Bly in MY liefde

12 February, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bly in MY liefde

Johannes 15:1-17

Video

Audio

Die aand voor Sy kruisiging gebruik Jesus die beeld van die wingerdstok. “Bly in My,” het Jesus by Sy dissipels gepleit. “Bly in My,” pleit Hy ook by jou en my! In die gelykenis sien ons hoedat die lewenssap bruis deur die lote, en lewe gee in oorvloed. Die sap gee ongekende groei en dit laat die loot heerlike, stroopsoet, sappige druiwe dra. Lote wat in Jesus bly, is vasgeanker aan die Wynstok. Dit is ook nie alleen die ewige lewe wat hier ter sprake is nie, maar ‘n geestelike lewe wat bruis en groei en vrugte dra. Die rede is dat Jesus die “lewenssap” deur ons are laat bruis, net soos in die Kaapse wingerd.

Wat is die doel van dit alles? Johannes sê in vers 8 dat dit is sodat die Vader hierdeur verheerlik kan word.

Jesus het al by verskeie geleenthede gesê dat die Vader Hom liefhet. Dit is baie belangrik om dit te weet. Nou vergelyk Jesus die Vader se liefde teenoor Hom met Sy liefde teenoor ons. Hy het Sy dissipels (dit sluit natuurlik jou en my ook in) net so lief as wat die Vader Hom het. Dit is ‘n baie groot liefde! Jesus vra egter ook iets van ons. Dit durf nooit by ‘n eensydige liefde bly nie. Die vraag is al baie gevra: “Hoe bewys ek my liefde teenoor Jesus?” Hy gee hier Persoonlik die antwoord in baie eenvoudige taal. Hy sê in die eerste plek dat Hy nie sommer iets onmoontlik van ons vra nie. Hy het die voorbeeld kom stel. Hy het die opdragte van die Vader kom uitvoer as bewys dat Hy ook die Vader liefhet. Op dieselfde wyse móét ons Jesus se liefde beantwoord deur Hom ook lief te hê. Die bewys van ons liefde vir Hom, is om Sy voorbeeld na te volg en Sy opdragte uit te voer. Let wel: Die opdragte wat ons van Jesus kry is nie náástenby so moeilik as die opdrag wat Hy van die Vader gekry het nie.

Wat is Jesus se opdrag aan ons? Dit is ‘n verskriklike moeilike een: “Julle moet mekaar liefhê!” Is ek snaaks as ek sê dat dit baie moeilik is? Nee, want dit kom sommer so vanself om liefdeloos op te tree. Dit kos inspanning en selfbeheersing om in alle omstandighede mekaar lief te hê, veral as iemand in ‘n krisis beland. Dit is so maklik om hom te beskinder en swart te smeer. Jy maak daardie persoon letterlik dood met jou woorde. Dit is moord! Liefde is om niks te sê wat ‘n ander persoon kan seermaak nie, maar terselfdertyd ook positief teenoor daardie persoon op te tree en te probeer help.

Om Jesus se opdrag uit te voer, beteken om liefde te dink, liefde te voel, liefde te doen, liefde te leef. Liefde moet die totale rigsnoer van jou lewe wees. Het Jesus nie as Mens juis so geleef nie? Wat ‘n wonderlike voorbeeld om na te streef!

Dit wil tóg vir my lyk asof daar twee norme gestel word wat die uitleef van ons liefde betref. In die eerste plek is daar die liefde wat in die wet beskryf word, naamlik dat ek my naaste moet liefhê soos ek myself het. Dit is wat die Here van my verwag. Maar die liefde wat Jesus hier beskryf is ‘n baie meer intieme liefde, een wat nog meer intens is. Dit is die liefdesband tussen medegelowiges. Jy gaan immers jou eie broer of suster baie meer liefhê as ‘n vreemdeling. Wel, in Jesus is alle gelowiges boeties en sussies. Dit is dus egte naby-familiebande wat ons aan mekaar bind.

Wat behels so ‘n liefde? Paulus het dit baie duidelik uitgespel in 1 Kor. 13, waar hy onder meer sê dat liefde geduldig is en vriendelik, nie grootpraterig, afgunstig, liggeraak of verwaand nie. Onwelvoeglikheid en eie belang is twee dinge wat nie in liefde se woordeboek voorkom nie, en van boekhou oor die kwaad is daar geen sprake nie. As jy Jesus se liefde in jou het, sal jy jou nie verlekker in onreg nie, maar bly wees as die waarheid seëvier.

Maar weereens moet ons besef, soos ek reeds hier bo genoem het, dat alles uiteindelik primêr gaan oor die Vader, en dat Hy eerstens in die uitleef van ons liefde verheerlik word. Dink so daaraan: as twee broers sou baklei, wie is dit wat die seerste kry? Hulle ouers word deur hulle koppestamp seergemaak! Húlle is die ouens wat die meeste ly uit die onenigheid. Aan die ander kant: het jy al ooit gehoor hoe ‘n pa kan spog as hy vertel van sy kinders wat so lief is vir mekaar? Dat hulle enigiets sal doen om mekaar te beskerm? Daardie pa wil bars van trots! Daar is niks in die lewe wat hom meer plesier verskaf nie.

God is ons Vader, en op presies dieselfde manier maak ons Hom bly as ons ons liefde prakties en op ‘n baie tasbare wyse teenoor ons boeties en sussies in die geloof uitleef. Liefde teenoor ons medemens, veral ons medegelowige is onlosmaaklik deel van ons liefde teenoor God. As ons mekaar nie liefhet nie, is die uitleef van ons liefde teenoor God nutteloos.

Jesus sluit hierdie perikoop af, deur terug te kom na die gedagte van die wynstok. Die dissipels, en dit sluit natuurlik ons ook in, is aangestel om uit te gaan en vrugte te dra. Soos die heerlike soet, sappige druiwekorrels aan die wingerdlote, so moet ons liefde ook vir mekaar wees, soet, sappige vrugte. Maar dit is nie maar net ‘n versoekie van Jesus nie, dit is ‘n bevel: “Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!” (v. 17)

Gebed:

Here, ek staan vanoggend diep skuldig voor U, want my liefde vir my medegelowiges is afgewater. Help my asseblief om hulle onvoorwaardelik lief te hê.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026