2 Samuel 7
Dit gaan goed met Dawid - sommer baie goed! Vandat hy die koningskap van die huis van Saul oorgeneem het, is daar niks anders as seën in sy lewe nie. Dawid het sy eie stad gekry - Jerusalem. Hy het die pragtigste paleis gekry om in te bly - een wat binne versier is met sederhout. En boonop het die ander volke in die omgewing baie gou gesien dat hulle nie met Dawid moet sukkel nie, want hulle gaan beslis tweedebeste hiervan afkom. Dus laat hulle Israel in vrede.
Na al die jare van vlug voor Saul en van werk as ‘n huursoldaat vir die Filistyne, kan Dawid nou rustig agteroor sit en die lewe geniet. Daar is rus en vrede in Israel.
Maar stilsit en niksdoen is twee woorde wat nie in Dawid se woordeskat voorkom nie. Sy hande jeuk! Boonop voel hy baie skuldig wanneer hy sy pragtige paleis geniet! Die Verbondsark van God staan daar buite in ‘n tent terwyl hy, Dawid in weelde leef! Dit sal nie deug nie! Al die ander volke se gode bly in pragtige tempels terwyl die God van Israel met die tweedebeste tevrede moet wees!
Dan besluit Dawid: “Ek gaan vir die Here ‘n huis bou, ‘n behóórlike huis!” Hy laat kom dan ook summier die profeet Natan en deel opgewonde sy gedagtes met hom. Natan is sommer dadelik baie entoesiasties hieroor want dit is ‘n briljante idee. Dis mos reg, daar móét tog ‘n mooi huis vir God wees. “Doen dit gerus Dawid. Die Here is by u.”
Daardie nag kan Dawid skaars slaap. Hy is so opgewonde soos ‘n klein seuntjie wat ‘n nuwe speelding gekry het! Heelnag lê hy en beplan hoe hierdie huis gaan lyk. “Dit moet ’n stewige gebou van gekapte klip wees, en natuurlik van hoek tot kant met sederhout uitgelê wees. En daar moet kwistig met die goud en silwer gewerk word. Hierdie tempel sal ‘n sierraad vir God wees en die hele wêreld sal weet: Hier bly die God van Israel!”
Maar Dawid is nie die enigste wat nie kan slaap nie - in sy huis lê die profeet Natan óók en rondrol. Daar is iets ernstig wat hom hinder oor Dawid se beplande tempel. En dan hoor hy baie duidelik die Stem: “Natan, gaan sê vir My dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My ‘n huis bou om in te woon?” Natan se hart krimp ineen. Hy wag daarvoor: “Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in ‘n huis gewoon nie.” Natan moet die nuus aan Dawid gaan oordra dat die Here nie wil hê dat hy daardie tempel bou nie.
Natan se maag staan op ‘n knop getrek as hy die volgende oggend hierdie slegte nuus aan Koning Dawid moet oordra. Hoe gaan Dawid reageer? Gaan hy hom uitvreet omdat hy ‘n fout gemaak het? Dawid sal sékerlik nie gelukkig wees nie!
Al stotterende dra Natan die boodskap oor aan Dawid: “Die Here sê dat Hy daar saam met jou en jou vee in die weiveld was. Hy is die Een wat jou daar weggevat het en Hy was ál die pad saam met jou, oral waar jy gegaan het. Hy het jou vyande vir jou verslaan en Hy het jou koning gemaak en gevestig.” Natan vertel verder dat God nie ‘n rusplek nodig het nie en óók nie ‘n huis om in te bly nie. Dawid hoef nie vir die Here ‘n huis te bou nie. Die Here gaan eerder vir Dawid ‘n huis bou - ‘n koningshuis! Ja, Hy sal vir Dawid ‘n baie besonderse nageslag gee. Dawid se seun sal egter die eer kry om ‘n tempel te kan bou waar mense God kan aanbid. Hy belowe dan ook vir Dawid dat sy koningskap vir altyd sal bly voortbestaan.
Ons moet baie deeglik besef dat die Here ‘n dinamiese God is en dat mense nie vir Hom hoef te sorg nie. Hy is eerder die Een wat vir húlle sorg! En dan natuurlik daardie belofte van die koningskap wat vir ewig sou staan: in Jesus het dit gestalte gekry en dit bestaan vir ewig!
Is Dawid verslae oor sy pragtige droom wat so voor sy oë verwelk het? Nee! Hy gaan buig in nederigheid voor die Here, want wie is hy dan tog dat die Here so goed is vir hom? Dat die Here hom so besaai met beloftes en seëninge? Trane van dankbaarheid stroom oor Dawid se wange: “Groot is U, Here my God!” borrel die loflied oor Dawid se lippe. “Daar is niemand soos U nie. Buiten U is daar géén God nie.” Dawid kan nie ophou om die Here te loof, dank en prys nie. Hy eindig sy roerende gebed met die woorde: “Here my God, U het gepraat en omdat U seën, is die koningshuis van U dienaar vir altyd geseën.”
Dawid laat my vanoggend baie skaam kry, want só dikwels mor en kla ek wanneer ek graag iets baie edel wil doen, maar die Here verhoed my om voort te gaan. My dankbaarheid is dikwels maar baie skraps! Ja, ek mompel ‘n “dankie Here” as Hy iets goed vir my gee, maar my “dankie” is soms maar ‘n powere poging. Kom ek en jy gaan sê ‘n slag behóórlik vir die Here dankie vir al die seëninge waarmee Hy ons so bestrooi. En kom ons gaan leef die “dankie” prakties uit!
Gebed:
Here, dit borrel vandag in my van dankbaarheid oor alles wat U vir my gedoen het!