Dawid - Dans vir die Here

8 February, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dawid - Dans vir die Here

2 Samuel 6:9-23

Video

Audio

Opgewonde, uitbundig dans hy in die stofpad af. Daar is gróót fees. Die fluite speel vrolik, begelei deur liere, en voor in die optog skal die ramshorings oorverdowend. Dawid is op sy gelukkigste!

Maar dit was nie altyd so maklik nie, en beslis ook nie altyd so vrolik nie.

Ongeveer 3000 jaar gelede word klein Dawid gebore. Sy geboorte was ook nou nie juis ‘n groot gebeurtenis nie, want hy was die laaste van ‘n hele streep seuns, die agste outjie in die ry. En soos dit maar gewoonlik met die jongste gaan, is al die vuilwerk op hom afgeskuif. Wanneer al die ander broers opwindende dinge doen, soos oorlog maak teen die Filistyne, moes die arme Dawid maar droëbek iewers in die veld sit en skape oppas.

Maar ledigheid was beslis nie deel van die jong Dawid se lewe nie. Hy het die tyd in die veld uitgekoop deur te oefen om sy troppie skape te beskerm op die mees effektiewe maniere. Hy het nou wel nie die gevaarlike wapens van sy broers gehad nie. Daar het nie ‘n vlymskerp swaard aan sy sy gehang nie. Maar hy het dít wat tot sy beskikking was tot die beste van sy vermoë benut, soos sy knopkierie en sy slingervel.

Maar dit was nie ál waarmee Dawid homself besig gehou het nie. Daar was ook sy geliefde lier. Hierdie eenvoudige instrument het hy meesterlik leer speel. En hy het liedjies gekomponeer om God te verheerlik, want dáár in die natuur het daar ‘n wonderlike verhouding van liefde ontstaan tussen hom en die Here. “Die Here is my Herder,” het hy gesing terwyl hy sy troppie skape sien wei.

Nou, vyftig jaar later is Dawid baie opgewonde. Die Verbondsark van die Here was op pad na Jerusalem. So ver as wat die Ark deur die priesters gedra word, word daar al die pad musiek gemaak, op die ramshorings geblaas, gedans en feesgevier. En die koning? Hy het nie maar op sy troon gesit en al hierdie dinge gade geslaan nie. Nee, hy het met volle oorgawe saam gedans en gehuppel en deelgeneem. En wanneer hulle Jerusalem binnekom met die Ark, gaan daar ‘n groot gejuig op van die hele volk. Dit weergalm deur die klowe en oor die berge van die geluid van ramshorings en die gejuig van die skare. En Dawid dans dat die biesies bewe!

En dan lees ons in 2 Samuel 6:14-16 dat Dawid net ‘n linne skouerkleed aangehad het, ‘n kleed wat priesters dra. Intussen staan vroulief Mikal op die balkon van die paleis hierdie optog en gadeslaan. Maar wat vir haar ‘n groot vreugde moes wees, word ‘n verskriklike verleentheid as sy haar man hier onder voor die groot skare sien dans en rondspring, geklee in “slegs ‘n skouerkleed.”

Sy verag hom, maar waarom? Het sy gedink dat dit nie fatsoenlik of waardig genoeg was, omdat hy die priesterlike kleed gedra het en nie sy waardige koninklike kleed nie? Of was dit dalk omdat hierdie skouerkleed die enigste kledingstuk is wat hy aangehad het, en dat met al die gedansery en gerondspring, daar dinge gewys het wat nie betaamlik was om te vertoon nie? Ons kan maar net raai. Kon dit nie dalk ook wees dat Mikal bloot hoogmoedig was, en dat sy dit verag het dat haar man, die koning, hom so buitensporig gedra het nie?

Dawid het dikwels baie impulsief opgetree, sonder om mooi te dink oor wat hy doen. As jy in ‘n leiersposisie is, moet jy dinge baie deeglik oordink. Jy moet baie versigtig wees om nie die verkeerde indruk te skep nie, al is jou bedoelinge ook hóé goed. Dawid het ‘n verantwoordelikheid gehad teenoor die volk, en hy moes vir hulle ‘n simbool van integriteit wees.

In Dawid se paleis is dinge na hierdie insident nie so lekker nie. Hy word uitgetrap deur Mikal omdat hy hom so verspot gedra het. Hy het skandelik opgetree en “homself ontbloot voor die slavinne van sy onderdane”. Huismoles! Dawid se vrou het géén begrip vir sy vreugde nie. Wat ‘n antiklimaks! Hy tree op deur haar emosionele uitbarsting met logika te probeer uitredeneer, maar duidelik begryp hy nie dat dit by haar ‘n emosionele saak is, en dat sy maar net wou trots wees op haar man nie. Verwyte word geslinger, en die huwelik beland op die rotse. Tragies! So maklik kon alles gered gewees het as hulle maar net na mekaar wou luister. En dit is presies waar baie huwelike vandag sink, waar huweliksmaats eerder verwyt as om na mekaar te luister.

Ons het Dawid leer ken as iemand wat baie foute gehad het. Geweld was sy metgesel. Later is daar egbreuk en selfs moord. Hy het géén beheer oor sy kinders nie, en sy gesin word geteister deur tragedie op tragedie.

Nogtans leer ons hom óók ken as iemand wat deur al sy moeilikhede steeds aan die Here bly vasklou het. Hy het die Here innig liefgehad. Hy het dit uitgestraal wanneer hy uitbundig voor die Verbondsark gedans het. En wanneer hy die mees aangrypende liedere geskryf en gesing het en hemelse musiek met sy lier gemaak het.

Straal my lewe ook die wonderlike liefde van die Here uit soos Dawid van ouds? Self al gaan dit swaar? 

Gebed:

Here, help my asseblief om na my huweliksmaat te luister.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026