Baba vir God

20 July, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Baba vir God

Lukas 1:57-80

Video

Oudio

Elisabet se swangerskap op haar oudag is groot nuus. Almal het voorheen die arme vrou meëwarig aangekyk wanneer sy gaan water haal: “Foeitog, die arme kinderlose vrou!” Nou het dit egter verander na ‘n blik van verwondering: “Wat ‘n ongelooflike wonderwerk!” Hierdie woorde is op elkeen se lippe wanneer die bejaarde swanger vrou die straat afstap. Wanneer die groot dag van die wonderbaba se geboorte aanbreek, is die hele dorp daar om hierdie kindjie te sien. Gaan dit darem ‘n seuntjie wees? Natúúrlik het Elisabet en Sagaria reg van dag een af geweet dat dit ‘n seuntjie gaan wees, die engel het immers sélf so gesê! 

Wanneer die baba se eerste skree uit Elisabet se huis weerklink, gaan daar ‘n groot gejuig op by Sagaria se huisie  in die berge van Judea. En daar word feesgevier tot laataand toe. Agt dae later is die héle dorp weer bymekaar, hierdie keer om te kom sien hoedat Sagaria se seuntjie besny word. Die mense kyk die arme stom Sagaria meëwarig aan: “Foeitog! Dat die arme siel nou so op sy oudag moes stom word!” Hulle skud die kop en klik-klik hulle tonge: “Nege maande nou al wat hy so is!”

Die kindjie moet naam kry, en die ou priester wat die besnydenis behartig neem sommer aan dat die bloedjie na sy pa vernoem word. Sagariatjie, wil hy hom noem. Elisabet keer egter: “Nee, nee, Johannes! Dít moet sy naam wees!” 

Daar sak ‘n ongemaklike stilte toe oor die skare: “Het die ou vrou nou ook koekoes geword nes haar ou man?”

“Elisabet, daar is mos niemand in julle familie met daardie naam nie? Wat is dit met jou? Wat sê Sagaria?” En dan onthou hulle dat die arme ou drommel mos nie kan praat nie. En as iemand nie kan praat nie, kan hy mos ook nie hoor nie! Met groot gebare beduie hulle vir hom: “W-A-T M-O-E-T H-Y G-E-N-O-E-M W-O-R-D?” 

Sagaria beduie vererg dat hy g’n doof is nie, en dat hulle vir hom ‘n skryfbordjie moet bring. Almal rek hulle nekke om te kan sien wat hy skryf. En dan snak hulle na hulle asems: “Johannes,” staan daar in groot letters op die bordjie geskryf.

Die volgende oomblik kry ou Sagaria sy stem terug, en tot groot verbasing (en ontsteltenis) van almal begin hy praat en babbel van pure opgewondenheid. Dan bars hy uit in ‘n loflied. Hy sing Geesvervuld van die almag van God en hy sing van die Sterk Verlosser wat die Here aan Sy volk gegee het. Hy sing van hoe die Here Sy volk gered het en van die verbond wat God met hulle gemaak het. Dan slaan hy oor na ‘n profesie, en hy profeteer oor die kleine Johannes, dat hy ‘n profeet sal wees en dat hy die pad gaan gereed maak vir die koms van die langverwagte Messias.

Almal kom diep onder die indruk van die grootheid van die oomblik. Die nuus versprei soos ‘n veldbrand, en vir ‘n lang ruk gaan elke gesprek oor één ding: dáárdie wonderbaba, Johannes. “Wat sal tog eendag van hierdie kindjie word?” wonder almal. 

Lukas merk terloops op: “Dit was duidelik dat die Here by hom was.” (Luk 1:66). En dan som hy Johannes se kinderlewe en jeug op in een enkele sinnetjie: “Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees.”  

Toe hy ‘n jong man word, het hy in afsondering in die woestyn gaan bly om hom voor te berei vir die reuse taak wat op sy skouers sou rus. Op dertigjarige ouderdom tree hy skielik na vore as ‘n kragtige prediker en profeet. Maar dáároor sal ons later meer vertel.

‘n Baba is altyd ‘n baie groot gebeurtenis in die lewe van ‘n ouerpaar. Daar word die skatlikste kleertjies gekoop en sagte speelgoedjies, en die baba word met groot sorg voorberei vir die lewe. Uiteindelik gee hy sy eerste treetjies, en sê sy eerste woordjie. Hy word met groot sorg geleer van al die dinge rondom hom. Dikwels kan ‘n kind skaars praat, dan verstaan hy al hoe om ‘n rekenaar te werk. 

Die tragiese is egter dat die meeste ouers só behep is om die kind akademies op die lewe voor te berei, dat daar nooit by die geestelike uitgekom word nie. Dalk het dit ook iets te doen met ons lewensstyl, dat daar bloot nie tyd is om nog aan die geestelike óók aandag te gee nie.

My dierbare neef Louis Nel van Melkrivier vertel dat daar nooit 'n dag in sy lewe was waar hy moes kies vir Jesus nie. Vandat hy kon onthou het hy geweet dat hy 'n kind van die Here is. Waarom? Omdat Pa Jannie, destyds skoolhoof van die plaasskooltjie op Melkrivier hom van babatyd af ál die dinge van die geloof geleer het!

Ons lewe in ‘n tyd waar daar ‘n mengelmoes van godsdienste in die skole is, en as ‘n kind nie alreeds vóór kleuterskool ‘n goeie geloofsbasis het nie, gaan hy die pad byster raak in die godsdiens-doolhof van New Age, Moslem, Hindoe en voorvaderaanbidding, waar die Christendom dikwels tweede viool moet speel. Liewe ouer, ek pleit vanoggend by jou om nie jou kind die ewige verdoemenis in te stuur nie, gee hom asseblief die geloofsfondament wat hom kan staande hou wanneer die aanslae van die lewe kom.

Gebed:

Here, gee ons ouers asseblief die insig en wysheid en deursettingsvermoë om hulle kindertjies vir Jesus groot te maak.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026