus woon saam met sy twee susters Marta en Maria in die dorpie Betanië, net buite Jerusalem. Dis mos Maria wat die kosbare albasteflessie reukolie gebreek het en die inhoud daarvan op Jesus se voete uitgegooi het. Petrus onthou nog hoe kwaad Judas daaroor was, want daardie olie was glo ‘n hele jaar se salaris werd - wat ‘n vermorsing! Maar Maria het doodeenvoudig voortgegaan en Jesus se voete met haar los hare afgedroog - ‘n wonderlike daad van liefde! Petrus glimlag.....
Dan word hy teruggeruk na die huidige - daar is gróót nood - Lasarus is dodelik siek en Jesus is sy enigste hoop. Daar's egter ‘n probleem, want Jesus en Sy dissipels moes inderhaas vlug vir die Jode en hulle is nou in die landstreek Perea, oorkant die Jordaan. Dit moes die arme boodskapper 'n volle twee dae se baie vinnige stap gekos het om hier uit te kom en dit gaan hulle minstens 'n verdere twee dae neem om in Betanië te kom! Teen daardie tyd is die man seker al dood!
Petrus voel skoon siek. Sou hulle ooit betyds kan wees? Sou Jesus dit ooit waag om terug te gaan om Sy vriend gesond te maak? Dis mos lewensgevaarlik vir Hom! Die Jode sal Hom hierdie slag beslis nie weer laat wegkom nie! Eintlik kan Jesus mos maar net die woord spreek, en Lasarus sal gesond wees! Dis mos wat Hy gedoen het met die soldaat se seun! Petrus en sy maters is baie bekommerd - wat gaan hulle Meester doen?
Jesus is egter rustig. Hy glimlag gerusstellend vir die boodskapper: "Toemaar vriend, hierdie siekte lei nie tot die dood nie, maar tot die verheerliking van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word."
En Hy gaan, tot Petrus se groot ontsteltenis rustig voort om te preek en siekes gesond te maak!
Petrus verstaan alweer gladnie! Boonop bereik sy frustrasievlakke 'n hoogtepunt!
Twee dae later roep Jesus die manne bymekaar: “Ons gaan na Judea toe.”
Petrus skrik hom yskoud. Hoe kan Jesus so ‘n onverantwoordelike ding wil staan en doen? Dis mos om Sy eie dood te soek! Die Jode sal Hom verséker daar in die hande kry en dan is dit klaarpraat! Jesus bly egter vasberade - Hy wíl na Betanië toe gaan!
Dan sê Jesus iets wat Petrus nóg minder verstaan: “Ons vriend Lasarus slaap, maar ek gaan om hom wakker te maak.”
"Wat bedoel Hy hiermee?" wonder Petrus. "Lasarus is sékerlik al lankal dood teen hierdie tyd! Hoe kan Hy dan sê dat Lasarus net slaap?"
Vir Petrus en sy maters is die dood ‘n verskrikking - dis die einde van die pad! Daar kom alles uiteindelik tot stilstand! Dis klaar! Dis verby! Wat hulle egter nie besef nie, is dat vir Jesus die dood so gering is soos wat dit is vir iemand om te slaap. Hy beleef die dood baie anders as hulle en dis slegs die poort na die nuwe lewe wat vir ewig aanhou. Dit is dus niks meer as ‘n doodgewone slapie nie en wanneer jy wakker word, is jy aan die anderkant van die poort! Aan daardie kant van die poort is dit boonop asemrowend mooi en skoon en rein en wonderlik!
Natuurlik verstaan Petrus-hulle Hom alwéér totaal verkeerd. As ‘n siek persoon slaap, is sy kanse op herstel soveel groter. Dit is dus mos nou nie meer nodig vir hulle om na Betanië te gaan nie? Maar Jesus help hulle reg: nee, Lasarus is wél reeds dood en dit ís nodig om daarheen te gaan. En dan sê Jesus nóg ‘n onverstaanbare ding, dat Hy bly is dat Hy nie daar was met Lasarus se afsterwe nie.
"Waarom sou Hy dit sê? En waarom het Hy dan nog ‘n volle twee dae se tyd verkwis terwyl Hy geweet het dat Lasarus al klaar dood was?" wonder Petrus. "Nou gaan dit ons nóg ‘n verdere twee dae neem om in Betanië te kom! Die arme Lasarus se lyk gaan in daardie hitte dan al lankal ontbind wees!"
Weereens was daar ‘n baie goeie rede vir Jesus se optrede. Die geloof daardie tyd was dat iemand se siel nie dadelik sy liggaam verlaat het wanneer hy sterf nie. Die siel het daar bly rondhang, net vir die wis en die onwis. Eers wanneer die liggaam begin ontbind, sou die siel na die “onderwêreld” vertrek.
Jesus wou verseker dat almal sou weet dat Lasarus onherroeplik dood was en dat niemand sou kon sê dat sy siel nog in die omgewing was nie. Dan sou niemand kon sê dat dit nie ‘n wonderwerk van God was nie. Thomas se moedelose reaksie was: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe”. Hoe ironies dat toe Jesus vir Lasarus lewe gee, dit juis die laaste strooi was vir die Jode om Hom om die lewe te bring. Jesus se handeling het egter nie alleen vir Lasarus lewe gegee nie, maar ook die ewige lewe aan Sy dissipels, asook aan elkeen wat in Hom glo!
Gebed:
Here, dankie dat ek vandag kan weet dat ek selfs vir die dood nie eers hoef te vrees nie, want U hou my styf vas!