Daniël 11:36-39
Ons was eenmaal in Marloth Park, toe ek vroeg die oggend iemand hoor klop. Ek was sommer dadelik vies, want wie sou my dan so vroeg in die môre wil kom spreek? By die voordeur is niemand! Dan sien ek hom: die neushoringvoël wat aan die venster klop. Hy is ook sommer hoogs ontsteld. Dan vlieg hy ‘n draai en kom sit voor ‘n ander venster en doen dieselfde. Verwoed pik hy na die glas. Die proses word herhaal in elke venster rondom die huis. Toe kom ek die ding agter: Hierdie voël het so ‘n groot dunk van homself, dat hy hom verbeel dat hy die enigste een is wat seggenskap hier rond het. En nou is hierdie ander voël skielik hier rond, en hy probeer sy gewig rondgooi. Die ergste is dat elke keer as hy met die ander ou in die venster praat, dan praat daardie ene terug! Sy senuwees is gedaan, want hý wil die grootbaas wees, en skielik word sy baasskap betwis!
Antiochus die IVde het nog ‘n baie groter probleem gehad. In sy koninkryk het sy onderdane ‘n klomp afgode aanbid. En toe dink hy by homself, dat hy, Antiochus afgeskeep word! Die afgode kry al die aandag en hy kry niks! Dan maak hy ‘n slim plan: hy voeg vir homself ‘n tweede naam by: “Epifanes”, die geopenbaarde god. Dit was algemene praktyk in sy tyd dat konings hulleself as gode laat verklaar het, maar Antiochus het ‘n stappie verder gegaan en homself bo al die gode verhef. Niemand het tot dusver tot sulke absurde en ongehoorde hoogtes probeer vlieg nie! Argeoloë het geldstukke ontdek waar hy afgebeeld is met ‘n stralekrans bo sy kop en die woorde “Koning Antiochus, Die Geopenbaarde God” daarop gegraveer.
In Rome het hy die afgod Jupiter Capitolinus, “die god van vestings” leer ken. Die Grieke noem hierdie selfde afgod Zeus Olimpios. Antiochus het groot sin gekry in die krag wat hierdie afgod versinnebeeld, en hy het later homself laat uitbeeld met dieselfde gelaatstrekke as Zeus, en homself “Die Oorwinnaar” laat noem. Hy het homself vereenselwig met hierdie grootste van die afgode. Soos ons gister gesien het, het hy dan ook ‘n beeld van Zeus in die tempel in Jerusalem laat aanbring. Hiermee wou hy nie alleen die afgod laat heers in die tempel nie, maar het hy homself as heerser in die tempel geplaas. Sodoende wou hy in werklikheid sê dat hy verhewe is bo die Almagtige God!
Antiochus het volgens vers 36 ongehoorde dinge teen die Allerhoogste God gesê. Met sy aksies en dade het hy God gespot en gesmaad. Boonop het hy ook alle dienste aan God verbied. Sou God dit verdra? Inderdaad het God vir Antiochus vrye teuels gegee, en hom laat begaan, want God se tyd vir hierdie arrogante man was nog nie daar nie.
Antiochus het nie alleen die Jode die harnas ingejaag met sy hoogmoed nie: in Sirië het hy die afgode van sy eie mense verag. As hy dan groter as hulle gode is - waarom moet hy hulle dan aanbid? Wat veral seergemaak het, is die liefling-god van die vrouens, Tammoes, wat hy verwerp het. Die afgod Zeus is die enigste wat hy laat vereer. Vir die Siriërs is dit ‘n totaal nuwe god, en Antiochus gaan uit sy pad om hierdie god met oorvloedige skatte te laat vereer. Natuurlik het dit te doen met die feit dat hy homself met hierdie afgod identifiseer. Diegene wat sy nuwe god aangehang het, het hy beloon met grondbesit en poste in sy administrasie.
Ons het aan die begin gesê dat Antiochus Epifanes beskou kan word as die Ou Testamentiese “Antichris”. Uit wat ons vandag oor hom geleer het, is dit baie duidelik dat daardie beskrywing hom soos ‘n handskoen pas. Hy laat eer homself as die vleesgeworde Zeus, die god van die Romeinse tempelvesting, en hy eis gehoorsaamheid, selfs van die kerk, wat alleen die God van die tempelvesting van Sion mag aanbid, en die Seun van God wat in die vlees sou kom, nie baie lank na hierdie gebeure nie.
Vandag het die mensdom steeds die keuse: Kies tussen die Lam en die Dier! Wie gaan ons eer - God almagtig, Skepper van hemel en aarde, of gaan ons toegee aan die mens met sy afgodsdiens van humanisme, grootheidswaan, geldsug en magsug? Op die oog af is die antwoord baie maklik: Natúúrlik sal ons God aanbid - dit is mos voor-die-hand-liggend! Lees ons egter die Tien Gebooie, dan kom ons agter dat as ons kies om God te volg, dan mag ons Hóm alleen dien, en geen ander gode nie. Dit noop ons om ‘n bietjie te besin oor die afgode wat die lewe ons in oorvloed bied. Alles wat vir ons so belangrik raak dat dit ons lewe oorheers, kan ‘n afgod wees. Vir een persoon is dit dalk drank; vir ‘n ander kan dit kos wees. Iemand se lewe word dalk oorheers deur sigarette, en ‘n ander s’n deur geldgierigheid. Dobbel, seks, pornografie, magsug - noem maar op - al hierdie dinge kan ‘n afgod wees. Kom ons breek vandag met die klein godjies in ons lewe, en dien God Almagtig alleen.
Gebed:
Here, help my asseblief om ontslae te raak van al die klein afgodjies in my lewe - ek wil U alleen dien!