Romeine 15:1-13
Dis Sondagoggend, en dinge het vir my nie so goed begin voor kerk nie. Net so effens verslaap en nou is ek laat. Ek is half ongeduldig as ek by die kerk aankom want daar is nog ‘n duisend en een dinge om te doen voordat die erediens begin. Vir diegene wat nie die diens kan bywoon nie, omdat Kovid-19 mense steeds versigtig maak, beteken dit dat ek die video kamera moet opstel om die diens uit te saai. Die dominee moet sy mikrofoon kry en alles moet eers behoorlik getoets word.
Haastig storm ek die kerk binne. En dan sak my hart in my skoene: As ek haar sien, weet ek sommer dat hier vanoggend vir my groot swarigheid voorlê. Sy wag my in en val sommer met die deur in die huis: “Louis, ek het ‘n probleem.....” Ek prewel ‘n oorhaastige skietgebed: “Asseblieftog net nie nóú nie!” My desperate gebed word egter nie verhoor nie, en terwyl ek met my hande vol kamera's en driepote staan, stort sy haar hart uit. Sannie het ‘n baie kwetsende ding teenoor haar gesê, en sy weet nie hoe om dit te verwerk nie. Wat moet sy doen? Sal ek nie maar asseblief met Sannie gaan praat nie? Sy voel nou vreeslik depressief, en het ek nie dalk raad nie?
Ek staan en rondtrippel van ongeduld want sy gee my nie eers kans vir ‘n dwars woordjie nie. “En dan is daar die ding wat die dominee laas Sondag gesê het - ek verstaan dit gladnie”, teem sy voort, “Kan jy asseblief verduidelik......”
Ek wil skree: “STOP DIE BUS!!!!!”
Ken jy daardie gevoel? As gevestigde gelowige wat al deur die meul gegaan het, sien baie jong of swak gelowiges dikwels na jou op, want jy is mos ‘n “steunpilaar” in die geloof. En so dikwels gebeur dit dat mense jou grensloos irriteer júís om daardie rede. Dit is veral die arme predikante wat moet deurloop, en dikwels vure moet doodslaan wanneer iemand seergemaak voel oor ‘n ander se handeling. Of hy moet skielik Skrifgedeeltes opdiep oor die een of ander kwelling wat iemand het wat hom slapelose nagte gee. En dit moet sommer dádelik geskied! Die ergste is as dit pas voor die erediens gebeur, en die arme dominee moet dan nog op sy preek konsentreer ook! Mense kan soms baie onsensitief wees. Dan betrap ek myself nog dat ek presies dieselfde dinge doen!
Paulus wil vanoggend in groot liefde gesels met ons as “ou” gelowiges wanneer hy sê dat as jy sterk staan in die geloof, moet jy bereid wees om diegene wat swakker is se swakhede te verdra. Dit is beslis nie maklik nie, want dikwels sien ons die dinge waaroor hulle kerm as totaal onbenullig. Maar vir hulle is dit uiters belangrik! As jy terugdink, sal jy dalk vir jouself lag, want miskien het jy met dieselfde soort kwelvraag rondgeloop jare gelede. En dan is dit ook nét so belangrik om deeglik te besef, dat al staan jy sterk in die geloof, dan is daar nog steeds swakhede in jou eie lewe en geloof.
Wanneer die Bybel ons hier leer dat ons die swakkeres moet verdra, beteken dit nie dat ons op die tande moet kners, diep en swaar sug en dan anderpad kyk nie. Nee, dit vra van ons uiterste deernis en liefde! Dit vra van my om totaal weg te kyk van my eie probleme of voorkeure en in liefde, geduld en groot deernis na my medegelowige se probleem te kyk. Wat ek as’t ware moet doen, is om my medegelowige se gedagtes en omstandighede as my eie aan te neem, en te probeer dink soos wat hy sou dink. Uit my eie jarelange geloofsondervinding kan ek dan put wat goed en opbouend is, en hom die nodige motivering gee wat hom sal opbou. Neem Jesus as jou eie motivering en voorbeeld, en tree op teenoor jou medegelowige soos wat Jesus teenoor jou sou optree. Dink maar net met hoeveel liefde en geduld Jesus teenoor jóú opgetree het!
Nou lyk dit dalk vir jou asof gelowiges uitgelewer is aan mekaar se nukke en grille. As Sannie sê: “Kwê!” dan moet ek spring! Waar is die kerk se standvastigheid dan? Natuurlik is daar standvastigheid in die kerk, maar die bron daarvan is nie mense nie, maar God self. Hy het Sy wil vir ons in die Bybel laat opteken sodat gelowiges daardeur bemoedig kan word, hoop kan kry en daardeur gerig kan word.
Oor alle sake wat werklik vir ‘n gelowige van belang is om ‘n ware verhouding met God te kan hê, is daar duidelikheid in die Skrif. Nie alleen wil God hê dat ons daarvolgens moet lewe nie, maar Hy wil ook hê dat ons baie sensitief en liefdevol moet wees teenoor medegelowiges, en veral die swakkeres in die geloof, en dat ons met hulle sal deel in die dinge wat werklik belangrik is. Op hierdie manier dra ons by tot die eensgesindheid en liefde in die kerk, en verheerlik ons God ook daarin.
Dan sal ons dalk saam met Paulus die pragtige loflied kan sing wat hy opgeteken het in vers 9 tot 12: "Daarom sal ek U loof voor die nasies, en tot eer van U Naam sal ek 'n lofpsalm sing....... Prys die Here, alle nasies! Loof Hom, alle volke!" Ons gelowiges behoort meer aandag te gee aan die gesamentlike verheerliking van God, en baie meer energie en liefde daarin te sit.
Gebed:
Here, maak my asseblief baie sensitief vir mede-gelowiges, en gee my hope geduld!