Die Brief

13 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Brief

Openbaring 1:1-6

Briewe, regte egte briewe, geskryf met die hand deur ‘n geliefde dóér ver iewers, en met ‘n posseël op die koevert! Gróót lekkerte! Nostalgie!

Dis Saterdagoggend, en ek ry saam met Oupa dorp toe, na Waterval Boven om sy rondtes te gaan doen. Eers die bakhuis waar hy ‘n kan melk verruil vir twee kraakvars witbrode. Volgende stop is die hoogtepunt, die poskantoortjie, ‘n pragtige ou klipgebou. Oupa maak die posbus leeg, en nét daar staan hy eers en lees al die briewe smaakvol deur. Hy is só nuuskierig dat hy nie nog kan wag tot hy eers by die huis is nie.

Jare later lê ek in ‘n weermagtentjie naby Potchefstroom in die veld, en ek lees die brief wat ek die dag gekry het stukkend. Ek is vrek verlief, en baie ver van my Mosbolletjie af. By die flou liggie van die paraffienlantêrn skryf ek weer terug oor al my ervaringe. En natúúrlik oor hoe verskriklik lief ek vir haar is! O, die soet herinneringe, vir altyd vasgevang op papier.

Openbaring is ‘n apokalips, maar anders as enige van die ander soortgelyke geskrif, is dit in brief-vorm, kompleet met briefaanhef en ’n briefslot. Die brief word geskryf aan die sewe gemeentes van Asië, en die skrywer sê dit kom van Johannes af. Daar is dus ‘n baie intieme band tussen die skrywer en die lesers, en hy het hulle omstandighede baie goed geken.

Hierdie brief van Johannes is egter nie sommer maar die gewone ou brief waar daar oor ditjies en datjies geskryf word nie. Reg van die eerste verse af is dit gepak met simboliek. Die getal “sewe” speel ‘n baie groot rol. Byvoorbeeld, sewe gemeentes van Asië, waar die getal “sewe” daarin die volmaakte getal beteken, en dit wil dus sê dat dit aan AL die Christelike gemeentes deur die eeue gerig is. Dus ook aan JOU gemeente vandag! Ek moet dus besef dat die harde woorde wat gesê word dalk ook op MY van toepassing is, en dit moet my beweeg om introspeksie te doen.

In die voorwoord verduidelik Johannes kortliks waar die brief sy ontstaan gekry het. God het die openbaring aan Jesus gegee. Hy het dit weer vir Sy engel gegee om dit aan Johannes te oorhandig sodat hy dit aan die “sewe gemeentes” kan bekendmaak. Die openbaring gaan oor die dinge “wat binnekort moet gebeur”, die voltrekking van God se oordeel oor die ongehoorsame nasies. Maar dit gaan ook oor die finale vestiging van God se heerskappy.

Dit gaan dus nie net oor oordeel nie, maar ook oor seën vir diegene wat God se Woord ter harte geneem het.

Johannes skryf die brief namens Iemand wat baie groot en almagtig is. “Genade en vrede vir julle”, groet hy namens “Hom wat is en wat was en wat sal kom”. Baie jare tevore het God Homself aan Moses voorgestel as “DIE EEN WAT IS”. Johannes gebruik nou dieselfde gedagte om te sê dat die eintlike ware Outeur van die boek God Almagtig is. Johannes wil verder die outoriteit waarmee hierdie brief geskryf is beklemtoon deur te noem van “Die sewe geeste voor die troon”, wat God se mag en teenwoordigheid oor die hele wêreld heen uitdruk. Deur die Heilige Gees is God alomteenwoordig. Maar die groet kom ook van Jesus Christus. Hy word deur drie titels beskryf. Eerstens “die Geloofwaardige Getuie.” Inderdaad is Hy ‘n gewaarmerkte en getroue kommunikeerder van die Goddelike verlossingsbedoeling. Tweedens word Hy genoem, “die eerste wat uit die dood opgestaan het,” oftewel die opgestane verheerlikte Christus. Hy het ons voorgegaan om ‘n nuwe era in te lei. Derdens word na Hom verwys as “die Heerser oor die konings van die aarde”. Deur Sy opstanding het Hy die Heerser en Koning geword van die heelal. In Matteus 28:18 sê Jesus immers: “Aan My is alle mag gegee.”

Na hierdie groet sing Johannes ‘n lofprysing waarin hy Jesus se lof besing. Drie groot dinge noem Johannes wat Hy gedoen het. Eerstens, Sy liefde is so groot, dat Hy met Sy kosbare bloed vir ons sondes betaal het. Tweedens het Hy ons deur Sy bloed verlos van ons sondes. Derdens het hy ons, nietige mense, Sy Koninkryk en priesters gemaak.

God se groot motivering lê dus in liefde vir ons, en daarom het Hy Sy Seun gestuur om deur Sy dood en opstanding, verlossing en glorie vir ons te bring. Verder is ons as priesters nou namens God tussengangers tussen God en die wêreld. Hiermee het ons dus ‘n baie belangrike roeping, om namens God, die Koning, op aarde te heers en ook in te tree vir ander mense by God. Dit sou natuurlik ook die sending-gedagte insluit, want deur ander na God te lei, tree ons ook as tussengangers op.

Gebed:

Here, saam met Johannes wil ek vanoggend in aanbidding voor U neerval, want U is groot en goed en almagtig. Dankie vir U groot genade oor my as sondige, nietige mens. Gee my asseblief vandag die krag en moed en ywer om my roeping as heerser en priester ten volle uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026