Dawid in Gróót Moeilikheid

1 December, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dawid in Gróót Moeilikheid

1 Samuel 29

VIDEO | OUDIO

Terwyl Saul sy eie krisisse beleef met die medium wat dooies oproep, beleef Dawid sekerlik die grootste krisis in sy lewe tot dusver. Ons het gesien dat Akis, die Filistynse koning, baie ingenome was om só ‘n briljante soldaat soos Dawid se dienste te kon gebruik en Dawid kry selfs die aanstelling as die koning se persoonlike lyfwag!

Nou moet hy egter teen Israel gaan veg! Dis ‘n ramp! Hoe gaan hy óóit uit hierdie gemors kom? Hy kan mos nie teen sy eie mense gaan veg nie? Dawid kan sy tong afbyt omdat hy die koning so bedrieg het deur by hom te spog dat hy teen die Judeërs geveg het. Sy eie bedrog is nou besig om ernstig teen hom te draai!

“Kom, ons moet optrek!” glimlag Akis vir Dawid, duidelik propvol selfversekering, want hierdie slag gaan die Israeliete baie beslis tweedebeste daarvan afkom. “Die ander manne het al klaar kamp gemaak - almal wag net vir ons!”

Dawid se hart klop in sy keel as hulle oor die bult kom en hy die duisende-der-duisende Filistynse soldate bymekaar sien. “Here, help asseblief!” prewel hy. “Ek kan nie teen U volk oorlog maak nie - dit sal ‘n baie groot sonde wees. Wat moet ek doen, o God van Israel?”

Koning Akis kom saam met Dawid en sy seshonderd manne verby al die verskillende Filistynse afdelings gestap. Dawid merk op dat die leiers hom baie skeef aankyk. Hy sien hoe die manne later saamdrom en kort-kort omkyk in sy rigting. “Wat skinder hulle van my?” wonder Dawid.

Dan stap daar ‘n afvaardiging oor na Akis se tent. Dawid kan sommer sien dat daar ‘n baie belangrike saak bespreek word. “Seker maar die beplanning vir môre se geveg,” dink hy. In die verte kan hy die Israeliete se vure sien brand. “Ek voel so bitter jammer vir my mense!” sug hy.

Wat Dawid egter nie weet nie, is dat dit hý is wat die onderwerp van bespreking is in Akis se tent. “Wat maak hierdie Hebreërs hier?” wil hulle van Akis weet. Hy verduidelik dat Dawid baie lojaal is, dat hy teen Saul gedraai het en dat daar absoluut niks verkeerd is omtrent hom nie.

Maar die manne is bitter ongelukkig: “Laat hom omdraai! Hy kan beslis nie saam met ons veg nie. Wie sê hy gaan nie teen óns draai nie?”

“Ja,” lê ‘n ander generaal sy eiertjie, “dis mos oor Dawid wat die vrouens van Israel so sing. Dis net ‘n slim set van hom om net weer in sy koning se guns te kom. Stuur hulle terug, ons veg nie saam met die Hebreërs nie!”

Akis is verplig om vir Dawid te laat kom en om hom die slegte nuus mee te deel: “Dawid, ek is só jammer, maar die manne wil jou nie hier hê nie. Ek wil nie moeilikheid met hulle hê nie. Vat asseblief maar jou manne en gaan huistoe!”

Dawid kan sy ore nie glo nie! Hoe wonderlik het die Here nie wééreens vir hom voorsien nie! Hy haal sy beste toneelspel uit en maak verskriklik kapsie teen die besluit. “Wat het ek verkeerd gedoen?” Verskriklik seergemaak en beledig oor die generaals se wantroue, pleit Dawid om tog maar te gaan veg. Maar Akis kan nie genoeg om verskoning vra nie. Hy verseker Dawid van hoe opreg hy hom vertrou, maar hy kan nie teen sy generaals se ongegronde wantroue gaan nie - hy het hulle nodig in die geveg…...

Wanneer die son die volgende oggend sy kop oor die rante lig, vertrek Dawid en sy manne sleepvoet en met lang gesigte. Hulle wou tog só graag teen Israel geveg het! Maar sodra hulle agter die rantjie is, borrel hulle van blydskap. “God is groot! Hy het ons gered van ‘n verskriklike ding!” Só borrel en sing Dawid al dansende voor sy manne uit.

“Ja, ja!” beaam die manne al singende, want almal het gedink dat hulle vandag gedwing sou word om broedermoord te pleeg. “Ons kan maar net die Here loof!”

“Ek wil U lof verkondig, Here, want U het my gered en my vyande nie laat bly wees oor my nie,” begin Dawid spontaan sing. Baie gou snap die manne die wysie en die woorde, en weldra dreun dit deur die dale soos hulle dit al dansende uitjubel: “Sing tot eer van die Here, loof Sy heilige Naam!”

Dawid se “wit leuntjie”, niks minder nie as bedrog, is nie iets wat enigeen kan goedpraat nie. En boonop het dit hom in ‘n situasie geplaas waar hy beslis nie wou wees nie. Maar weereens sien ons hoe groot, goed en genadig die Here is. Hy gebruik selfs die Filistynse generaals om Dawid uit die moeilikheid te kry. Maar dit gaan hier oor baie meer as net die persoon Dawid. Dit gaan oor ‘n véél groter saak, want die Here het beplan dat Dawid koning sou word en dat hy die voorgeslag van Jesus sou wees. Niks en niemand sou God se plan verongeluk nie! Jare later het almal weer probeer om Sy plan in die wiele te ry toe Jesus die groot offer gebring het. Ook dáár het elke ding presies in plek geval, nét soos wat God beplan het. Loof die Here!

Gebed:

Here, weereens staan ek in verwondering oor hoe U in volle beheer is, selfs van die mees hopelose situasie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026