Efesiërs 4:17-24
Paulus pleit vanoggend by ons: “Julle moenie meer soos die heidene met hulle niksbeduidende gedagtes leef nie.” Die heidene van daardie tyd was natuurlik al die nie-Joodse volke wat rondom die Middellandse see gewoon het. Die stories wat jy hoor, van hoe meeste heidene geleef het, laat die hare op jou nek regop staan! Dronkpartytjies en seksorgies was ‘n alledaagse. Die skokkende is dat baie van hierdie vulgêre dinge juis in die tempels van hulle afgode bedryf was! Daar was in sommige gevalle selfs amptelik tempelhoere in die tempels aangestel! Uit die Griekse geskiedenis sien jy ‘n magdom afgode wat mense aanbid het. Sommige van die asemrowende tempels staan vandag nog.
Aan die anderkant van die prentjie was daar die Romeine. Hulle het die ganse wêreld oorwin deur hulle oorlogmasjien wat net eenvoudig oor alles en almal gestoomroller het. Diegene wat nie wou saamspeel nie is eenvoudig vernietig! Die Roemeine was bloeddorstig, nie alleen in hulle oorloë nie, maar ook in hulle ontspanning. Die Kolosseum pryk vandag steeds in Rome as monument vir die talle mense, veral Christene wat daar ‘n grusame dood gesterf het. Vriende was gedwing om teen mekaar te veg tot die dood toe. Christene is lewendig vir leeus gevoer of deur gladiators vermorsel tot groot vermaak van die Romeine! Alles net om die mense se onversadigbare bloedlus te bevredig!
Maar dan was daar ook natuurlik al die onderstrominge tussen die manne in die boonste gestoeltes in hulle begeertes na mag. Verraad, korrupsie, moord, rugstekery (letterlik en figuurlik) was aan die orde van die dag en selfs die keisers het dit nie ontkom nie!
Verskriklik! Afgryslik! Ja, dit is seker so, maar is dit nie maar presies wat vandag gebeur nie? Dikwels is dit vandag selfs nog baie erger! Dronkpartytjies is steeds aan die orde van die dag en die skokkende is dat dit deesdae nie ‘n skande is om met ‘n babelaas by die werk op te daag nie, jy spog eerder daarmee! In die kroeg spog die manne oor hoeveel “onskuldige” meisies hulle al op hulle kerfstok het en wanneer ‘n klomp vrouens partytjie hou hoor jy nét so hoeveel mans hulle al verlei het!
Die afgodstempels van vandag het dalk so ‘n bietjie verander, maar hulle is steeds daar. Die flikkerliggies van die talle dobbelhuise in ons land skyn dag en nag helder. Slaafs kom offer mense hulle geld en besittings aan die god wat meer en meer en meer vra. Soms gee hy iets terug, om dit maar net weer later alles in te sluk. ‘n Ander soort afgodstempel is die talle ontkleeklubs en die hordes bordele. Inderdaad is bordele onwettig, maar die owerhede draai gerieflikheidshalwe maar die kop weg en maak of hulle niks sien nie, want baie van hulle kuier sélf daar!
Ook die bloeddorstige geweld van daardie tyd het ons vandag nie vrygespring nie. Moord, verkragting, roof, kapings en molestering is ‘n alledaagse. Korrupsie, rugstekery, bedrog en diefstal is maar deel van die lewe, tot in die héél hoogste gestoeltes in ons land.
As Paulus vra dat ons asseblief nie soos die heidene moet leef nie, is ons eerste reaksie sommer dadelik: “Maar Christene maak hulle mos nie aan sulke dinge skuldig nie!” Rêrag? ‘n Baie bekende predikant het ‘n paar jaar gelede ‘n dringende veldtog teen dobbelary geloods nadat hy sélf daarin verval het en verswelg is deur die dobbelduiwel. Slegs genade het hom uit daardie modderpoel gered. Ja, tragies is dit gewoonlik slegs die predikante wat struikel wat die nuus haal. ’n Tyd gelede was ‘n paar predikante in die nuus wat by molestering en owerspel betrokke was. Iemand het per geleentheid vertel van ‘n predikant wat by hom kom pleit het om hulp omdat hy vasgevang was in ‘n rottingspoel van pornografie.
Ek noem hierdie dinge slegs om te wys dat niemand onfeilbaar is nie, nie eers die dominees en pastore nie. Talle Christene is ingesuig deur die dobbelhuise. Dit begin met ‘n onskuldige aandjie van pret saam met ‘n paar vriende, en voor jy weet waar jy is, is jy vasgevang in daardie net! Dieselfde geld vir al die ander verleidelike dinge van die wêreld. Dit het alles te doen met begeertes, sondige begeertes wat jou al hoe meer verteer. ‘n “Onskuldige” flirtasie kan begeertes in jou wakker maak wat later ‘n onblusbare vuur word en in ‘n tragedie eindig.
Paulus pleit vandag by ons, dat as ons in sulke dinge verval het, ons moet ontslae raak van daardie ou mens wat as gevolg van sy misleidende drange vergaan. (v. 22) “Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word en die nuwe mens as kleed aantrek,” vra hy in vers 23.
Christus het vir ons ‘n voorbeeld gestel oor hoe om te lewe. Hy het gewys dat jy voluit kan leef sonder om jou oor te gee aan losbandigheid. ‘n Gelowige se lewe hoef geensins saai en lang-gesig te wees nie, maar bly weg van die dinge wat sondige begeertes in jou kan opwek. Vul jou lewe met mooi dinge, en daar sal nie meer plek wees vir die sondige nie. As jy besig bly met opwindende aktiwiteite wat volgens God se wil is, sal daar net eenvoudig nie tyd wees om te tob oor begeertes wat jou na die verderf lei nie!
Gebed:
Rig asseblief vandag my lewe sodat ek volkome volgens U wil sal leef en heilig sal wees soos wat U van my vra.