Romeine 1:24-28
Iemand doen eendag navraag oor die dagstukkies. Sy wil toe weet wat die koste is om hulle te kan ontvang. Sy wou bereken of sy dit sou kon bekostig. Hierdie vragie het my hard aan die dink gesit en ek antwoord haar toe: “Dit sal kos dat jy dit sal lees. Dit sal kos dat jy die boodskap sal oordink. Dit sal kos dat jy daaroor sal bid. Dit sal kos dat jy dít wat die Heilige Gees deur die boodskap vir jou sê jou eie sal maak en dit uit te leef. Dit sal kos dat jy die boodskap so wyd as moontlik sal bekend maak en met ander deel, net soos wat iemand dit dalk ook met jou gedeel het. As hierdie koste nie vir jou te groot is nie, stuur ek dit vir jou gratis aan met groot liefde.” Dalk moet ek vir jou ook vanoggend hierdie vraag vra: “Kan jy bekostig om hierdie dagstukkies te ontvang?”
Wat is die ergste ding wat met iemand kan gebeur? Ek dink die verskriklikste is om aan jou eie sondige self oorgelaat te word. ‘n Mens se natuurlike sondige ingesteldheid lei uiteindelik tot selfvernietiging en juis daarom is die ongelowige sy eie grootste vyand. Baie mense dink dat vryheid juis daarin lê dat jy nie aan God en al Sy gebooie gebonde is nie. Die feit is egter dat jy met so 'n siening jouself onwetend blootstel aan die ergste vorm van slawerny, die slawerny van sonde wat op selfvernietiging en uiteindelik die dood uitloop!
As sondige drange jou lewe begin regeer, eis dit sy tol van jou liggaam. 1 Kor. 6:12-20 stel dit duidelik dat jou liggaam die tempel van God is waarin die Heilige Gees woon. Jou liggaam is dus in die eerste plek daar om fisiek uitvoering te gee aan die dinge wat God van jou vra. As jy jou oorgee aan jou sondige en selfsugtige begeertes, dan is jy besig om die tempel van God te onteer. Hierdie begeertes kan baie vorms aanneem: obsessiewe seksuele gedrag, alkoholmisbruik, nikotienverslawing, dwelms, verslawing aan kos en selfs dieetverslawing en werkverslawing. Al hierdie dinge kan jou liggaam op die lang duur afbreek.
Maar Paulus gaan ‘n stappie verder wanneer hy praat van die gevare van ‘n mens se sondige drange: dit gaan ook oor verhoudings. In die leefwêreld van die Romeine was losbandigheid ‘n algemeen aanvaarde praktyk, ook tussen mense van dieselfde geslag. Selfs van die keisers was betrokke in sulke walglike orgies, onder andere die berugte Nero. Paulus noem dit teen-natuurlik, pervers en onbetaamlik (Rom 1:26-28).
Vandag gaan daar baie sterk stemme op vir die erkenning van die regte van persone wat in 'n selfdegeslag-verhouding staan en daar is baie mense wat sulke verhoudings as ‘n alternatiewe lewenswyse sien. Die vraag is: hoe moet ek dink oor sulke verhoudings en hoe moet ek sulke mense benader? Wat is die Bybelse beginsels in hierdie gevalle?
In die eerste plek moet ons altyd die grootste gebod onthou, naamlik liefde. As gelowige moet jy in alle gevalle in liefde optree soos wat Jesus ons geleer het. ‘n Gelowige durf nooit so optree dat God se genade enigsins verduister word nie.
In die tweede plek durf ons ook nie so 'n persoon met ‘n gesindheid van hoogmoed benader nie. “Ek is beter as jy, want ek is normaal!” Sulke hoogmoed gee natuurlik ook aanleiding tot kwaadpratery, skinder en liefdelose hardvogtigheid. Dit is sonde! Die vraag is of 'n verhouding met iemand van dieselfde geslag dan ‘n erger sonde is? Hiermee wil ek beslis nie tot die "gay-debat" toetree nie. Uit die Skrifgedeelte wat ons vanoggend lees wys Paulus ons egter daarop dat sulke losbandigheid beteken dat jy ongehoorsaam is aan God. In werklikheid is énige vorm van losbandigheid sonde!
Beteken dit dan dat iemand wat in 'n selfdegeslag-verhouding staan, verlore is? En is dit ooit werklik sonde? Wat presies skryf Paulus in hierdie verse? Meeste teoloë is dit eens dat wat Paulus skryf, niks te doen het met selfdegeslag-verhoudings nie, maar dat dit gaan oor die gruwelike praktyke daardie tyd van losbandige orgies waarvan ons hier bo gepraat het.
Ons moet onthou dat God se genade eindeloos groot is. As iemand in só 'n verhouding verdoem en verlore moet wees, dan is ek óók totaal verlore, want my sondes is enige tyd net so groot, indien nie groter nie! Ek ken baie persone wat in selfdegeslag-verhoudings staan wat toegewyde gelowiges is en meer in die gemeente se aktiwiteite deelneem as meeste ander lidmate. Ek weet ook van sulke persone wat uit die gemeente uitgedryf is as gevolg van ‘n onsensitiewe, verdoemende preek! Hulle was só verontnugter dat hulle nooit weer hulle voete in daardie kerk sal sit nie. Hiermee is die hele punt gemis, want die doel is juis om mense in die kerk te kry en nie om hulle daaruit te verdryf nie!
Ek en jy moet baie mooi selfondersoek doen oor ons eie lewens voordat ons ander mense veroordeel. Hoe lyk my lewe? Is ek sonder sonde? Is daar nie dalk dinge in my lewe wat ek moet regmaak voordat ek ‘n vinger durf wys nie? Hierdie gedeelte van Paulus handel oor verhoudings - hoe lyk die verhoudings in my eie lewe? DV sal ons more ‘n bietjie besin oor die verhoudings waarin ons staan.
Gebed:
Here, gee my asseblief ‘n gesindheid van liefde in my hart teenoor almal waarmee ek in aanraking kom en neem asseblief daardie sondige veroordeling uit my hart!