1 Petrus 2:4-10
Bouwerk het my nog altyd gefassineer. In my prille jeug was ek self ‘n bouer, dus ken ek van wat met ‘n huis se mure aangaan. Juis daarom staan ek verbaas vandag as ek sien hoe bouwerk dikwels gedoen word. Alles geskied so vinnig en so goedkoop as moontlik, want die bouer wil sy geld hê, en die ontwikkelaar wil die projek klaarkry op die goedkoopste moontlike manier sodat hy ’n groot wins kan maak. Boonop is die nuwe eienaar haastig om in te trek. Gevolglik is daar dikwels maar hope knoeiwerk. Die afgelope paar jaar was daar talle berigte van geboue wat inmekaar gestort het oor brouwerk! Uiteindelik is die mooi wat jy in die voltooide gebou sien aangeplak soos ‘n Hollywood aktrise se beeldskone gesiggie, pragtig van buite maar onder die lae verf die ene gemors!
Bouwerk jare gelede was só anders. Baie van die ou klipgeboue het nie eers betonfondasies nie, want die bouwerk was so deeglik en met trots gedoen dat dit totaal onnodig was. Selfs die onsigbare gedeelte van die bouwerk is met trots gedoen. Iemand vertel eendag van ‘n klipmuur wat hy saam met sy pa gebou het. Hy was oorhaastig met die fondasie, en omdat dit tóg onder die grond toegegooi sou word, was dit allesbehalwe netjies. Pa was nie gelukkig nie, en toe die seun hom vra wie dit tog ooit sou sien, was sy antwoord: “My seun, ek en jy wéét dat dit ‘n gemors daar onder die grond is! Al sien niemand anders dit nie, weet ons nog steeds daarvan!”
Sekerlik een van die mees delikate boumetodes is om klipmure te bou sonder om enige sement te gebruik om die stene aanmekaar te heg. Die klippe word gemeet en gekap totdat hulle pas. So ‘n klipgebou moet egter ‘n beginpunt hê. Dit kan mos nie sommer net enige plek ontstaan nie, en daarvoor word soms ‘n ekstra groot uitsoek-klip gebruik, wat op die hoek van die gebou geplaas word as die oorsprong van die res van die gebou. Van daar af word al die ander klippe ingepas om by die hoeksteen aan te pas. Hy dra as’t ware die ganse gebou. Elke klip in so ‘n klipgebou het sy spesiale plekkie, en as een van hulle ontbreek, is daar ‘n swak plek in die muur, en dit kan in duie stort. Sommige klippe is maar relatief eenvoudig, vierkantig en doelgerig. Ander klippe, soos byvoorbeeld die kunstig-gevormde sleutelklippe bokant die ingang van die gebou is baie spesiaal en dit verg goeie vakmanskap om hulle akkuraat te kap.
Klipgeboue is ewig en selfs die eenvoudigste van hulle het ‘n baie spesiale, lewendige karakter. Die muur op die foto hier bo het my oupa gebou nog voor my geboorte, en hy staan vandag nog!
Petrus het hierdie onderwerp waaroor ‘n mens boeke vol kan skryf, gekies om te wys hoedat gelowiges in ‘n lewende gebou, die kerk, inpas. In die vorige dagstukkie het ons gesien van die babatjies wat versot is op melk. Daardie einste geestelike babatjie word gekap en gevorm om ‘n lewende steen te wees in die huis van God. Dit is daarom nodig dat die baba genoeg kos moet kry om sterk te word, anders is hy ‘n bros steen wat gaan verkrummel en dalk ‘n liederlike kraak in die muur gaan veroorsaak.
Ons geestelike gebou het egter ook ‘n Hoeksteen: Jesus Christus. Die hele gebou word ontwerp rondom Hom as volmaakte uitgangspunt. Elke lewende steen moet op sy eie manier aanpas by die Hoeksteen, anders is hy nie in lyn met die res van die gebou nie. ‘n Verbyganger kan dalk minagtend sê dat die Hoeksteen heeltemal anders is as die res, en sy neus daarvoor optrek. Ja, hoe dikwels het ek dit nie al gesien dat mense Jesus verag en verwerp nie. Iemand het my eendag liederlik uitgevloek omdat ek die vermetelheid gehad het om vir hom ‘n ongevraagde evangelieboodskap te stuur. Dit moet ‘n mens egter nie laat afskrik nie, want God het Sélf vir Jesus daardie ereplek uitgekies. Om in daardie huis as steen gebruik te word, leef jy dus teenaan Jesus, want daardie Hoeksteen is onbeweegbaar en altyd daar.
‘n Gebou kan alleen verrys as daar ‘n klomp stene ingebou word. Net so kan die kerk alleen groei as dit gebou word met lewende stene wat inmekaar pas. Elke lewende steen in die kerk het sy perfekte plekkie, en al is sommige van hulle maar vaal, is hulle steeds onmisbaar en dien ‘n doel. Sommige mense is baie spesiaal gevorm en het ‘n prominente plek by die ingang van God se gebou. Die vaal ou middelsteen is egter niks minder belangrik as daardie op-die-oog-af belangrike sleutelsteen nie.
Maar wat gebeur met die bousteen wat alleen daar eenkant lê? Mense stamp hulle tone teen hom, en uiteindelik word hy weggegooi. Geen Christen-gelowige kan alleen deur die lewe gaan nie! As jy nie deel vorm van daardie gebou nie is jy nutteloos! So dikwels het mense al vir my gesê dat kerk nie vir hulle belangrik is nie. Sonder ‘n gemeente om jou te versterk gaan jy geestelik dood. Laat jou inbou as ‘n lewende steen, en jy sowel as die kerk vind baat daarby!
Gebed:
Here, maak my asseblief ‘n lewende steen in U wonderlike gebou. Help my ook asseblief om sterk en nuttig te bly en nie te verkrummel, en so die hele gebou bedreig nie!