Dawid, Skaapwagtertjie

30 October, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dawid, Skaapwagtertjie

1 Samuel 16:11,12

VIDEO | OUDIO

Dit is nie maklik om as jongste van agt seuns groot te word nie. Jy word afgeknou deur jou ouer broers, en jy moet al die vuil werk doen. Pa het vertel dat hy as jongste van só ’n streep seuns maar baie arm grootgeword het. Daar was byvoorbeeld nie geld vir nuwe klere nie - die oudste was die enigste wat so bevoorreg was om nuwe klere te kon dra. Daarna moes die tweede seun dit erf wanneer dit vir Ouboet te klein geword het, en so was dit van kind na kind oorgedra, totdat dit letterlik vodde was en onherkenbaar gelap teen die tyd dat arme Pa dit gekry het. Hy het nie geweet wat die term “nuwe klere” beteken nie!

Dawid was die jongste van agt seuns, en hy was beslis géén uitsondering op die kleinboet-sindroom nie. Wanneer al die ander kinders opwindende dinge kon doen soos oorlog maak of belangrike gaste ontvang, dan moes klein Dawid maar tevrede wees om skape op te pas iewers in die wildernis.

En skaap oppas in Betlehem se wêreld was géén grap nie. Dit was harde werk, want dit was ‘n ruwe, onherbergsame bergwoestyn waar die skape moes wei. En wanneer die weiding begin skaars raak het, moes daar sommer baie kilometers ver met die vee geloop word om hulle aan die lewe te hou. Dan het die skaapwagter maar selde by die huis geslaap, en van ‘n sagte bed en ‘n warm bad het hy maar net gedroom. Baie beslis ook nie ‘n werk vir sissies nie want die wêreld was maar woes en daar was gevaarlike wilde diere. En die goed was honger! ‘n Stukkie skaapvleis was vir ‘n honger beer ‘n onweerstaanbare sappige happie. Boonop het daar selfs leeus wild rondgeloop, beslis ‘n ding wat vrees ingeboesem het in enige jong skaapwagtertjie.

Dawid het van kleins af taai grootgeword en sy broers het hom geleer hoe om ‘n wapen te gebruik en hoe om met roofdiere af te reken. Ook maar goed, want toe die beer daardie dag sy opwagting maak en een van Dawid se skape gryp, was die seun nie bang om die dierasie agterna te sit nie. Dalk was dit ‘n bietjie domastrant om die skaap uit die beer se kwylende bek te red, want toe bestorm die beer hom! Dawid het hom doodgeslaan!

‘n Skaapwagtertjie het nie kragtige wapens soos ‘n swaard of pyl en boog gehad nie, hy moes homself verdedig met ‘n knopkierie en sy herderstaf en hy moes leer om dit baie behendig te kon gebruik, anders kon hy dalk tweedebeste van so ‘n skermutseling afkom! Dawid het dit inderdaad bemeester, want die dag toe hy te staan gekom het teen ‘n brullende leeu, was dit ook die leeu wat in die stof gebyt het! Daarvan lees ons in 1 Sam 17:34-37.

‘n Kierie was egter nie Dawid se enigste wapen nie - hy het die kuns bemeester om sekerlik een van die moeilikste wapens met groot vernuf te gebruik - die slingervel. Het jy al ooit probeer om ‘n slingervel te gebruik? Twee toutjies is aan mekaar verbind met ‘n stukkie vel, en hierin plaas jy ‘n klippie. Jy swaai die klippie ‘n paar keer in die lug om goed spoed op te bou, en dan los jy een van die toutjies. As jy dit reg doen, trek die klippie teen ‘n verbysterende snelheid na sy teiken toe. Maar ongelukkig is dit nie so maklik nie, want ‘n klein breukdeel van ‘n sekonde maak die verskil of jy die teiken gaan tref, en of die klip woer-woer in ‘n totaal-ander rigting gaan vlieg! Ek het as kind so ‘n slingervel besit. Ek het hom tot vervelens toe gelaai met ammunisie maar dit was my nooit beskore om een enkele keer die teiken te tref nie. Ek het uiteindelik tou opgegooi!

Taai soos ‘n ratel was hierdie kleingeboude mannetjie - gebrei deur sy broers en deur die ongenaakbare veld. Maar taai soos hy was, was daar ook die sagte sy van hierdie kind van die veld. Op ‘n jong ouderdom het hy die liefde vir musiek aangeleer. Wanneer hy die veld ingestap het met sy trop skape, het hy in sy rugsak ‘n lier met hom saamgedra - ‘n snaarinstrument wat ons in vandag se terme amper ‘n kitaar kan noem. En saam met musiek het Dawid ook van kleintyd af geleer om die Here lief te hê. Wanneer die jong Dawid dus iewers onder ‘n boom gesit het, het hy liedere gesing en op sy lier gespeel - liedere wat hy by Pa Isai gehoor het. Maar hy het ook begin om sélf liedjies te maak uit sy eie ondervindinge in die veld: “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my in groen weivelde rus. Hy bring my by waters waar daar vrede is.” So begin een van die grootste treffers van alle tye vorm aanneem.

Die jong Dawid moes dalk aan die agterspeen suig, maar hy het nie toegelaat dat dit hom onderkry nie. Met ‘n lied in die hart het hy die vervelige werk van skaap-oppas vervolmaak tot ‘n kuns, en elke oomblik benut om homself voor te berei vir die lewe. Maar alleen was hy nooit - langs hom was die Here, die God van Abraham en Isak en Jakob - die God van Israel, elke oomblik van die dag.

Gebed:

Here, ons staan vandag verstom oor die wyse waarop U vir Dawid voorberei het vir sy groot taak as koning. Dankie dat U elkeen van ons so voorberei vir ons taak. Help ons om dit ten volle te benut!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026