2 Tessalonisense 2:13-3:5
Gelowiges het mekaar nodig! Ons versterk mekaar en gee mekaar moed vir die lewe. Nog een laaste bosstorie voordat ons afsluit met Tessalonisense.
Ek sit droomverlore op die stoep in die bos nadat die reën die aarde verkwik het. Die veld het ‘n groen skynsel, maar dit gaan nog weke wees voordat daar weer genoeg kos sal wees vir die diere. Die sagte tjoer-tjoer van gebande muishondjies laat my opgewonde regop sit. In 'n sekere sin is hulle vir my ‘n verpersoonliking van gelowiges. Luidrugtig daag die voorlopers op om te sien of daar iets te ete is. Dan word die boodskap wyd en syd verkondig. Soos blits storm die res van die trop uit die bos uit en dan kekkel en babbel en tjirp almal deurmekaar. Hulle ontdek ‘n stuk ou gemufte brood en dan gryp elkeen ‘n stukkie en hardloop ‘n ent weg om dit in vrede te gaan eet. Maar van vrede is daar nie juis baie sprake nie, want dis ‘n gestry oor wie die grootste en sappigste stukkie brood gaan kry!
Wanneer die brood op is, is die klomp steeds honger. Een outjie klouter in die boom voor die stoep en haal behendig die appel wat vir die voëls bedoel was af. Hierdie kleinood is goud werd en hy hardloop dat die klippertjies so spat, tot waar niemand hom sal pla nie. Baie gou kom ek agter dat elkeen van hierdie fassinerende diertjies sy eie persoonlikheid het. Die een soek skoor met almal, terwyl ‘n ander vredeliewend is. Sommige is baie braaf, terwyl ander weer skugter is en by die vaagste ou beweginkie sal weghardloop.
As die kos op is, begin hulle naarstigtelik soek vir goggatjies onder die bome. Haas g’n enkele klippie en stoffie word ongeroer gelaat nie. En dan is hulle skielik moeg. Een outjie gaan lê plat op sy pens, pote uitgestrek na alle kante. Nie lank nie of hy kry ‘n maatjie, en uiteindelik lê die hele lot in ‘n bondel en slaap. Hulle koer-koer bemoedigend in mekaar se ore, en van daardie strydende, skarrelende geroesemoes van so flussies is daar g’n sprake nie. Dis hóóg-vrede!
In ‘n sekere sin is gelowiges baie soos hierdie muishondjies. Net soos wat ‘n enkele muishondjie nie op sy eie kan bestaan nie, so kan ‘n gelowige ook nie op sy eie bestaan nie. Natuurlik word ‘n mens se geloof gebou deur jou persoonlike verhouding met God. Maar dit is juis jou interaksie met ander gelowiges wat hierdie geloof lewe gee en wat dit laat groei. Iemand vertel my dat sy jare laas in die kerk was. Sy voel asof sy in ‘n donker gat beland het en dat sy nou geestelik moeg en tam is. Die ergste is egter dat sy hoop verloor het en absoluut geen geloofsekerheid het nie. Dis wat gebeur met jou as jy nie ander gelowiges rondom jou het om jou te bemoedig en te versterk nie.
Ek kan maar net getuig van wat dit vir my persoonlik beteken om my gedagtes elke oggend te kan deel met jou. Dit voel vir my asof daar ‘n skare van gelowiges rondom my staan en my versterk en bemoedig. Die boodskappies - dikwels net ‘n enkele ou lyntjie - wat ek daagliks kry, net om te sê dat die dagstukkie iets vir hulle beteken het, bevestig dit dat ek so wonderlik bevoorreg is om ‘n groot skare gelowiges te hê wat vir my omgee. En al ken ek slegs enkeles, is die omgee steeds daar.
Paulus skryf dat hy dankbaar is teenoor die Here vir die gelowiges in Tessalonika. Vandag moet ek onomwonde dit ook uitbasuin dat ek dankbaar is teenoor die Here vir jou, liewe leser, liewe luisteraar. Die Here het jou lief! Maar dit is baie belangrik om te weet dat jy nodig is en deel is van God se Koninkryk. In ‘n Koninkryk het elkeen ‘n taak om te verrig, party groot take en ander kleintjies. Elkeen se taak is egter belangrik, hoe gering ookal. Nie alleen tree jy op in belang van die Koninkryk nie, maar jy word sélf versterk daardeur. As ek weereens myself kan gebruik as voorbeeld: vandat ek met baie wankelende treetjies begin het om dagstukkies te skryf, het daar ‘n geestelike ontploffing in my lewe gekom. Deur met ander mense te deel wat ek geestelik beleef, groei ek sélf ook geestelik.
Dit beteken nie dat elkeen moet skryf of preek nie! Deur te doen wat die Here jou vra om te doen, word jy deel van daardie Koninklike weermag. Deur liefde en vriendelikheid uit te straal, selfs sonder woorde, volvoer jy alreeds ‘n reuse taak want daardeur weerkaats jy God se liefde. Terselfdertyd doen dit ook wondere vir jouself, want skielik is jou lewe positief en doelgerig. Deur vir iemand te bid, dra jy nie alleen daardie persoon in gebed nie, maar versterk jy ook jou eie geloof.
‘n Eenvoudige geloofsdaad kan dikwels wondere verrig. Verskeie mense het deur die jare vir my adresse gestuur van mense wat ook dalk die dagstukkies sal wil ontvang. Ek kry dikwels briewe van sulke nuwe ontvangers wat sê: “Ek weet nie wie my adres vir jou gegee het nie, maar ek is daardie persoon ewig dankbaar......” Ek kon ook die evangelieboodskap met verskeie mense deel. Sonder jou is my arbeid vrugteloos. Ek is God ewig dankbaar vir jou, want jy is ‘n onmisbare skakel in die geloofsketting!
Gebed:
Here, dankie vir elke ontvanger van hierdie dagstukkie. Dankie vir die wonderlike versterking wat U my hierdeur gee, en vir die onbeskryflike voorreg om so in diens van U Koninkryk te mag staan!