Brood van die Lewe

8 March, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Brood van die Lewe

Johannes 6:22-40

VIDEO OUDIO

Dit was ‘n asemrowende wonderwerk! Die mense van Betsaida-Julius was aangegryp deur dít wat Jesus daar teen die heuwel gedoen het. Voor hulle oë het die handvol vissies en broodjies al meer en meer geword totdat derduisende mense oorgenoeg daarvan kon eet! Dit het hulle verbeelding aangegryp. Die volgende dag was hulle weer daar want as dit manna uit die hemel reën, dan moet jy sorg dat jy skep! ‘n Gratis ete is mos nie te versmaaie nie! Toe hulle egter nie vir Jesus op dieselfde plek kry nie, doen hulle baie groot moeite om Hom op te spoor. Hulle het selfs in skuite geklim en Hom oorkant die meer by Kapernaum gaan soek.

Ja, dit is alles baie mooi en goed om Jesus te soek met so ‘n passie, maar hulle het Hom om totaal die verkeerde rede gesoek! Hulle wou nóg brood hê, nóg wonderwerke sien. Hulle het Hom wél opgespoor, maar Jesus het sommer dadelik dwarsdeur hulle gesien. Hulle het beslis nie verstaan nie, toe begin Jesus vir hulle verduidelik dat die fisiese brood nie belangrik is nie. Dit is die gééstelike brood wat die belangrikste in die lewe is. Daardie wonderbrood van Betsaida-Julius was maar net tydelik, dit kon jou honger slegs vir ‘n kort rukkie stil. Geestelike brood is egter ewig! En jy kan dit slegs op één plek kry, by Jesus!

In vers 27 word Jesus se gesag weereens beklemtoon met die woorde: “Op Hom het God die Vader sy seël geplaas.” Dit beteken dat Hy deur die héél hoogste gesag aangestel is. Hy doen dus alles met die gesag van God. Dit kan natuurlik ook nie anders nie, want Hy is deel van die Goddelike Drie-Eenheid!

Dit wil tóg lyk asof die mense uiteindelik begin begryp het dat Jesus die Messias was. Hulle wou van Hom weet wat God van hulle verwag? Wie anders as die Messias kan so ‘n antwoord gee? Jesus se antwoord was eenvoudig: Geloof! Hulle het miskien wél vermoed dat Hy die Messias was, maar hulle het nie eers náástenby begryp Wie hierdie Messias éintlik is nie.

Die Ou Testament skets alreeds ‘n beeld van Jesus wat jou in aanbidding voor Hom laat neerval. Inderdaad ontmoet ons Hom telkemale in die Ou Testament. Die héél eerste keer sien ons Hom in die Skeppingsverhaal as Skepper van die hemel en die aarde - van die ganse heelal. By talle geleenthede sien ons Hom uit die hemel neerdaal om as God se Boodskapper op te tree. So byvoorbeeld neem Hy die vorm van ‘n man aan as Hy met Abraham kom praat. Hy verskyn verskeie kere aan Moses, eers by die brandende bos en later wanneer die Verbondstent met die teenwoordigheid van God gevul is soos ‘n wolk, is dit Jesus wat daar teenwoordig is. Ook op die berg Sinai waar Moses die wet ontvang, is dit weereens Jesus wat teenwoordig is. Toe die “Engel van God” aan Gideon verskyn, was dit weereens Jesus wat met Gideon praat.

Wat ek hiermee wil sê, is dat Jesus se blote teenwoordigheid jou met groot ontsag vul. Maar wat doen die mense van Galilea? Hulle soek brood! En hulle soek wondertekens. In plaas daarvan dat hulle in aanbidding voor Hom neerval, eis hulle net allerhande dinge. Hoeveel tekens moes Hy nóg doen voordat hulle sou glo?

Hulle het Jesus probeer wys uit die Geskrifte dat God hulle voorvaders manna uit die hemel gegee het en dít was presies wat hulle nou ook wou sien. Hulle wou hê dat Jesus vir hulle manna uit die hemel moes gee, sodat hulle behóórlik kon glo! Hoe ironies tog, want hulle voorvaders het óók God se wonderwerke geminag. Hulle het ál die dinge gesien gebeur daar in die woestyn en dit persoonlik beleef en nogtans het hulle nóóit op God vertrou nie! Nou moes Jesus vir hierdie nuwe geslag Israeliete ook sê: “Julle het My gesien, en tog glo julle nie.” (Joh 6:36)

Die spreekwoord sê dat jy ‘n perd tot by die water kan bring, maar jy kan hom nie maak drink nie! Dit is presies wat hier gebeur het. Al die tekens was daar. Die mense het Jesus gesien en beleef dat Hy waarlik die Messias is. Hulle het die wondertekens gesien gebeur. Hy was binne hulle almal se bereik. Jy kan met die brood in jou hand staan, maar steeds honger wees, om die eenvoudige rede dat jy dit nie eet nie.

Jesus gee vir hulle, maar óók vir ons, die wonderlikste beloftes:

v. 37: “Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie.”

v. 40: “Want dit is die wil van my Vader: Dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo die ewige lewe sal hê, en Ek sal elkeen van hulle op die laaste dag laat opstaan.”

Hoeveel meer wou hulle nog hê? Nogtans verwerp hulle dit! Vandag word Jesus se beloftes steeds op dieselfde wyse weggesmyt!

Hoe ervaar ons vandag vir Jesus? Hy word ál te dikwels afgemaak as ons “Maatjie” en daar word dikwels selfs deur gelowiges amper spottenderwys na Hom verwys, as byvoorbeeld: “Die Man daar bo.” Ons moet onthou met Wie ons te doen het, en dat Hy die hoogste gesag in die hemel beklee. Ja, Hy ís hier teenwoordig - ‘n onbegryplike wonder! Maar selfs hier reg langs my is Hy steeds die Een voor Wie ek in aanbidding moet neerval.

Terselfdertyd moet ons ook vir onsself afvra of ons Sy beloftes reeds ons eie gemaak het? Klou ons daaraan vas met alles in ons?

Gebed:

Here Jesus, ek val vanoggend in groot eerbied en verwondering voor U neer in aanbidding. Aan U kom al die lof en eer en dank en aanbidding toe!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026