Antiochus se Vlammetjie Geblus

15 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Antiochus se Vlammetjie Geblus

Daniël 11:40-45

VIDEO | LUISTER

Ons het oor die afgelope paar hoofstukke verstom gestaan oor die arrogansie van die wettelose man wat homself nie alleen as ‘n god gesien het nie, maar homself verhef het bo die ander gode en selfs gedink het dat hy groter as die Almagtige God is. Maar selfs so ‘n verhewe mens kom tot ‘n einde. Wat Antiochus nooit besef het nie, was dat God hom gebruik het, en dat God al die tyd in beheer was!

Antiochus se eie neef, Ptolomeüs, het steeds regeer in Egipte, en toe hy weer begin tande wys vir sy mags-mal neef in Sirië, laat Antiochus nie op hom wag nie en storm af na Egipte om vir Ptolomeüs op sy plek te sit met ‘n paar seer vuishoue. “Die Pragtige Land”, Israel, word so in die verbygaan ‘n paar lelike dwarsklappe gegee. Dié slag is dit egter nie so maklik om sommer so oor sy jong nefie te stoomroller nie, en dit eindig in ‘n volskaalse oorlog. Egipte het twee bondgenote, Libië en Etiopië, wat hom help veg teen die Siriese oormag. Maar die slinkse Antiochus konkel weereens, soos hy al soveel keer in die verlede gedoen het, en met mooipraatjies draai hy Egipte se bondgenote teen hom, en buit hy in die proses tallose skatte.

Terwyl hierdie goddelose koning nog besig was om hom te vergryp aan Egipte se skatte, verneem hy van opstande in die Ooste en Noorde, waar die Parte van die Kaspiese Seegebied besig was om Iran aan te val, en die Arameërs in die Noorde terselfdertyd in opstand gekom het teen Siriese juk. Antiochus is blind van woede, en hy stoomroller terug om die ongehoorsame klomp nikswerte ‘n les te gaan leer wat hulle nooit sal vergeet nie. Vir oulaas word Antiochus se paleistente in die Israelse grondgebied opgeslaan naby die berg Sion, op sy woedetog terug na Sirië. Hierdie keer is sy fokus egter só op die afvalliges in sy koninkryk gerig, dat die Jode skotvry daarvan afkom!

‘n Kort rukkie later, terwyl hy besig was om Noord van Susa teen die Parte te baklei, word Antiochus siek. Niks kan vir hom gedoen word nie, en hulpeloos en magteloos om teen hierdie siekte te veg, sterf hy. “Maar dan sal hy aan sy einde kom en niemand sal hom kan help nie”, profeteer Daniël in 11:45. Volgens 2 Makkabeërs het hy ’n afgryslike en pynlike siekte opgedoen wat deur baie gesien is as God se oordeel vir sy vergrype teenoor die Jode. Sy liggaam het begin vrot terwyl hy nog gelewe het; wurms het hom opgeëet en hy het ondraaglike pyn gely totdat hy gesterf het – ’n baie vernederende dood vir iemand wat homself as “Epifanes”, die “verskyning van die god” beskou het.

Antiochus wou in sy lewe álles wees, álles besit, álles doen wat hy lus het om te doen. Maar één ding wat hy nooit kon regkry nie, was om vir God te kon manipuleer. Toe hy die dag gesmag het om nog ‘n bietjie langer te kon lewe, het God eenvoudig sy vlammetjie uitgeblus. Ja, die mens wat soos God wil wees, bly altyd totaal hulpeloos in die lig van God. Antiochus het homself die naam “Epifanes” - die verskyning van God - gegee, maar daardie naam kom slegs EEN toe, naamlik die KNEG wat ‘n paar jaar later sou verskyn wanneer Hy in die vlees sou kom. Daardie KNEG sou nie alleen kom om te verlos nie, maar aan die einde van die tyd sal Hy weer verskyn, dié slag om diegene te verdelg wat hulleself teen God verhef. Die straf wat op Antiochus Epifanes wag is allerverskriklik.

Die wêreld het ‘n sug van verligting geslaak met die dood van die Ou Testamentiese Antichris, Antiochus. Die duiwel was verwoed, want hiermee is sy planne om die koms van die Messias te keer in die kiem gesmoor. Sy beste handlanger tot dusver is deur een enkele woordjie van God van die aarde afgevee. As ‘n god kon Antiochus dalk vir ewig gelewe het, en nog baie groter bose dinge vermag het op die aarde. Maar die duiwel het nie met God rekening gehou nie. Maar rus sou hy beslis nie, en hy was al klaar besig om nuwe planne te beraam om die grootste gebeurtenis van alle tye te keer. Die Romeine moes help, en as hulle nie kon hond haaraf maak nie, dan stuur hy ‘n Herodus. Maar sy slimste truuk hou hy vir laaste - God se eie kerk! Ja, hy sou nog God se eie mense misbruik om sy doel te bereik!

Die vraag is, of die duiwel sal triomfeer? Hy het dit so byna-byna reggekry om die geskiedenis totaal te verander tydens Antiochus se regering. Hoe verskriklik moedeloos moes die gelowiges nie gewees het nie! Maar God het op die regte tyd ingegryp. Vandag sien ons hoedat die wêreld rondom ons besig is om te vrot in die sonde. Alles lyk so hopeloos. Met angs sien ons hoedat korrupsie, moord, roof en geweld soos ‘n vloedgolf oor ons spoel. Oral waar jy kyk verwoes nasies mekaar in oorloë. Onmenslike diktators doen net eenvoudig wat hulle wil, sonder dat enigiemand hulle kan keer. En dan wil ons vra: “Waar is God dan?”.

Watter wonderlike troos is dit dan nie, om ‘n boek soos Daniël te kan lees, en te sien dat God steeds daar is, en in volle beheer is, al lyk dit vir ons anders. Die goddelose het geen mag oor die dood nie, en na die dood kom die oordeelsdag. Ek en jy as gelowiges het alreeds die dood oorwin in Jesus, want vir ons is die dood slegs ‘n deur na die Lewe. Vir die oordeelsdag hoef ons geen vrees te hê nie, want ons is alreeds vrygespreek, en ‘n lewe van glorie wag vir ons.

Gebed:

Dankie Here, vir die heerlike troos wat hierdie boek ons bied. Dankie dat U in volle beheer is!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026