Bartimeus, die Blinde

3 October, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bartimeus, die Blinde

Markus 10:46-52

VIDEO * OUDIO

Agter Petrus lê die stad Jerigo, volgens sommige mense die oudste stad op aarde. Die stad is geleë in die Jordaanvallei, naby die bopunt van die Dooie See. Petrus se hart krimp ineen as hy die stad agterlaat, want voor hulle toring Jerusalem se berge uit. Dit is ‘n steil klim wat voorlê, maar dit is nie wat hom pla nie - dit is dít wat vir hulle in Jerusalem, die stad van Dawid wag, wat hom koue rillings gee. Gaan hulle daar almal saam met die Meester doodgemaak word? Hulle groepie word gevolg deur ‘n groot skare mense, almal wat Jesus wil hoor, of wat hoop om dalk van die een of ander kwaal genees te word. Dalk hoop hulle om die een of ander asemrowende wonderwerk te sien!

Maar Petrus se gedagtes is lankal nie meer by die skare wat hier rondom hom raas nie: “Die stad van Dawid!” stroom dit deur sy gedagtes, “Hoe wonderlik moes dit nie wees om in daardie groot koning se tyd te kon lewe nie!” In sy geestesoog stap hy deur die stad. Hoe lief is hy nie vir daardie antieke ou stad met sy manjifieke mure nie. En dan is daar natuurlik die asemrowende tempelgebou. Elke keer as hy dit sien, snak hy na sy asem en trane van aandoening stroom oor sy bebaarde wange. Dat Herodus hierdie tempel gebou het, sal hy maar liewer vergeet…...

Petrus herinner homself daaraan dat hy eenmaal ‘n preek gehoor het waar die Skrifgeleerde gepraat het oor Esegiël. Daardie profeet het gesê dat die Here Sy dienaar, Dawid sou stuur om as Herder te dien oor Sy kudde. En toe sê die man dat Esegiël eintlik bedoel het dat hierdie “Dawid” die Seun van Dawid, die Messias is! “Is ons Meester nie dalk hierdie einste Seun van Dawid nie?” wonder Petrus vir die sovéélste maal.

Hulle bereik die buitewyke van Jerigo, en dan klink daar ‘n stem op iewers langs die pad: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

Petrus glimlag: “Is dit nou nie toevallig nie?” Ja, hy onthou nog dat daardie ou Skrifgeleerde die dag gesê het dat die “Seun van Dawid” ‘n nuwe tydperk sou inlei vir Israel, en dat Hy nie net sou regeer nie, maar siekes sal gesond maak en blindes genees.

“Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” Die stem klink al harder en dringender langs die pad op.

Petrus kan die man nie sien nie - daar is te veel mense, maar hy begin nou half irriterend raak! “Aag bly tog stil!” hoor Petrus iemand die man toesnou. Maar hy roep net al harder: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

Die Meester gaan staan, en dan draai Hy om. “Hier kom ‘n ding!” dink Petrus. “Roep hom nader.” beveel Jesus die mense.

Petrus hoor iemand fluister: “Dis Bartimeus. Hy sit al jare lank hier en bedel.”

“Ken jy hom?” vra sy maat.

“Ja, dis een van Timeus se seuns - stokblind, die arme drommel. Nog nooit ‘n oortjie in sy lewe kon verdien nie. Hy lewe net van bedelgeld.”

“Ag foeitog!” fluister sy maat. “Wat ‘n lewe!”

“Hou moed, Bartimeus,” hoor Petrus iemand skree, “hou moed, Jesus roep jou!”

‘n Gangetjie maak tussen die skare oop as Bartimeus nader gelei word. Hy bewe van opgewondenheid. Sy dag het uiteindelik gekom! Hy het al só baie van hierdie Jesus gehoor, en nou kan hy uiteindelik die Man persoonlik sien. Sien? Wel.......

“Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” hoor hy Jesus vra.

Met ‘n stem wat bewe van aandoening vra Bartimeus: “Rabboeni, dat ek kan sien!” Dis al wat hy begeer in die lewe, om maar net te kan sien. Om ook normaal te kan wees soos ander mense en om vir ‘n gesin te kan sorg. O, hoe smag sy hart nie daarna nie!

Jesus se woorde slaan hom tussen die oë - letterlik! “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.”

Die volgende oomblik gaan daar skielik ‘n lig op vir Bartimeus. Hy sien! Sy oë is normaal soos enige ander man s’n! Petrus se mond hang oop van verwondering, hoeveel keer het hy nie al hierdie asemrowende wonderwerke aanskou nie, en steeds is elkeen vir hom nuut en vars en vul hom met verwondering!

En Bartimeus? Nadat hy vir baie jare op een ou kolletjie moes sit en bedel, los hy sy bedelbekertjie nét daar en huppel agter Jesus aan. Hierdie Man móét hy net eenvoudig volg! Hy ís immers die Seun van Dawid, die beloofde Een!

Markus wys ons op meesterlike wyse hoe ‘n mens werklik moet glo. In die eerste plek beteken dit dat jy daardie verwagting moet hê dat Jesus daardie situasie waaraan jy sélf niks kan doen nie, wél kan verander. Tweedens beskryf hy hoe geloof hindernisse oorkom. Die mense wou Bartimeus stilmaak, maar hy het aangehou. Hy kon Jesus nie eers sien nie, maar hy het geroep. En derdens wys Markus dat geloof daartoe lei dat jy Jesus volg. Bartimeus het letterlik agter Jesus aangeloop na Jerusalem. As gelowige moet ek en jy bereid wees om Jesus te volg op die geestelike pad na “Jerusalem”, waar swaarkry en vervolging dalk deel van ons lewens kan wees - lyding ter wille van die Evangelie. Is ons werklik bereid?

Gebed:

Here, maak my asseblief bereid om U te volg, al beteken dit ook swaarkry, lyding en vervolging!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026