Eksodus 19:1-15
Moses is baie opgewonde - sy hart klop in sy keel, want voor hom troon die berg Sinai. Hier aan die hange van dieselfde berg het hy vir die eerste keer met God kennis gemaak. Hoe anders was die omstandighede nie daardie tyd nie. Ja, toe was hy nog maar ‘n skaapwagter - stoksiel alleen in die barre wêreld, met net sy skoonpa Jetro se skape en bokke. En nou, presies drie maande na daardie nag van verskrikking (dis nou vir die Egiptenare!) staan hy weer voor dieselfde berg met meer as drie miljoen mense agter hom. Ja, hy het ‘n lang pad gekom tot hier. Hy wil sy kop in skaamte wegsteek as hy terugdink aan daardie dag by die brandende doringbos, hoe hy probeer verskonings uitdink het om nie die volk te gaan haal nie. Hy het gedink dat hy totaal onbevoeg is vir so ‘n groot taak. Hoe verkeerd was hy nie! Hoe klein het hy nie vir God geskat daardie dag nie!
“Hier gaan ons kamp opslaan,” gee hy die bevel deur aan die leiers, “Hier moet ek eers met die Here gaan praat!” Vir ‘n man van tagtig klouter hy die berg nogal baie rats uit. Dis is ruwe terrein besaai met reuse rotse en klippe, maar Moses het net één ding in gedagte: om op hierdie berg te kom. Sy asem jaag as hy al hoër en hoër klouter. Voor hom toring die swart lawakranse op tot waar hulle verdwyn in die hemel.
En dan hoor hy die stem van God daar van bo iewers af kom: “Moses!”
Moses se hart klop in sy keel. "Here God, ek luister....."
“So moet jy vir die huis van Jakob sê, sodat jy die Israeliete kan inlig. Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenare gedoen het, en hoe Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My gebring het.”
Gevul met groot ontsag, sak Moses op sy knieë neer voor die Heilige God. Die Almagtige gee vir Moses opdrag om aan die volk oor te vertel dat as hulle Hom gehoorsaam en Sy verbond hou, dan sal Hy hulle Sy persoonlike eiendom maak. Hy sal Sy Koninkryk bou uit hulle en hulle sal vir Hom ‘n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees. Dan voeg die Here by dat Moses vir hulle dit moet duidelik maak dat die ganse aarde wél aan Hom, die Here behoort, maar dat Hy juis húlle as Sy eiendom gekies het.
Dit was groot en kosbare oomblikke daar saam met die Here, op dieselfde plek waar hy die Here vir die eerste keer gesien het. Hy kan nie baie mooi begryp waarom die heilige God juis hierdie volk wat niks anders kan doen as om te kla en in opstand te kom, uitgekies het om Sy volk te wees nie. Maar hy respekteer God se keuse en doen wat die Here vra.
Alle oë is op Moses gerig wanneer hy later moeisaam die berg afkom. Hulle kon sien dat daar iets baie groot gebeur het met die ou man. Hy roep die leiers bymekaar en vertel vir hulle wat God Almagtig daar op die berg vir hom gesê het. Soos een man antwoord hulle: “Alles wat die Here gesê het sal ons doen!”
As Moses maar geweet het hoe hol hulle belofte was, dan sou hy seker nie weer ‘n slag die moeite gedoen het om die berg ‘n tweede keer op te klim om aan God te gaan rapporteer nie. Wanneer Moses later daardie dag weer van die berg afkom, het hy nóg opdragte aan die Israeliete. Oor drie dae sou Hy aan die hele volk verskyn en hoorbaar met hulle praat sodat hulle kan weet dat Hy God is en dat hulle Hom kan vertrou. Vir hierdie ontmoeting is daar baie streng reëls wat nagekom moet word.
Die volk moes hulleself gaan reinig en hulle moes hulle klere was om aanvaarbaar voor die Here te verskyn. Boonop word hulle gewaarsku dat niemand te naby mag kom nie, want dit sou noodlottige gevolge hê. God se heiligheid mag onder geen omstandighede geskend word nie. Niemand mag aan die berg raak nie, want dan is hulle alrééds te naby aan God! En as iemand dit sou durf waag om die reëls te verbreek, moes hy om die lewe gebring word!
Ons het so ‘n ietsie van sulke protokol beleef met die twee koninklike troues so 'n paar jaar gelede. Daar was streng voorskrifte oor wat jy mag en nie mag aantrek nie na die huweliksbevestiging. Sekuriteitswagte het almal met arendsoë dopgehou. Maar dit was wêreldse dinge. Hoeveel groter is die Heilige God nie!
Die wonderlike is egter dat Jesus alles kom verander het. Nie alleen het Hy vir God op die aarde kom verteenwoordig vir 33 jaar lank nie, maar na die kruisiging het God die voorhangsel van die tempel simbolies middeldeur geskeur om daarmee te sê dat daardie skeiding tussen God en die mens vir ewig weggeneem is. Deur Jesus het ons nou vrye toegang tot God. Deur Sy versoening hoef ons nou nie meer in vrees en bewing te staan voor die heilige God nie, maar kan ons met Hom praat. En hy praat met ons deur die Woord wat Hy vir ons gegee het. Wat ‘n wonderlike voorreg is dit nie om deel te mag wees van God se familie, en dat ons daarmee sonder vrees aan Hom kan raak!
Gebed:
Here, ek jubel vanoggend, want ek het vrye toegang tot U, die Allerhoogste!