2 Timoteus 1:6-14
Dit is êrens in die vroeë oggendure, hoe laat presies, weet ek nie, en ek gee ôk nie eers om nie. Die Rooibosvuurtjie maak klein blou vlammetjies, en die koletjies gloei vertroostend. Iewers steun ‘n leeu, en dan sug hy half moedeloos: “Oemf, oemf, oemf.....” Het sy maat hom dalk verlaat? ‘n Hiëna kerm en weeklaag mistroostig. Daar hang ‘n swaar wolk oor die nag. Selfs die skopsuiltjie se roep klink weemoedig. Dis net ek en die dominee wat hier knus by die stadig-sterwende vuurtjie stywe-oog na die dansende vlammetjies sit en staar. “Ek gaan die bediening opgee,” weerklink sy woorde van vroeër die aand deur my verwarde gedagtes. Die vroumense het ure gelede gaan slaap. Toe begin hy afpak! Alles het net eenvoudig vir hom te veel geraak. Oor die jare het hy elke greintjie krag in sy liggaam aan die gemeente gewy. Hy was maar ‘n jong proponentjie toe hy in die gemeente geland het, en sy ywer vir die saak van die Here het geen perke geken nie. Maar keer op keer is kritiek en teenstand al wat hy gekry het vir sy beste pogings. Dit is ‘n erg ontnugterde jong dominee wat die hele nag sy hart teenoor my uitpraat. “Ek gaan liewer ‘n sielkundige word,” besluit hy oplaas.
Ek is maar net ‘n oor wat luister, want deur die jare het ek hom sien seerkry, en wat kan ek tog sê om sy seer te verlig? Hy vertel my van die tweespalt, die skeuring in die gemeente - dinge wat ek maar al te goed ken. Hy vertel van hoe sy eie gemeentelede, die mense wat hy so onvoorwaardelik dien, hom beswadder en van hom kwaadpraat.
Daardie deurnag se gesprek in die Bos was vir hom uiteindelik die keerpunt in die lewe. Op my eenvoudige manier het ek probeer troos, raadgee, moed-inpraat en sommer net luister terwyl hy sy hart en siel uitstort.
Dit was kort voor hanekraai toe ons twee eers kooi toe is. Hy het tot ander insigte gekom. Nee, sy probleme het nie minder geword nie, maar hy het besluit om hulle te aanvaar as deel van die pakket. Dit was jare gelede. Intussen het hy ‘n baie suksesvolle leraar geword in ‘n baie groot gemeente. Ja, daar is sékerlik steeds probleme, maar hy het geleer om daarmee saam te leef.
Uit wat Paulus skryf, skemer dit deur dat Timoteus se ywer vir die bediening begin afkoel het. Timoteus se trane was nie net oor Paulus nie, hy het ontnugter geraak. Daardie vurige entoesiasme waarmee hy sy bediening begin het, was nie meer daar nie, en sy wonderlike gawes het hy nie meer met oorgawe gebruik nie. Wat het gebeur? Moontlik was dit sy jeugdige ouderdom wat teen hom getel het, of dalk swak gesondheid. Moontlik het die onophoudelike aanvalle van die dwaalleraars hom begin onderkry. Dalk was dit die feit dat hy as Christen gebrandmerk was as ‘n vyand van die staat. Sy eie leermeester, Paulus, sit immers al jare in die tronk, en ‘n teregstelling is sy voorland. Min het Timoteus geweet dat die tronk ook later vir homself ‘n tuiste sou word.
Timoteus was nie die eerste geloofsleier wat ontnugter geraak het nie. Ons kan maar net dink aan Moses wat na jare se gekyf van sy volk so byna-byna die handdoek ingegooi het. Elia het onder ‘n boompie gaan lê en gehoop hy gaan liewer dood, want die hele wêreld was teen hom. Job het meer teenslae beleef as wat menslik draaglik is, en hy was bitter moedeloos, veral toe sy vriende en selfs sy vrou hom versaak. Selfs die groot koning Dawid was verpletter deur sy omstandighede.
Wat maak jy as as jy agterkom dat jou ywer vir die Evangelie, vir jou bediening begin verflou? Die groot geheim is om nie te behep te raak met jouself nie. Jou eie gebreke en jou omstandighede is nie die belangrikste dinge in jou lewe as Christenleier nie, maar jou fokus moet eerder skuif na dit wat God jou gegee het. Dalk is dit goed as jy net ‘n bietjie gaan stilsit en terugdink aan jou passievolle ywer van die verlede, van die tyd toe jy berge kon versit deur die geloof. Wat was die dryfveer daardie tyd? Waar het jou krag vandaan gekom? Nee, dit was beslis nie jou eie krag en ywer en goedheid nie! Alles het van die Here gekom.
Wat het dan skeefgeloop? Miskien is dit die hoë verwagtinge wat mense aan jou stel en bomenslike offers wat dikwels van jou gevra word. Dalk steur jy jou te veel aan mense se kritiek en hulle voorskrifte. Dalk lyk die berg van swaarkry vir jou te hoog. Dalk sien jy jouself as nie meer opgewasse teen al hierdie dinge nie.
Die opdrag wat ek en jy uit hierdie gedeelte kry, is om te fokus op wat God ons gegee het. As jou ywer lyk na ‘n hopie uitgebrande as, blaas dit dan aan sodat die kole weer helder kan gloei. Onthou: die Gees woon in jou! Gesels met iemand wat jy vertrou en vertel hom van jou dilemma. Selfs predikante en pastore het geestelike versorging nodig. Fokus biddend op God en die voorskrifte wat Hy jou gee, en pak alles in vetroue op Hom aan. Dan sal die krag en liefde en selfbeheersing wat alleen die Gees ‘n mens kan gee, weer uitstraal uit jou lewe.
Gebed:
Here, ek wil my oë alleen op U gevestig hou. Gee my asseblief die krag daarvoor.