Eksodus 7:14-8:15
Oor die wonderteken wat die Here deur Moses gedoen het, om die kierie in ‘n slang te verander, is die Farao nie juis beïndruk nie. Hierdie is egter maar net die begin van God se plan. Nou sal hierdie Farao en die Egiptenare sien Wie God waarlik is. Hy gee Moses die bevel om die eerste van ‘n reeks “plae” in werking te stel. Stadigaan sal dit die klipharde koning sag maak. Eintlik moet ons hulle gladnie as plae sien nie. Hulle is eintlik wondertekens wat God se almag vertoon aan die afgodsaanbidders van Egipte. Terselfdertyd moet hierdie tekens ook die gelowige Israeliete se geloof in God versterk.
God gee Moses noukeurige instruksies oor presies wat hy moet doen en wat hy vir die Farao moet sê. En dan, vroeg een oggend stap Moses en sy segsman-broer Aäron af na die Nylrivier om die Farao in te wag.
Presies soos God Moses beveel het, doen hy en wanneer die Farao die oggend by die Nyl aankom, wag die tagtigjarige Moses reeds vir hom. “Die Here die God van die Hebreërs het my gestuur.” kondig hy aan.
Die Farao kyk hom half spottend aan - “Watter toorkunsie gaan die ou woestynrot vanoggend uit sy hoed trek?” wonder hy.
“Na wat nou gaan volg sal jy wéét dat Hy die Here God is!” waarsku Moses hom.
Die Farao lag hom spottend uit, maar dan gee Moses vir Aäron opdrag om met sy kierie op die Nyl te slaan. Voor die verdwaasde oë van die Farao verander die ganse Nyl se water in ‘n dik, rooi sop. Die reuk daarvan is onmiskenbaar dié van bloed. Die Farao steier verskrik terug. Maar Moses is nog lank nie klaar nie: Baie dramaties swaai Aäron die kierie in 'n wye sirkel om hiermee te wys dat dit nie slegs die Nyl is wat só besoedel word nie, maar al die strome, fonteine, damme en moerasse so ver as die oog kan sien. Skaars het hy dit gedoen, of die eerste visse kom na die oppervlak van die Nyl om te soek na suurstof. ‘n Uur later dryf daar oral dooie visse rond!
Die Farao is woedend: een van die land se groot heiligdomme is aangetas! Maar gelukkig het hy darem nog water in sy paleis. Maar as hy daar kom, moet hy uitvind dat selfs die water in sy paleis in bekers en komme in bloed verander het. Teen die volgende dag begin dit stink na vrot vis en vrot bloed. Die stank raak ondraaglik. “Sê my dis net ‘n goëltoertjie!” skree hy woedend op sy wyse manne.
“Inderdaad!” bevestig hulle. “Ons kan dit ook doen.” Maar nie een van hierdie wyse manne was in staat om hierdie afgryslike " goëltoertjie" van Moses ongedaan te maak nie!
Vir 'n volle week lank word die Egiptenare geteister met hierdie walglike, ondraaglike toestand. Nêrens is daar 'n druppel water nie, net hierdie afgryslike, stinkende, walglike vrot bloed!
Wanneer God besluit het dat die Egiptenare nou genoeg gehad het, klaar Hy die situasie op. Dan stuur God weereens vir Moses na die Farao. Hierdie keer is dit nie maar net ‘n versoekie nie, maar Moses moet die Farao beveel om die volk te laat gaan om in die woestyn te gaan aanbid. As die Farao weier om hulle te laat gaan sou die tweede groot teken van God hulle tref - ‘n plaag van paddas.
Weereens is dit een van die Egiptiese afgode wat die teiken is - ‘n sogenaamde godin met die kop van ‘n padda. Volgens hulle geloof was sy verantwoordelik vir die geboorte van kinders.
Natuurlik, presies soos Moses verwag het weier die Farao. Dan gee Moses vir Aäron opdrag om weer die kierie dramaties in alle windrigtings te swaai. Die Farao wou nie hoor nie - nou moet hy maar die gevolge dra! Skielik begin paddas oral uitpeul in hulle hordes! So word daar ‘n bespotting gemaak van die Egiptiese paddakop-afgod. Die glibberige, slymerige dierasies begin oral uitkruip, inkruip en opduik, totdat die Egiptenare naderhand wil skreeu! Dit help nie om die aaklige goed uit die huis uit te smyt nie want jy maak net plek vir nóg meer paddas, paddas, en nogmaals paddas!
Dan kan die Farao dit net nie meer vat nie en hy laat roep vir Moses: “Raak asseblieftog nóú ontslae van hierdie afgryslike goed! Bid asseblief tot julle God en vra Hom om die paddas weg te vat! Ek belowe, dan sal ek jou mense laat gaan sodat hulle kan gaan offer.”
“U Majesteit,” spreek Moses die Farao sarkasties aan, “en wanneer wil u hê dat ek vir u moet gaan bid?”
“Doen dit môre!”
Moses gee hom die versekering dat hy dit wél sal doen. "Dan sal u wéét dat die Here God die almag het!"
Moses het gebid soos hy belowe het en God het al die paddas laat vrek. Dit het ‘n groot gemors veroorsaak in die land, met stinkende dooie paddas wat oral in hope lê.
Maar anders as Moses, het die Farao nie sý belofte nagekom nie!
‘n Mens speel nie met God nie! Ja, Hy is inderdaad oneindig genadig, maar eendag raak Sy genade op vir die mens wat hom aaneen teen God se roepstem verset! Die Farao moes dit op die harde manier uitvind toe die tiende plaag hulle tref. Nege keer het God se genadige roepstem na hom gekom. Maar toe hy uiteindelik wil antwoord, was dit reeds te laat. Hoeveel keer het God se roepstem reeds na jou gekom?
Gebed:
Here, dankie vir hierdie wonderlike verhale uit die Ou Testament. Maar dankie ook, Here, dat ons hieruit kan leer en dat daardie ou, ou verhale steeds vars en nuut kan wees en dat ons hieruit U almag kan sien!