Die Dag van die Here

21 June, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Dag van die Here

Joël 2:1-11

VIDEO | OUDIO

In die vorige dagstukkie het ek die verskriklike droogte in die Laeveld beskryf. Na die snikhete dag waar die verskroeiende wind my asem uit my gewurg het, kom die onheilspellende windstilte. Die Laeveld wag met opgehoue asem op dit wat nou kan volg.

Eers is dit ‘n klein wit wolkie, maar dan begin dit groei totdat daar op die horison ‘n kookpot is van malende wolke wat al hoe donkerder word. Die wind begin opsteek en maak verstikkende stofdwarrels. Daar is nie ‘n dier of voël in sig nie, almal kruip weg. Binne ‘n halfuur is die son gesluier agter die woedende wolke wat kook en draai en borrel. Weerligte begin in die verte die pikswart wolke deurklief asof hulle stukkend geskeur word.

‘n Onheilspellende rammeling vul die atmosfeer. Skielik kom daar rukwinde wat in vlae van alle kante die kaal bome se takke woes rondpluk. Een van die stoepstoele verloor sy greep op die aarde en waai tuimelend tot in die rosyntjiebos. ‘n Oorverdowende donderslag laat my ‘n lelike woord sê van skrik. ‘n Verstikkende duisternis sak oor ons toe en dit voel asof dit nag is!

Dan gebeur alles gelyk. Weerligstraal op weerligstraal klief deur die lug. Angswekkende donderslae omklem my hart met angs. Enkele groot reëndruppels spat in die poeierstof. Ons vlug die huis in om weg te kom van hierdie verwoestende storm. Stof sif neer op ons uit die grasdak, losgeruk deur die loeiende wind. Groot haelkorrels klap soos koeëls waar hulle op die kaal, klipperige grond val. Ek druk my ore toe om die verskriklike geraas uit te hou maar dit help niks, want ek voel die hartverskeurende donderslae deur my lyf - dwarsdeur my hele liggaam!

‘n Halfuur later is alles verby. Ons gaan uit om te kyk wat die skade is. Oral lê stukkendgeslaande takkies. Droë takke is met geweld van bome losgeruk en stukkend gesmyt. Ons wasgoed wat aan die draad gehang het is in ‘n gemors - sommige hang verskeur iewers in die veld aan doringbome. Daar was nie nog tyd om aan die wasgoed te dink nie. Dit lyk of ‘n orkaan die bos getref het.

Maar ek wil huil van frustrasie want die paar druppels wat geval het, het die smagtende grond skaars stofnat gemaak. Wanneer sal daar ooit uitkoms wees?

Die profeet skryf in Joël 2:1,2 dat die wagte op die muurtorings op hulle ramshorings moet blaas want die gevaar is op hulle. Die dag van die Here is naby - ‘n stikdonker dag van verskrikking. Die profeet gebruik die beeld van ‘n leërmag om die koms van die sprinkaanswerms te beskryf - skrikwekkend, vreesaanjaend! Hulle gaan soos ‘n vuur alles voor hulle verteer. Dit sal klink soos die galop van duisende ryperde wat op kommando is. Dit sal dreun soos strydwaens tydens ‘n groot veldslag. Knetterend, dreunend - ‘n groot rumoer - so beur hierdie onstuitbare mag van God vorentoe, oor die bergtoppe dreun dit voort. Hulle oorstroom die stad en sypel selfs deur die vensters die huise binne.

So skrikwekkend is hierdie inval dat die hele kosmos, die aarde, hemel, son, maan en sterre in angs daarvoor bewe. Die son en maan word donker en die sterre verloor hulle glans.

En dan kom die klimaks van hierdie gedeelte, waar Joël dit uitskree sodat sy stem weergalm deur die klowe van die land: Dit is die Here wat voor hierdie leërmag uittrek. Hy is persoonlik die Bevelvoerder. Hierdie ontsaglike groot leër van Hom doen presies net wat Hy hulle beveel. Hulle is onstuitbaar sterk!

Die perikoop word afgesluit met Joël se vraag: “Voorwaar, die dag van die Here is groot, uitermate verskriklik – wie kan dit verduur?” (v. 11)

Vandag, as ons hierdie angswekkende deel lees, moet ons besef dat ons volk net so ver van God afgedwaal het as Israel van ouds. Dit is suiwer onverstaanbare genade dat God nog nie in toorn op ons volk losgebrand het nie. Maar dan weet ons dat Hy ‘n God van liefde en genade is, want as ons die volgende versie (v. 12) lees, dan sien ons Sy oneindige genade en dat Hy maar net vra dat ons weer na Hom sal terugkeer. Hieroor gaan ons DV in die volgende dagstukkie gesels.

Die groot ding is egter nou, dat ek as gelowige nie maar net moet vinger wys na al die “slegte” mense in ons land nie. Maar dat ek sal introspeksie doen en my eie lewe onder die vergrootglas plaas. Leef ek werklik soos wat die Here dit van my vra? Is my liefde nie dalk maar net ‘n ritueel nie?

Ons moet egter ook hierdie gedeelte in 'n Nuwe Testamentiese perspektief sien in God se verlossing deur Jesus Christus. In die Ou Testament is God se straf deur middel van oorlog en natuurrampe. In die Nuwe Testament ontvang Jesus God se straf en nou is Sy straf voltooi. Ons kan nie rampe en teenspoed as ‘n straf van God beskou nie. Die Ou Testamentiese dag van die Here, is Nuwe Testamenties die wederkoms en finale oordeel. Vir gelowiges egter, finale bevestiging van ons vryspraak. Ons kan vandag slegs die Ou Testament lees deur die bril van wat God in Jesus Christus gedoen het.

Gebed:

Here, wys my asseblief waar my lewe tekort skiet en help my om dit reg te stel!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026