Kolossense 1:15-20
Daar is ‘n wanbalans in die skepping!
Wat ‘n verskriklike ding om te sê! ’n Paar jaar gelede het die destydse minister van Omgewingsake, Marthinus van Schalkwyk, die skok-uitlating gemaak, dat die mooiste Kaap binne ‘n paar dekades in ‘n Karoo-landskap gaan verander en dat daar geen sprake sal wees van die pragtige wingerde waarvoor daardie landskap so wêreldberoemd is nie. Hy noem dan nie eers die ongelooflike Kaapse fynbos nie - sékerlik gaan dit óók verdwyn! Wingerde kan ‘n mens vervang, maar die fynbos, wat nét hiér voorkom - dit is onvervangbaar!
Met groot kommer sien ons hoe die natuur met 'n skrikwekkende tempo begin verander. Vrees omklem ons harte as ons die natuurverskynsels aanskou. Klimaatsverandering wys wêreldwyd sy kleure en ons voel so magteloos. Verskriklike droogtes saai verwoesting op ons plase terwyl verwoestende vloede terselfdertyd die land in chaos dompel, soos wat so pas in KwaZulu-Natal gebeur het. Wat het ons met die aarde aangevang? Hier en daar probeer iemand desperaat om nog te red wat te redde is, maar alles voel so magteloos! Die oormag waarteen ‘n mens baklei is so oorweldigend groot. Met afgryse sien ons hoe miljoene-jare oue gletsers in die Noordpool begin smelt en verkrummel. En ons wéét dat ons as mense tot ‘n groot mate sélf hiervoor verantwoordelik is. As ons maar net…… Ons het alles opgemors in slegs enkele jare en om ons brouwerk nou te probeer regstel is ‘n totaal-onmoontlike saak. Alles lyk so verlore! Die aarde is op ‘n afdraendepad teen ‘n verstommende spoed!
Ek en my gesin ontspan een slag in Mitchell Park in Durban. Dit is ‘n pragtige tuin in die stad, en die stadsvaders het in hulle wysheid ook jare gelede daar ‘n voëlpark aangelê. Met groot weëmoed kyk ek na die talle kleurvolle voëltjies wat hulle lewens slyt in draadhokke. Ook die ander diere, soos marmosette, wasbeertjies, reuse skilpaaie, almal in hokke toegekamp sodat mense hulle kan bewonder. Wat my die meeste getref het is ‘n troppie meerkatte in ‘n pragtig-ingerigte hok. Een outjie het so met sy pens na bo op die sand gelê, so asof hy in die Kalahari se sonnetjie lê en bak, tragies ontneem van die wye sandvlaktes waar hy vir skerpioene en goggas in die duine kan grawe.
In skrille kontras met my pikswart Jeremiade is die loflied wat Paulus vir die Kolossense sing, ‘n loflied waar die Seun van God verheerlik word.
Dit is nie alleen op materiële vlak waar die mens ingemeng en alles verbrou het nie, maar ook op geestelike vlak. Die mense van Paulus se tyd wou byvoorbeeld hulle gode sien. Hulle wou konkrete bewys van die bestaan van daardie gode hê. So is “menslike” gode soos Diana, Zeus, Venus en al hulle trawante geskep. Paulus kom sê egter in hierdie aangrypende gedig dat al hierdie klomp totaal niksseggend is. Alhoewel God nie gesien kan word nie, is Hy tóg sigbaar in Jesus, wat verhewe is bo al die magte en menslike gode. Jesus is selfs verhewe bo die skepping, want alles is immers deur Hom geskep. Wat meer is: alles - die ganse skepping word deur Hom in stand gehou!
En nou wil ons dalk vir Jesus vra: as Hy dan die skepping in stand hou, waarom laat Hy toe dat die mens Sy skepping vernietig?
Natúúrlik het ons nie antwoorde vir die talle kwelvrae wat dikwels jou gemoed teister nie, maar één ding weet ek: God ís in beheer. Die aarde is maar ‘n nietige ou klein deeltjie van God se magtige skepping. Selfs die heelal wat ons met ons magtige teleskope verken, is maar ‘n spikkeltjie uit God se handewerk. Nog veel groter as dit alles, is die hemel, God se woonplek. Daar is alles soveel anders en groter en heerliker as die droewige aarde wat ons besig is om teen ‘n skrikwekkende tempo te vernietig. Inderdaad het Jesus voorspel dat Hy ‘n einde gaan maak aan die aarde en dat ek en jy dan saam met Hom in die onbeskryflike mooi van die hemel sal woon. Al is ons mede-verantwoordelik vir hierdie vernietiging van die aarde, het Jesus in Sy groot genade vir ons versoening bewerkstellig, sodat ons saam met Hom daardie wonderlike heerlikheid kan smaak!
Ja, met vrees en bewing staar ons na die einde wat op pad is, die einde van ons lewe wat so onvermydelik is, die verskrikking van die dood. Die einde van die aarde plaas ‘n beklemming om ons harte. Maar Jesus het uit die dood opgestaan en vir ons die pad berei na die splinternuwe, wonderlike lewe wat op ons wag. Waar is dan die dood se angel? Met dít in gedagte kan ons dan net met belangstelling kyk na die pogings van die mensdom om die aarde te probeer vernietig voordat God dit doen. Die onwillekeurige vraag wat by my opkom is: probeer die mens nie dalk God speel nie?
Gebed:
Here, dankie vir U wonderlike skepping wat ons nog kan geniet, vir die blomme, die veld, die blou lug en die sterre wat U gemaak het. Maar ek sien uit met groot verlange na die hemel wat nog soveel mooier is, en onaangeraak deur ons mense se vernietigingsdrang!