2 Samuel 18-19:8
Dit is ‘n droewige dag wat aanbreek in die geskiedenis van Israel en van Dawid. Burgeroorlog breek uit wanneer Absalom met die leër van Israel vir Dawid agternasit. Dawid is steeds die goeie strateeg van ouds en hy deel sy manskappe wat saam met hom gevlug het in drie afdelings in, met Joab, Abisai en Seruja as generaals. Dawid wil met alle geweld saamgaan om te gaan veg, maar Joab keer hom. Dit sou dwaas wees as Dawid saamgaan want as hy sterf, is die slag verlore vir almal. Hy moet in die stad agterbly want daar kan hy tot nut wees vir die manne. As hulle dalk voor Absalom moet vlug, kan hy vir hulle skuiling bied in die stad. Verder sal dit natuurlik ook ‘n yslike dilemma voorkom, want Dawid kan beslis nie teen sy eie seun gaan veg nie!
Wanneer Dawid die manne toespreek voor die geveg, pleit hy by hulle: “Werk asseblief saggies met my kind Absalom.” Dit is woorde wat ons diep in die hart ruk. Absalom is rebels; hy het sy eie broer vermoor; hy het by sy pa se byvroue geslaap; hy maak oorlog teen sy eie pa en jag hom soos ‘n wilde dier. Tóg vra Dawid dat hulle nie vir Absalom sal seermaak nie. Kan ‘n mens dit ooit verstaan?
Maar is dit nie presies wat die Here met my en jou doen nie? Ons is gedurig in opstand teen Hom. Ons wil nie met Hom praat nie; ons verwyt Hom; ons sondig teen Hom; ons doen nie wat Hy van ons vra nie; ons leef liefdeloos teenoor Hom en teenoor ons medemens. Nogtans vergewe Hy weer en weer en weer, en oorlaai ons met liefde en genade. God bly steeds lief vir ons ten spyte van alles!
Ons kan aanvaar dat Absalom se leër baie groter was as dié van Dawid, wat maar met ‘n handjievol vlugtelinge en sy 600 manskappe by die Ammoniete gaan wegkruip het. Nogtans verslaan Dawid se leër dié van Absalom. Die geveg vind plaas in ‘n bos iewers in Gilead. Wat presies daar gebeur het, weet ons nie maar groot getalle soldate is dood toe hulle deur die bos gevlug het voor Dawid se manne. Dit was ‘n bloedige en bitter onnodige geveg waarin 20’000 manne omgekom het.
Wanneer Absalom sien dat sy leër die onderspit delf, vlug hy op sy muil deur die bos. Dit klink vir ons vreemd dat die koning op ‘n muil ry, maar daardie jare was dit die rydier vir ‘n koning. Ek sien voor my geestesoog vir Absalom, die mooi man met die groot bos lang hare op sy muil jaag deur die digte bos. As kind is die prentjie vir my geskilder dat Absalom se hare aan ‘n tak vasgehaak het en dat hy daar aan sy hare gehang het. Die teks sê egter dat sy kop in die mik van ‘n boom vasgehaak het, en dat die muil onder hom uitgehardloop het!
Wanneer Absalom hulpeloos daar hang, sien een van die soldate dit. Hy weier egter om vir Absalom dood te maak, want hy het gehoor toe Dawid pleit dat hulle nie sy seun moet seermaak nie. Selfs ‘n sak vol geld sou hom nie oorreed het om Absalom dood te maak nie. Maar die geharde generaal Joab is beslis nie sentimenteel nie. Dit is oorlog en daar is slegs één ding wat weer stabiliteit in Israel sal bring - die dood van Absalom. Hy gryp drie spiese en steek al drie deur Absalom se hart. Sy wapendraers maak seker dat Absalom dood is. Dan word sy liggaam in ’n gat gegooi en klippe daarop gegooi - die merkteken van ’n kwaaddoener.
Twee boodskappers word gestuur om die nuus aan Dawid oor te dra. Intussen sit hy angstig in die stadspoort en wag op nuus. Wanneer die man in die uitkykpos die eerste boodskapper sien aangehardloop kom, word Dawid ingelig: “hier kom goeie nuus!” Wanneer Dawid egter hoor dat sy seun dood is, is dit vir hom hartverskeurend. Hy huil bitterlik, al het hy die oorlog gewen. Joab oorreed uiteindelik vir Dawid om uit te gaan en sy manskappe te ontmoet. Ten spyte van sy hartseer vervul hy sy pligte as leier.
Ons het die afgelope klompie jare dit so kennelik beleef dat daar nie ‘n wenner is wanneer daar oorlog gemaak word nie. Albei kante ly daaronder. Die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne asook dié tussen Israel en Hamas bewys dit net weereens. Dieselfde geld in ‘n bakleiery - almal kry seer. In Dawid en Absalom se stryd kon daar óók nie ‘n wenner wees nie. Absalom is dood en Dawid wens dat dit eerder hý was! ‘n Kind se teenspoed is ‘n ouer se pyn. Wanneer ‘n kind seerkry as gevolg van verkeerde dinge wat hy doen, is die ouer se pyn selfs groter as sy eie!
Wanneer ek en jy seerkry as gevolg van ons sonde, is God se pyn, Sy hartseer dalk nog groter as ons eie. Sal ons ooit verstaan hoe seer ons God maak deur ons liefdeloosheid en ongehoorsaamheid? Of wanneer ons in opstand kom teen Hom? En dít na alles wat Hy vir ons gedoen het! Die prys wat Jesus betaal het aan die kruis is baie, baie groter as wat ons óóit sal kan besef. Ons durf nie Sy verlossingswerk goedkoop maak deur onverskillig met sonde op te tree nie. Sonde is uiteraard om teen God in opstand te kom, net soos wat Absalom gedoen het teen Dawid.
Gebed:
Here, ek wil U nooit bedroef of seermaak nie. Help my om U lief te hê met my hele hart!