Openbaring 18:1-10
Die hoogtepunt van God se oordeelsvoltrekking breek nou aan as ‘n engel met groot gesag uit die Hemel te voorskyn kom. Omring in ‘n gloed van heerlikheid, hef hy ‘n jubelende gedig aan oor die oordeel oor Babilon. Jy sal onthou dat Babilon eintlik simbolies staan vir die stad Rome.
Ek dink nie ons besef vandag hoe reusagtig sterk en groot die Romeinse ryk in daardie jare was nie. Hulle het absoluut die hele bekende wêreld oorheers met brute krag, en gemaak en gebreek net soos hulle wil. Die ryk het gestrek oor die ganse suidelike helfte van Europa, Duitsland, Frankryk, Portugal en Spanje en het die hele gebied gedek tot by Turkye en Sirië in die ooste. Suid het dit gestrek tot by Egipte en die totale noordelike kusgebied van Afrika. Dit was ’n asemrowende groot gebied wat die totale middelandse see-gebied ingesluit het.
Die episenter van hierdie magtige regering was die stad Rome, met die keiser wat op die troon sit en dink dat hy self God is. Rome was dus die versinnebeelding van die ganse, magtige Romeinse ryk. ‘n Welvarende stad met kultuur wat skrik vir niks. Vandag nog staan talle standbeelde en geboue wat uit daardie bloeitydperk dateer. Sékerlik die bekendste van die gruwelike Romeinse kultuur, die Kolosseum, waar talle Christene wreedaardig moes ly vir hulle geloof, pryk vandag as die geraamte van Rome se bose bloedlus. Inderdaad is dit nou net ’n hol, dooie geraamte, en nooit weer sal die bloeddorstige juigkrete van bloed-honger en geweld-honger Romeine daaruit opstyg nie!
Die aankondiging van die engel was eenvoudig: “Geval, geval het die grote Babilon.” Sommer net so! En dan volg die jubelende klaagliedere. Vir almal wat bande met Rome gehad het, is dit ‘n klaaglied. Maar al die gelowiges jubel! In ‘n uiters dramatiese lied beskryf die engel hoedat hierdie eens lewendige stad in totale verlatenheid verval. Die stad moet boet vir al die afskuwelike goddeloosheid wat deur die jare daar geheers het. En nou word dit “die blyplek van bose geeste, die skuilplek van alle onrein geeste, onrein roofvoëls en van alle afskuwelike onrein diere”. (18:2)
Die onsedelikheid van die stad was ‘n gruwel! Konings het, by wyse van spreke, onsedelike omgang met haar gehad, en die sakemanne het hulleself verryk uit haar weelde. Die invloedrykes het Rome se aanspraak op goddelikheid aanvaar omdat hulle daaruit voordeel getrek het.
Dan volg daar ‘n ander stem uit die Hemel, die stem van God, en Hy praat met al Sy kinders. Hy sê vir die gelowiges dat hulle die stad moet verlaat. Hulle moenie deel hê aan haar sondes nie, en ook nie aan haar straf nie. Die sondes van die stad het opgehoop tot teen die Hemel. (vers 5) God is regverdig, en die sonde kan nie ongestraf bly nie. Om daardie rede gaan Babilon (Rome) nou die oordeel van die regverdige God smaak. Van dieselfde sondige brousel wat sy vir die nasies voorgesit het, gaan sy nou sélf moet drink, en sy kry dit in ‘n dubbele dosis terug. Pes, hongersnood, droefheid en vuur oorval haar.
Hierdie sedelose vrou het gesit en pronk asof sy totaal onaantasbaar is. “Ek sit as koningin op my troon”, sê sy vir haarself, en verlustig haar in alles wat sleg is. “Ek sal nooit óóit nodig hê om te treur nie!” Sy is só vol van haarself, dat sy nooit eers gedink het aan God nie! Sy het Hom nie nodig gehad nie! Só het sy gedink!
Maar dan tref God se oordeel haar. Haar val is groot! Hierdie berugte sedelose vrou se reuse val word bitterlik beween deur al haar vennote: heersers, sakelui en seelui. Klaagliedere klink op, en die konings huil onbedaarlik, bitterlik oor die verskriklike verlies van ‘n wellustige verkeer met Rome. Die heersers huil en gaan te kere, want hulle eens-magtige bondgenoot het in een oomblik tot niet gegaan (vers 9). Hulle staan verstom, want dit kan tog nie moontlik wees nie! Rome was dan so absoluut onvernietigbaar?
“Hoe vreeslik, hoe vreeslik!” kerm die konings, “Die groot stad, Babilon, die sterk stad!” Hulle is verdwaas. Hulle kan dit net eenvoudig nie begryp nie. “In een oomblik het die oordeel oor jou gekom!”
Edward Gibbon het in 1776 ‘n massiewe boek van 6 volumes geskryf oor die val van Rome, “The History of the Decline and Fall of the Roman Empire.”
Vandag raak ons gelowiges dikwels moedeloos as ons die verskriklike onreg sien afspeel voor ons oë. En soms vra ons: “Maar sien God dan nie die dinge raak nie? Hoe kan Hy toelaat dat magtige mense hulleself verryk ten koste van die armes?” Ons sien hoedat Rome (Noord Korea?) floreer en goddelose dinge doen. Ons sien hoedat talle gelowiges wreed vervolg word regoor die wêreld, en ons vra: “Here, gaan U nie iets daaromtrent doen nie?”
Dit is egter nie vir ons om te oordeel nie. God se regverdige oordeel sal ook híérdie Babilon tref!
Gebed:
Dankie Here, dat ons al die oordeel aan U kan oorlaat. Dankie ook dat U my verskriklike sondes vrygespreek het uit U groot genade.