Lukas 8:26-39
Simon en sy geselskap het by Kapernaum, aan die noordelike uithoek van die meer van Galilea saam met Jesus in die vissersboot geklim en die volle lengte van die meer, reg suid gevaar. Toe hulle verby Tiberias en Hippus vaar, tref die verskriklike storm hulle. Slegs enkele woorde van Jesus het die storm eensklaps laat bedaar. Nou kan hulle rustig verder vaar na die landstreek van Gadara, aan die suidelike punt van die meer.
Simon spring ligvoets uit die boot, baie bly om weer sy voete op vaste grond te kry. Hy voel nou nog bewerig na hierdie verskriklike storm waardeur hulle is. Maar dan tref die volgende “storm” hom vierkant tussen die oë. Hy wil eers lag as hy die man poedelnaak sien aangehardloop kom, reguit na hulle toe. Maar dan skrik hy as hy die skuimbolle om die man se mond sien. Hierdie kêrel is stapelgek! Besete!
Simon besef maar al te goed dat hulle nou in die “buiteland” is, in die land van die Geraseners. Maar is dit dan hoe hierdie “heidene” werklik lyk? G'n wonder hulle is onrein nie!
Die gebied maak deel uit van die sogenaamde Dekapolis, wat letterlik beteken “Tien Stede”. Dit is nie ‘n Joodse gebied nie, dus geld die Joodse wette gladnie hier nie. Hier boer die mense selfs met varke! Simon ril by die blote gedagte - dis genoeg om enige goeie Jood met afgryse te vervul! Daar is boonop ook ‘n baie sterk Griekse invloed in die gebied.
Maar nou is al hierdie feite van minder belang – Simon se grootste bekommernis is nou hierdie kaal besetene wat reguit op hulle afstorm, al skreeuende. Simon het al die gerugte gehoor van hierdie kêrel – hy bly glo hoeka nie meer in ‘n huis nie omdat die samelewing hom totaal verwerp het. Tussen die grafte - dáár was hy genoodsaak om vir homself 'n lêplek te kry. Omdat hy so onbeheerbaar is het die inwoners hom al 'n slag of wat gevang en met kettings geboei om te probeer om hom in bedwang te hou, maar hy het hulle bloot gebreek en van hom afgeskud!
Simon draai na Jesus om te sien wat sy Meester se reaksie is. Jesus is egter doodkalm: “Wat is jou naam?” vra Hy bedaard, so asof die man Hom dan nou sou verstaan!
“Seun van God, die Allerhoogste”, gil die man, “Wat het U met my te doen? Moet my asseblief nie pynig nie, ek smeek U!”
“Dis om van naar te word!” Simon gril! Hoe kan hierdie mal man die Meester 'Seun van God, die Allerhoogste' noem? Dis mos Godslasterlik!
“Jou naam!” hoor Simon die Meester aandring by die man.
“Legio!” brul die malle, “Ons naam is Legio, want daar is baie van ons in hierdie man.”
“Die arme man!” hyg Simon. “Hy is dan totaal oorheers deur 'n spul demone!”
Baie gou kom Simon agter dat die demone eintlik niks met Jesus te doen wil hê nie - hulle wil net alleen gelaat word, want Jesus se teenwoordigheid is ooglopend vir hulle ‘n baie groot bedreiging. Maar sy Meester het hierdie klomp duiwels in 'n hoek gedryf en nou is hulle desperaat! Hy kry baie lekker as hy hoor hoedat hulle vir Jesus soebat en smeek om hulle asseblieftog nie na die verdoemenis toe te verban nie.
En dan is Simon eintlik teleurgesteld as hy moet hoor dat Jesus gehoor gee aan hulle versoek. Hy verban hulle na 'n trop varke!
Simon skrik hom asvaal as hy sien hoedat die varke skielik op loop sit wanneer die demone in hulle invaar. Grootoog kyk hy toe hoedat die hele trop varke reguit op 'n afgrond afstorm. Dan stort die hele trop al skreeuend oor die afgrond in die see in en versuip. Die mense wat in die omgewing is, is gevul met vrees en hulle kom smeek Jesus om liewer hulle land te verlaat - Hy is net slegte nuus vir hulle!
Simon skud sy kop: “Hierdie spul heidene is meer besorg oor hulle simpele ou varke as oor hierdie besetene wat hier rég voor hulle oë ten volle genees is!" Hy kyk na die man wat nou met helder oë en 'n breë glimlag by hulle staan. "Die kêrel is nou so helder van verstand as ek sélf!”
"Kan ek asseblief saam met julle gaan?" Die man pleit by Jesus, maar Jesus skud Sy kop - die man het nou werk om hier onder sy eie mense te doen!
Die verhaal laat ons met 'n paar tergende vrae. Waarom het Jesus gehoor gegee aan die versoek van die demone, maar as die man Hom smeek om saam met Hom te gaan, dan weier Jesus sy versoek? Hierdie is een van die vraagstukke in die Bybel waaroor ons maar net kan gis. Een siening is dat die varke en saam met hulle die demone simbolies in die see stort na die "onderwêreld" waar die bose magte bly. Dis ‘n gedeeltelike oorwinning oor die duiwel. Die finale slag sal egter nog gelewer word en dan sal dit ‘n baie groot slagting vir die duiwel en sy trawante wees.
Die man het egter skielik 'n groot taak gekry, om die mense van sy omgewing van Jesus te gaan vertel. Hy moes die mense wat voorheen in vrees van hom af weggevlug het, nou gaan oortuig dat Jesus die Verlosser is!
Gebed: Here, dankie dat ons weereens vanoggend U almag kon aanskou!