Broederliefde

16 August, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Broederliefde

1 Johannes 3:11-17

Om die optrede van mense teenoor mekaar in die Bybelse tyd te verstaan, moet ons begryp watter geweldige invloed ‘n groep mense wat verwant is aan mekaar op mekaar het. Vir die Jode en ook meeste ander nasies rondom die Middellandse See was die gesin die eerste staalsterk band. Gesinslede het deur dik en dun bymekaar gestaan, en absoluut niks kon gesinslede teen mekaar laat draai nie. As die een swaargekry het, het die ander hom gehelp. Die gesin het ook die ooms en tantes en neefs en niggies ingesluit. Die tweede band, wat amper net so sterk soos die eerste was, was dié van volksgenote. Veral onder die Jode was hierdie band staalsterk. Vat jy aan ‘n mede-Jood dan vat jy aan my! Jou volk is in der waarheid jou uitgebreide gesin. Vandag is daardie band nog steeds net so sterk, en die Jode sorg steeds vir mekaar asof vir eie familie.

Ongelukkig het dit soms gebeur dat ‘n gesin skeefgetrek het, en dan was daar probleme, sommer gróót probleme! Die heel eerste gesin wat so geval het was Adam en Eva s’n. Jaloesie het ‘n moordkuil gemaak van Ouboet Kain se hart, en die gevolg was dat hy sy eie broer vermoor het. Die geliefde koning van Israel, Dawid, het sélf liederlike gesinsprobleme gehad. Dawid se seun, Amnon het verlief geraak op sy halfsuster Tamar. Op ‘n slinkse manier het hy haar na sy kamer gelok en haar verkrag. Haar broer, Absalom was hieroor só woedend dat hy sy halfbroer, Amnon vermoor het. Uiteindelik het hierdie haat so verskriklik uitgekring dat dit gelei het tot ‘n staatsgreep, burgeroorlog en uiteindelik tot Absalom en ’n groot klomp onskuldige mense se dood.

Teenoor die gesin wat skeefloop staan die gesin wat vir mekaar omgee tot die dood toe, dáár waar die liefdesband sterker as staal is. Selfs wanneer een van die gesinslede lelik struikel, sal die res hom verdedig met hulle lewe, al weet hulle dat hy skuldig is. Johannes noem sy mede-Christene broers, want al is hulle saamgestel uit ‘n bonte laslappie-kombers van nasies, het hulle een gemeenskaplike Broer: Jesus. Dit maak hulle dus ‘n gesin. Om deel te word van hierdie gesin, gebeur nie sommer maar net nie. In jou aardse gesin het jy ‘n lid geword deurdat jou ma geboorte aan jou geskenk het. Daar is ook ‘n geboorteproses waardeur jy gaan om deel te word van die geestelike gesin: die wedergeboorte deur die Heilige Gees. Dit maak jou ‘n volwaardige lid van die groot gesin van God die Vader. Binne hierdie gesin moet daar natuurlik, net soos in die bloed-gesin, ‘n onlosmaaklike band van liefde wees teenoor mekaar.

Hierdie liefdesband kom op sy sterkste na vore wanneer daar ernstige vervolging van Christene is. Ons het gesien hoe sterk hierdie band kan wees onder die vervolging van Nero. Ons het dit weer gesien destyds met die verdrukking van Christene in kommunistiese Rusland, waar gelowiges letterlik hulle lewens vir mekaar opgeoffer het. Die talle verhale van uiterste liefde gedurende hierdie verskriklike tye, bring trane in jou oë. Vandag gaan dit voort in talle lande, soos Noord-Korea en veral waar Moslem-oorheersing die botoon voer.

Daar is drie soorte liefde wat in ‘n gelowige se lewe teenwoordig moet wees. Die eerste is natuurlik die allesoorheersende liefde vir God. Die tweede is ‘n naasteliefde soos wat Jesus dit beskryf het in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Dit is ‘n praktiese omgee-liefde vir jou medemens, al is hy ook ‘n veragte, 'n ongelowige of selfs jou vyand. Die derde is die liefde wat Johannes hier noem, die broederliefde vir jou mede-gelowige. Hierdie is ‘n liefde wat alles-omvattend is en uit God gebore is. Dit is ‘n liefde wat vergewe wanneer jou broer teenoor jou sondig, en ten spyte van sy swakhede steeds deur dik en dun by hom of haar staan.

Hoe groot moet die liefde werklik wees? Jesus het die voorbeeld kom stel toe Hy absoluut alles opgegee het om die groot versoeningsdaad te kom doen. Hy het Homself verneder deur ‘n mens te word. Hy was aanvanklik eers ‘n kind wat deur volwassenes bloot as eiendom beskou is. Later het Hy ‘n brandarm straatprediker geword wat dikwels in die veld moes slaap. Hy is verwerp deur Sy eie gesin en verraai en verloën deur Sy eie intieme vriendekring. Hy is wreedaardig op die mees vernederende, pynlike, vervloekte manier tereggestel, alles vir Sy gesin, ek en jy. Natuurlik verwag Hy nooit dat ons presies dieselfde sal doen nie, want dit is nie menslik moontlik nie. Maar ons moet strewe na daardie liefde wat Hy openbaar het.

As daardie soort liefde vir ons mede-gelowiges in ons teenwoordig is, sal daar nie plek wees vir haat, twis, jaloesie, skinder en kwaadpraat teenoor ons broers en susters in Jesus nie. Maar dit durf ook nie net by ‘n gevoel bly nie. Hierdie liefde moet ook konkreet en prakties uitgeleef word deurdat ons positief vir mekaar sorg. Wanneer iemand swaarkry behoort dit net natuurlik te wees om te help waar ons kan. Op hierdie manier kom die liefde van God tot volle uiting in ons lewe.

Gebed:

Here, daar is steeds soveel liefdeloosheid in my lewe. Leer my asseblief om waarlik lief te hê.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Kos vir ‘n Reuse Skare
9 October, 2026
Vervolging
8 October, 2026
Persecution
8 October, 2026
Sent Out
7 October, 2026
Uitgestuur
7 October, 2026