2 Timoteus 2:8,9
‘n Goeie balans is van uiterste belang vir alles in die lewe! Sodra die balans versteur word, is daar allerhande komplikasies. As jy byvoorbeeld begin peuter met die balans in die natuur kan dit katastrofiese gevolge hê!
Kom ek noem ‘n voorbeeld. Marloth Park is ‘n idilliese vakansiedorp waar die wilde diere soos koedoes, vlakvarke, sebras en rooibokke tussen die huise rondloop. Die dorp grens aan die Kruger wildtuin. Die hele dorp is omhein om die diere binne te hou, natuurlik vir die inwoners se plesier maar ook om die plaasboere se landerye te beskerm. Boonop is daar ‘n wildheining tussen die dorp en die wildtuin om die gevaarlike diere uit te hou.
Alles goed en wel, maar toe kom daar ‘n ernstige droogte in 2008 en al die weiding verdwyn. Die wild se natuurlike reaksie is om in so ‘n geval elders weiding te gaan soek. Maar hulle was ingehok in ‘n redelik klein gebied. Die gevolg was dat bokke op hope gevrek het omdat daar nie kos was nie. Boonop was die natuurlike uitdunners wat hulle getalle in stand moes hou, die leeus uitgesluit deur ‘n heining. Dit was ‘n katastrofe! Alles omdat die balans versteur was omdat mense die wild wou geniet!
In jou geloofslewe moet daar op dieselfde wyse ook ‘n baie fyn balans gehandhaaf word. So byvoorbeeld moet my geestelike lewe nie alleen Godgerig wees nie maar terselfdertyd ook mensgerig. Jesus het die wet opgesom deur te sê dat die grootste gebod is om God lief te hê maar gelykstaande hieraan is om jou medemens lief te hê. Verwaarloos jy een, dan is daar ‘n wanbalans. Mense wat hulleself byvoorbeeld in ‘n klooster opsluit om slegs hulle lewens aan God te wy en totaal van die sondige wêreld te ontsnap, beteken absoluut niks vir die Koninkryk nie. ’n Gelowige moet met ander woorde nie so hemels-gebonde wees dat hy geen aardse nut het nie! Die ander uiterste is ewe waar: ‘n humanitêre lewensuitkyk waar alles vir mense gedoen word en waar God nie ‘n plek het nie, is nét so sinneloos!
In vers 8 beklemtoon Paulus ‘n ander balans: “Onthou altyd,” begin hy sy sin en dan verduidelik hy van Jesus se menslike natuur. Hy is ‘n nakomeling van Dawid, dus 'n Mens. Ons moet besef dat Jesus nie alleen die verhewe God is nie, maar dat Hy ook ‘n ware menslike natuur het. Dit is deel van die belydenis van die kerk van Christus van die vroegste eeue af. Dis is baie belangrik want om vir ons sondes te kon betaal moes Hy waarlik mens gewees het. Aan die ander kant moes Hy ook waarlik God wees om die toorn van God oor die sonde te kon dra.
Om ‘n balans daar te stel, beteken dikwels totale teenstrydighede. Om byvoorbeeld te sorg dat diere in die natuur oorleef, moet sommige doodgemaak word. Om ‘n sinvolle geestelike lewe te hê, beteken dat jy noodwendig die sondige wêreld moet aandurf. Paulus praat so in vers 9 van verdere teenstrydighede. Hy vertel dat hy in boeie is soos ‘n misdadiger ter wille van die vryheid van die Evangelie. Dit maak nie sin nie! Maar Paulus verduidelik: “Die Woord van God kan nie geboei word nie.”
Ek dink nie dat Paulus eers náástenby die implikasies van sy eie woorde besef het nie! As ons maar gaan kyk watter gevolge Paulus se aanhouding alles gehad het, dan staan jy verstom! In Hand. 16:25-34 lees ons die verhaal van waar hy en Silas in Filippi geslaan en in die tronk opgesluit is. Die gevolg was dat die tronkbewaarder en sy gesin tot bekering gekom het. In Filippense 4:22 sien ons hoedat die mense in die keiser se paleis wat daar met Paulus in aanraking gekom het tot bekering gekom het terwyl hy in Rome in die tronk opgesluit was. In sy brief aan Filemon sien ons hoedat ‘n misdadiger, 'n gedrosde slaaf ontluik in ‘n nuttige gelowige nadat hy met Paulus in die tronk in aanraking was!
Die grootste wonderwerk sou egter nog kom, want omdat Paulus skielik beperk was in sy bewegings en hy nie meer persoonlik by gemeentes kon uitkom nie, was hy gedwing om deur briewe met hulle te gesels. Baie van die briewe het bewaar gebly. Sedertdien het tweeduisend jaar reeds verloop. Gedurende hierdie tydperk is baie miljoene mense alreeds keer op keer aangeraak en tot bekering gelei deur daardie einste briewe wat Paulus geskryf het.
God werk dikwels deur skynbare teenstrydighede sodat die wonderkarakter van Sy groot, groot genade vir mense duidelik kan word. Die Evangelie is nie logies nie, want hoe kan ‘n God van liefde dan Sy eie Seun wreedaardig laat sterf? God se genade is júis nie logies nie! Is dit logies dat God iemand wat Sy vyand is, uit die modderpoel van sonde haal en hom Sy kind maak? Verdien ek Sy genade?
Op dieselfde wyse is daar dikwels ook teenstrydighede in die Christenleier se bediening. Wat vir ons logies lyk is dikwels nie God se wil nie. Dikwels vra ons: “Waarom, Here?” Al wat Hy vra is dat ons in volle toewyding doen wat Hy van ons vra om te doen, al lyk dit totaal onlogies. Op watter wyse God ons getuienis wil gebruik, moet ons maar aan Hom oorlaat. Hy weet immers die beste!
Gebed:
Here, leer my asseblief om op U besluit te vertrou, al lyk dit soms vir my gladnie logies nie!