Deur die Jordaan

10 November, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Deur die Jordaan

Josua 3:1-17

VIDEO | LUISTER

Almal is opgewonde: “More vroeg trek ons!” In die kamp van Israel word daar die nag bitter min geslaap. Hulle is by Sittim, sowat twintig kilometer van die Jordaanrivier af, reg oorkant die stad Jerigo. Daar ver onder kan hulle die bruin massa water van die Jordaan sien bruis. Die rivier is in vol vloed, en hulle eerste groot uitdaging is om eers deur die rivier te kom voordat hulle in die Beloofde Land kan kom.

Dit is nog pikdonker wanneer die volk vroegoggend die bevel kry om in die pad te val. Hulle gaan om die land Kanaän binne te val. Maar anders as enige ander aanvalsmag, is dit nie verspieders of soldate wat die voorhoede vorm nie, maar 'n rustige prentjie van 'n span Levitiese priesters in hulle wit klere met die Verbondsark wat aan twee drastokke hang. Byna 'n kilometer agter hulle volg die groot massa Israeliete. So trek hulle die hele dag lank af na die laagtes van die Jordaan.

Daar slaan hulle kamp op. Josua wil eers alles behoorlik organiseer voordat hulle die rivier oorsteek, dus slaan hulle tent op en staan vir drie dae daar oor.

Maar daar is 'n probleempie. Nee, eintlik eerder 'n uitdaging, want soos hulle reeds daar van Sittim af gesien het, is die Jordaan in vol vloed. 'n Woedende, bulderende bruin massa skei hulle van hulle beloofde land. Dit lyk egter gladnie of dit vir Josua pla nie. Hy is net besig om almal te organiseer en die mense te laat verstaan presies wat hulle moet doen.

Wanneer hulle vroeg die oggend op dag drie steeds wonder hoe hulle deur die rivier gaan kom, doen Josua 'n baie snaakse ding. Hy beveel die priesters wat die ark dra om met die Verbondsark af te loop tot by die rivier. Die volk kry opdrag om hulleself eers te gaan reinig, want vandag gaan hulle die Here beleef soos nog nooit tevore nie. “Hieraan sal julle weet dat die lewende God in julle midde is en dat Hy beslis die Kanaäniete, die Hetiete, die Hewiete, die Feresiete, die Girgasiete, die Amoriete en die Jebusiete voor julle sal verdryf.”

Hy verduidelik vir hulle dat hulle hulleself nie moet laat intimideer deur die woedende watermassa nie, want die Almagtige God van hemel en aarde gaan die rivier spesiaal vir hulle afsny. Hy sal sorg dat die watermassa hoër op in die rivier sal opdam sodat die rivier ophou vloei. Dan sal hulle, nes die geval was by die rietsee, droogvoets deur die rivier kan stap. Dit het amper te goed geklink om waar te wees, maar Josua het geweet dat die Here Sy belofte sou uitvoer.

Dan beveel hy die priesters om in die vlak water in te stap. Die volgende oomblik snak die volk na hulle asems, want die oomblik as die priester se voete die water raak, is dit asof 'n reuse hand die rivier se vloei skielik stop.

Wat presies gebeur het, is nie seker nie, maar daar is 'n vermoede dat die Here 'n rotsstorting bewerkstellig het by die stad Adam, wat die rivier totaal in sy spore gestuit het. Presies op die regte oomblik! Hoe gróót is ons God!

Die volk kon droogvoets deur die rivier trek terwyl die priesters met die Verbondsark in die middel van die rivier op die bedding bly staan het totdat almal veilig deur was.

Uit hierdie wonderlike verhaal leer die eerste lesers van die verhaal asook ons vandag 'n hele paar baie belangrike dinge.

Eerstens was daar die Verbondsark wat vooruit gegaan het en die eerste linie gevorm het. Vir die Israeliete was die Verbondsark die simbool van God se teenwoordigheid. Hulle moes besef dat wanneer God saam met hulle is, dan kon hulle selfs die onbekende binnegaan met 'n geruste hart. In die tyd toe hierdie verhaal op skrif gestel was, was die volk weereens in die onbekende, uitgelewer in ballingskap. Die Ark was saam met hulle, en in hierdie simbool was hulle weereens vertroos dat God nie in Palestina agtergebly het nie, maar hulle vooruitgegaan het na die land van hulle ballingskap.

Vandag is die Verbondsark steeds met ons in die vorm van die Bybel, God se Woord, waarin God ons beloof dat Hy vir altyd by ons, Sy kinders is.

Die tweede waardevolle les wat ons uit die verhaal leer, is dat Hy, die Skeppergod, steeds die skepping beheer. Hy beheer nie alleen die skepping nie, maar ook die lot van volke. Watter wonderlike troos lê daar nie hierin vir ons opgesluit nie! Dikwels voel dit vir ons asof dit die Bose is wat in volle beheer is met die verskriklike dinge wat gebeur. Hier sien ons egter die teendeel. By die Rietsee was dit 'n sterk wind wat die Here gestuur het op presies die regte tyd. By die Jordaan gebruik die Here waarskynlik weereens 'n natuurlike verskynsel, 'n rotsstorting om die rivier op te dam.

Dit is egter die perfekte tydsberekening, want presies op die oomblik wanneer die priesters se voete die water raak, hou die rivier op vloei. Is dit nie asemrowend nie!

Hy is die Een wat alles geskep het en Hy is die Een wat die ganse skepping beheer. Maar dit sê ook dat die Here red omdat Hy die Skepper is. Hy beskik nie alleen oor die mag om ons by te staan nie maar ook oor die wil om dit te doen!

Gebed:

Here, U is wonderlik. U is in beheer, nie alleen oor mense nie maar oor die ganse skepping en natuurkragte. Ek aanbid U en ek loof U met alles in my!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026