2 Tessalonisense 2:1-12
Die uitmergelende droogte duur voort. Die dorre aarde hyg, smagtend na ‘n druppeltjie reën. Genadeloos bak die felle son elke greintjie lewe uit alles waarin daar lewenssap vloei. Rooibokramme, eens trotse sultanne met bekoorlike harems, nou lustelose wandelende geraamtes wat doelloos rondstrompel op soek na iets groen wat nie is nie. Waar daar slegs enkele maande gelede nog veldblommetjies vrolik gelag het, is nou net die barre rooi grond, leweloos en uitgebak. As die rooibok sleepvoet voortwaggel, slaan die stoffies op waar sy moeë pote slof-slof.
‘n Paar vlakvarke ploeg die harde rooi grond om met hulle taai snoete. Iewers daar onder moet ‘n wortel of iets wees wat eetbaar is. Klippe word uitgehaak met groot, krom slagtande. Af-en-toe hap hy iets denkbeeldig. Maar die humeure is bitter kort. Dit kos net ‘n skewe kyk om ‘n vark woedend na sy maatjie toe te laat gaffel met daardie dodelike wapens. As die maat hom durf wip, breek daar ‘n verwoede geveg los, en in ‘n wolk stof word die swakker een gejaag totdat hy uit die gesigsveld verdwyn.
‘n Koedoe kom bedel vir kos. “Daar is niks in die veld om te eet nie,” sê haar droewige oë. “Hoe moet ek oorleef?” Op die stoep staan ‘n groot pot pap. Hieruit het die duikertjie, die bosbokooitjie, die varke en die tarentale al daaglikse rantsoene gekry. Ek tel die deksel op en sy staan nader. Sy hap-hap al na die pap terwyl dit nog op die houtlepel is, en skaars land dit op die grond of dit verdwyn in haar honger keelgat af. Twee jong vlakvarkies trippel nader vir hulle deel. Een sê ‘n paar lelike woorde vir die koedoe wat so gulsig alles opslurp, en die koedoe vererg haar. Die volgende oomblik weerklink daar ‘n oorverdowende blaf-brul en die varkies skarrel verskrik weg, maar hulle skuifel sommer dadelik weer nader. Mevrou Koedoe gluur hulle met vlammende oë aan. Die een klein japsnoet kom snork-snork soos ‘n klein jack russell in haar gesig. Wéér brul die koedoe, en draai dan om. Sy sien die houtlepel op die pappot lê, gryp dit behendig met haar rasper-tong en begin kou dat die splinters spat!
Almal is honger!
Die afgelope paar dae was kraaiegaap-warm. Kort-kort bou daar ‘n paar belowende wolkies in die lug op, om maar net weer deur die gloeiende son verdamp te word. Toe dit teen die Woensdag dig toetrek wou ek jubel, maar helaas: teen die tyd dat die maan opkom, was die hemel alweer sterbelaai - nie ‘n wolkie in sig nie.
Die nuwe dag begin soos enige ander bosveldoggend: propvol belofte van nog ’n snikhete, kurkdroë dag. Tóg is daar iets anders - iets vol verwagting. Die hitte raak drukkend en ondraaglik. En dan merk ek dit: ‘n vae donkerheid wat ons bekruip. Ek stap om die huis, ‘n pikswart wolkbank borrel en kook in die suide. ‘n Vae rammeling is musiek vir my ore. Binne-in my jubel dit! Moontlik, net dalk miskien gaan dit vandag reën!
Swart-grys dreun die wolke oor ons heen, rammelend en blitsend. ‘n Belofte van die geopende sluise van die hemel drup-drup in die poeierstof. Terwyl die aarde skud en bewe as magtige elektriese ontladings die lug om die strale laat ontplof, begin die reën saggies neersif. Die heerlike geur van reëndruppels wat die stof benat, vul die lug. Ek trek my longe diep vol om elke greintjie te proe. Salig!
Maar helaas: die storm rammel voort, verby, tot dáár diep in die Kruger Wildtuin, sonder dat die hemelpoorte vir ons oopgaan. Vir ‘n lang ruk hou die reëndruppeltjies so aan om saggies te val, en dit benat die verstikkende stoflaag sodat die veld heerlik vars ruik.
Daar is ‘n blydskap in die lug, al het dit nie werklik gereën nie. Die voëltjies kwetter vrolik, en dit lyk sommer of daar nuwe lewe, nuwe hoop in die veld is. ‘n Familie kakelaars speel luidrugtig wegkruipertjie in die gate van ‘n hol knoppiesdoring se stam. Dit lag en skerts en koggel en lawaai dat hoor en sien vergaan. Wie weet, môre, dalk oormôre kom die groot reën.....
Paulus kom nou by die eintlike saak waaroor hy wou skryf: Jesus se wederkoms. By baie gelowiges is daar ‘n groot verwagting oor die terugkeer van Jesus. Soos die dorre aarde smagtend is na reën, so smag die skepping daarna dat Jesus sal kom, want alles begin net te veel raak vir baie gelowiges. Die verskriklike geweld, oorloë, onreg, moord, verkragtings, klimaatsverandering - alles maak dat ons wil pleit: “Kom Here Jesus, kom gou!” En dan sien ons die tekens van die tye, soos wat dit in Openbaring beskryf is, soos donderwolke, propvol belofte van reën. Maar hierdie is nog nie die einde nie. Dit is net die troos om te sê dat ons moet moedhou, en dat dit baie, baie naby is!
Ons moenie toelaat dat hierdie tekens ons bangmaak of onderkry nie. Soos die bokkies huppel en uitgelate rondhardloop wanneer die wolke opkom, so moet die tekens ook ons as gelowiges opgewonde maak en vul met blydskap, want dit is deel van die groot belofte.
Gebed:
Here Jesus, my hele wese smag daarna dat U baie gou sal kom. Die hele skepping staan reeds in afwagting!