Die Altaar

17 July, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Altaar

Eksodus 20:18-26

???? VIDEO | ???? OUDIO

Al die dinge wat afgespeel het op die berg, het die Israeliete in angs en bewing gehad. Jy sal onthou van die verskriklike donderslae en die weerlig en daardie geluid van die ramshoring wat daar iewers uit die donker wolke gekom het. En boonop het die berg gerook asof daar ‘n vulkaniese uitbarsting was. Moses se bevel was dat hulle nie aan die berg durf raak nie. Dit was nie eers nodig vir hom om hulle te waarsku nie - instinktief het hulle uit vrees van die berg af weggebly. Die volk het Moses gesmeek om asseblieftog as tussenganger tussen hulle en God op te tree, want die blote teenwoordigheid van die Heilige God was net eenvoudig te veel vir hulle. “Moet tog nie dat God met ons praat nie, want dan sal ons sterf!” het hulle gesmeek.

Moses verduidelik vir hulle dat hulle nie bang hoef te wees nie, want God wou hulle maar net laat verstaan Wie Hy werklik is en dat hulle groot ontsag vir Hom moes hê.

Ons kan dit nie genoeg vir mekaar sê nie, hoe wonderlik dit is om te mag leef in ‘n tyd waar ons vrye toegang het tot God! Ons het nie meer nodig om in vrees en bewing op ‘n afstand te staan wanneer God praat nie. Ons het nie meer nodig om ‘n tussenganger soos Moses te gebruik wanneer ons na God luister of met Hom wil praat nie. Moses was ‘n baie spesiale mens, maar hy was nog steeds maar net ‘n mens wat ook gesondig het. Vandag het ons die perfekte Tussenganger in Jesus. Omdat Hy self ook waarlik God is, kommunikeer ons nie meer deur iemand anders soos Moses nie, maar direk met God. En ons hoef nie te vrees dat ons sal dood neerslaan wanneer ons dit doen nie!

Jesus het vir ons kom wys dat Hy liefde is en dat Hy omgee en dat selfs kindertjies met Hom kan gesels sonder enige vrees. Ons mag egter nooit óóit vergeet Wie Hy werklik is nie! Hy is en bly steeds God Almagtig – Skepper van die heelal en Koning van alle konings! Ons moet dus steeds die nodige respek vir Hom hê en Hom eer as Koning, Heerser en God!

Moses stap weer terug na die berg toe en dan praat God weereens met hom. Hy verduidelik vir Moses dat Hy hierdie asemrowende verskyning gedoen het sodat die volk verseker kan weet dat Hy die lewende God is, anders as die ander gode van Egipte. Hy het Persoonlik met hulle kom praat sodat hulle dit nie maar van hoor-sê gekry het nie. En dan benadruk die Here dit vir Moses dat hierdie volk onder géén omstandighede vir hulle afgode mag maak nie - nie van silwer nie, en nie van goud of enigiets anders nie. Hy alleen is God en Hy alleen mag aanbid word.

En dan wonder jy oor die moderne neiging onder sekere teoloë dat ander godsdienste ook maar plek het - Boeddiste en Hindoes en Moslems. Dit strook nie met wat die Here hier vir Moses sê nie.

Moses kry ook die opdrag om altare te bou waarop offerandes gebring moet word. Oral waar hulle rond trek, moet daar ‘n altaar gebou word. Dan kom die voorskrif vir so ‘n altaar - die eerste van ‘n hele reeks voorskrifte wat nog sou volg. Die altaar moet van grond of ongekapte klip wees. Onthou, hulle het ‘n nomadiese bestaan gevoer en dikwels was daar slegs grond beskikbaar vir so ‘n altaar. Daar mag ook nie trappies wees op na die altaar nie, sodat die persoon wat offer homself nie ontbloot nie. Dit klink vir ons snaaks, maar ons moet onthou dat die mans daardie jare nie broeke gedra het nie, maar ‘n kleed. Dit sou dus disrespekvol wees teenoor God om so met trappies op te klim na die altaar. Later, in Eksodus 28, sien ons dat daar ‘n voorskrif kom wat hierdie probleem oplos, dat die priesters broeke moes kry om aan te trek.

Baie jare later het die afstammelinge van hierdie einste Israeliete hulle Koning aan ‘n houtkruis vasgespyker. Die soldate het gedobbel oor Sy klere. En toe is Hy opgehys om aan die wêreld vertoon te word – ontbloot! Nakend het Hy daar gehang vir almal om Hom te spot en Sy naaktheid te aanskou. Dieselfde Heilige God wat vir Moses beveel het dat trappies by ‘n altaar Hom sou onteer en wat beveel het dat priesters broeke moet dra om hulle naaktheid te bedek! Hoe oneindig lief moes Hy nie wees vir die mens - vir jou en my nie, om toe te laat dat Hy so wreed behandel moes word. Was die sweepslae wat Sy rug stukkend geskeur het nie genoeg nie? Was die spot van die soldate en die uitmergelende pyn toe die doringkroon deur sy vel sny en Hom brand nie genoeg nie? En was dit dan nie genoeg dat hulle die groot spykers deur Sy liggaam slaan en Hom aan ‘n houtkruis vasnael nie? Die brandende son op Sy naakte liggaam het die koors van inflammasie vererger. Maar die ergste was dat Hy daar tentoongestel moes word vir die wêreld om Hom te kon minag!

En dit het Hy alles deurgemaak vir my! Én jou! Is ons ooit dankbaar genoeg? Gee ek Hom genoeg eer? Aanbid ek Hom met die nodige respek en eerbied? Het ek ‘n lewende verhouding met Hom?

Gebed:

Here Jesus, ek sidder as ek terugdink aan wat U alles vir my moes deurmaak. Sal ek ooit genoeg dankbaarheid kan uitleef daarvoor?

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026