1 Timoteus 4:6-9
Die gimnasium is gewoonlik ‘n baie gewilde plek. Daar word geoefen, ge-fietstrap, gedraf en gesweet dat die biesies bewe! Sommige van die “martelare” hyg en blaas en elke oomblik is ‘n pyniging, maar hulle byt vas! Ander weer doen vir ure aanmekaar die mees moordende oefeninge sonder ‘n druppeltjie sweet. En dan is daar natuurlik altyd die paar wat maar net daar rondhang om raakgesien te word, of om die mooi lywe uit te kyk.
Die feit is egter dat enigeen wat ‘n goeie atleet wil wees, daagliks tyd moet spandeer in daardie martelkamer. Om ‘n ware presteerder op die baan te wees, moet jou spiere soepel, glad en sterk wees en dit kry jy beslis nie deur langs die swembad te lê en ginnegaap nie. Dit kos harde werk en emmersvol bloedsweet. Dit help ook nie as jy maar net elke nou-en-dan ‘n oefensessie inkry nie! Dit kos daaglikse dissipline en uithouvermoë om so gereeld soos klokslag presies genoeg van die regte soort oefening in te kry!
Paulus sê in vers 8 dat om jou liggaam te oefen wél so ‘n bietjie waarde het, maar om in toewyding aan God te lewe het in alle opsigte gróót waarde. ‘n Lui, oorgewig atleet wat heeldag in die kooi lê, gaan dit absoluut nêrens bring op die atletiekveld nie. Net so gaan ‘n geestelike oorgewig en lui gelowige dit nêrens bring op die geloofsveld nie. Hy gaan maar net daar wees! Dikwels hoor ek mense kla dat hulle verhouding met die Here veel te wense oorlaat. Hulle bly terugval en hoe “hard” hulle ookal probeer, kom hulle net nêrens nie. “Ek kom nou nie juis so gereeld in die kerk nie,” glip gewoonlik êrens in die gesprek uit. Die simptome is gewoonlik dat hulle sukkel om te bid, dat dit voel asof hulle gebed nêrens kom nie en dat die Here nie luister nie. Boonop is Bybel-lees ‘n marteling, want hulle verstaan nie wat hulle lees nie. Dan is daar gewoonlik ook die een of ander verhouding met ‘n medegelowige wat nou nie juis maanskyn en rose is nie. Soms is dit selfs die verhouding met ‘n huweliksmaat.
Hierdie is gewoonlik alles simptome van ‘n “lui” verhouding met God. Hoe fikser ‘n atleet is, hoe beter vaar hy op die veld. Dieselfde geld in die geloofslewe: hoe fikser jy geestelik is, hoe beter is jou verhouding met die Here. En hoe raak jy fiks? Deur te oefen!
Waar begin so ‘n oefenprogram? Die heel eerste stap is om ‘n gereelde stiltetyd vir jouself in te stel - ‘n tyd wat jy opsy sit vir God. In hierdie tyd raak jy stil voor die Here, spandeer tyd in gebed en lees uit die Woord. ‘n Goeie kommentaar maak jou Bybellees sinvol, veral as dit agtergrond verskaf oor die gedeelte. Die voordeel van ‘n kommentaar is dat dit jou ‘n deeglike agtergrond gee van wat die omstandighede was toe dit oorspronklik geskryf is, en wat presies die skrywer daarmee bedoel het. Dit gaan nie hier slegs oor geskiedenis nie, maar dit help my om te verstaan wat die gedeelte vandag vir my wil sê. Dit is dan ook baie nodig om tyd te spandeer om die gedeelte wat jy gelees het deeglik biddend te oordink en dit jou eie te maak.
Wat bereik jy deur so ‘n oefening? Kennis van die Woord is baie belangrik want sodoende verbreed jy nie alleen jou Bybelkennis nie, maar ook jou kennis van die omstandighede in die skrywer se tyd. Die tweede belangrike ding waarby jy baat is dat jy ‘n duideliker beeld kry van God se wil in jou eie lewe. Die belangrikste is egter dat die tyd wat jy so saam met God spandeer absoluut kosbaar is. Geestelik word jy versterk en jy leer om nader aan God te leef.
Nou kan jy nog ‘n stappie verder gaan en elke dag neerskryf wat jy leer uit die gedeelte. Begin met ‘n enkele sinnetjie. Later kan jy dit uitbrei na ‘n paragraaf en uiteindelik kan jy ‘n hele oordenking skryf oor elke dag se ondervinding saam met God. Dit werk baie goed om te probeer om iets te skryf sodat iemand anders dit kan verstaan. Nie alleen kan dit uiteindelik vir iemand anders waarde hê nie maar dit brand die gedagte vas in jou geheue. Dit is presies wat ek elke dag doen. Die voordeel is dat nie alleen ekself baat vind hierby nie, maar elkeen met wie ek dit deel vind baat en kan leer uit my ondervinding.
Nou sê jy dalk dat hierdie gedeelte mos eintlik vir leraars geskryf is. Hoe kry ek dan nou die kloutjie by die oortjie? Die feit is dat wat vir my en jou as “gewone” lidmate geld, geld ook vir leraars. Vir hulle moet die “oefening” egter nog baie meer intens wees omdat die wedloop soveel strawwer is. ‘n Leraar moet elke dag op sy tone wees en nie vir ‘n oomblik sy oefening laat slaplê nie, want op sy skouers rus daar ‘n geweldige groot verantwoordelikheid. ‘n Hele gemeente kyk op na hom vir geestelike leiding en as sy verhouding met die Here nie na wense is nie, is sy leiding afgewater. Sy taak is om die gemeente te leer en as hy nie gedurigdeur studeer nie, gaan die kennis wat hy moet oordra verflou. Daagliks moet hy ‘n steunpilaar wees vir mense in nood en as hy sélf nie die nodige krag van die Here kry nie, sal hy inmekaar sak onder die druk. Jjuis om hierdie rede word leraars verplig word om kursusse by te woon om hulle ampsbevoegtheid te behou.
In kort kan ek net opsom: Oefen, oefen, oefen - so kom en bly jy bo!
Gebed:
Here, ek bely dat ek dikwels laat slaplê. Gee my asseblief die deursettingsvermoë om gereeld my geestelike oefening te doen met passie!