By die Dorsvloer

13 November, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie By die Dorsvloer

Rut 3:6-9

Rut se bene bewe wanneer sy die huisie uitstap op pad na die dorsvloer. ‘n Heerlike geur van parfuum hang om haar, iets baie kosbaar wat Naomi diep uitgegrawe het. Sy het haar héél beste klere aan en sy voel baie goed. Maar vrees omklem haar hart. Sy weet gladnie wat om te verwag nie. “Here, God van Abraham en van Naomi,” bid sy terwyl sy bewerig die lang ent stap na Boas se dorsvloer, “vandag het ek U so bitter nodig. Bewaar my asseblief dat daar nie dinge gebeur waaroor ek later gaan spyt wees nie.”

Boas se dorsvloer is ‘n paar uur se stap, en vanoggend voel die pad vir Rut ekstra lank. ‘n Warboel gedagtes borrel deur haar gemoed. “Doen ek ooit die regte ding? Maar dis vir Naomi. Liewe Naomi! Hoeveel het daardie vrou nie vir my opgeoffer nie. Nee, ek moet net eenvoudig hiermee deurdruk!” Sy het finaal haar besluit geneem, en nou stap sy sommer vinniger.

Wanneer Rut naby die dorsvloer kom, sien sy die reuse berg gerwe, en sy sien hoe hard die manne werk. Sy wil nader stap, maar dan bedwing sy haar. Sy durf nie haar teenwoordigheid weggee nie, want dan gaan sy alles bederf. Boas mag nie weet dat sy hier is nie! Haar oë soek vir Boas, en dan sien sy hom waar hy saam met die werkers swoeg om die graan van die kaf en stingels te skei. Harde werk! “Hier gaan hulle nog tot laatnag toe werk!” som Rut die situasie op, en dan sug sy swaar.

Die dag kruip harmansdrup-stadig verby. Maar met belangstelling sien sy hoedat die gerwe al minder raak en die hooimied al groter en groter. Wanneer dit al skemer is, besluit Boas dat dit tyd geword het om vir eers te staak. “Kêrels, môre is nog ‘n dag, dan kan ons klaarmaak. Ons slaap vannag sommer hier op die dorsvloer, dan kan ons more met dagbreek weer vroeg inspring.”

Boas het gesorg dat daar genoeg te ete is vir al die werkers, want jy kan mos nie op ‘n leë maag werk nie. En sonder ‘n sak wyn of wat kan dit mos maar koud raak hier in die veld. Rut se geduld word tot die uiterste beproef waar sy uit die donker die manne sit en dophou, waar hulle vrolik sing om ‘n vuurtjie. “Wanneer gaan hulle tog slaap?” wonder sy met ‘n swaar sug.

En dan dop die manne een-vir-een om. Rut se hart klop in haar keel as sy sien hoe Boas vir hom ‘n bed maak van strooi en onder die komberse inkruip. “Die oomblik van waarheid het aangebreek!” dink sy bewerig. Sy wil omdraai en wegvlug, die nag in, maar dan sien sy weer Naomi se gesig voor haar. Sy wag tot Boas behoorlik aan die slaap is, en dan sluip sy versigtig nader. Eintlik kon sy ook maar hard getrap het, die wyn laat die manne diep slaap.

Met bonsende hart lig Rut versigtig die komberse van Boas se voete af, en dan gaan kruip sy by sy voete onder die kombers in. Van slaap is daar géén sprake nie. “Wat gaan gebeur wanneer Boas wakker word, en hy kry my hier?” Haar hart klop in haar keel van angs. Sy wil-wil koue voete kry en weghardloop, maar nou is dit te laat. Hier sal sy net eenvoudig moet bly lê totdat iets gebeur.

En dan gebeur dit: Skielik voel Rut ‘n beweging wanneer Boas hom omdraai. Hy voel die warmte by sy voete, en dan skrik Boas wawyd wakker. Sy hart klop in sy keel. “Wie sou nou by my wou kom inkruip? Die vermetelheid.....” wil hy dink. Hy probeer uitmaak wie by sy voete lê, maar al wat hy kan sien in die maanlig is dat dit ‘n vrou is. “Wie is jy?” vra hy vererg, “Wat maak jy hier?”

Rut is baie na aan trane as sy met ‘n stemmetjie wat wil-wil breek antwoord: “Dis ek, Rut, Naomi se dogter.” En dan kan sy dit nie meer hou nie, en die trane stroom vryelik. En so tussen die snikke deur smeek sy by hom: “Ek is van u afhanklik - u is my losser. Neem my asseblief onder u beskerming.”

Nou sit Boas regop. Skielik kry hy die arme meisie bitter jammer. Hy maak haar stil sodat die ander manne nie dalk wakker word nie, want dan kan dit beslis op ‘n skandaal uitloop, en dit is die laaste ding wat Boas wil hê. Oor homself is hy nie bekommerd nie, maar hierdie meisie se reputasie is op die spel. Hy bewonder haar moed. Maar wat staan hom nou te doen?

Moenie bekommerd wees nie, Dogter,” fluister hy vir Rut. “Ek sal doen wat jy vra.”

Boas besef met ‘n skok dat Rut sal moet verdwyn voordat die manne wakker word. Maar sy kan nie nou in die pikdonker terugloop na Betlehem toe nie. Rut sal maar die nag hier by my voete moet slaap. Maar teen dagbreek beter sy weg wees!

Dikwels lees ons die Ou Testament met oogklappe. Ons ervaar die Here as ‘n God van oorlog. Maar is hierdie nie die mees romantiese verhaal wat jy al gelees het nie? En dit kom uit die hartjie van die Ou Testament. Hy is ‘n God van liefde, en hier sien ons net weereens hoe wonderlik Sy liefde is, en nog al die jare was. Vandag is Sy liefde vir jou en my nog steeds net so wonderlik groot. Kyk verby al die sonde en goddeloosheid en swaarkry, en jy sien God se liefde bo alles uitstaan.

Gebed:

Dankie Here, vir hierdie mooi verhaal van liefde, en dankie bo alles vir U liefde vir my.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026