Abraham Koop Eiendom Aan

5 December, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Abraham Koop Eiendom Aan

Genesis 21:22-34

Wat ‘n blye dag: Abraham bekom sy héél eerste stukkie eiendom in die beloofde land!

Maar wag, nou loop ek die storie ver vooruit.

Met die waarword van die eerste belofte - Abraham se nageslag - nog vars in sy geheue ingebrand, begin Abraham daarna hunker dat God se tweede belofte óók sal waar word. God het hom immers ook die belofte gegee dat hierdie ganse land aan hom sou behoort. Maar dit is steeds maar net ‘n mooi toekomsdroom, want daar is géén sprake dat hy die land gaan oorrompel nie. Om die waarheid te sê is hy nog steeds ‘n bywoner op sy eie grond, en besit hy nie eers soveel as sy eie waterput vir sy vee nie! Vir die gryse ou Abraham is dit ‘n baie groot verleentheid, maar vir God is hierdie juis ‘n wonderlike geleentheid om te wys dat Hy selfs in die gewone gang van die lewe betrokke is by die wel en weë van Sy kinders, die gelowiges.

Inderdaad is Goddelike verskynings die uitsondering op die reël, en daar is slegs enkele gevalle beskryf oor die ganse geskiedenis van die Bybel wat oor baie duisende jare strek. God werk gewoonlik deur die doodgewone alledaagse. En dit kom Abraham wel deeglik agter wanneer Abimelek en Pikol, sy bevelvoerder, met Abraham ‘n ooreenkoms maak. Hulle het opgemerk dat God by Abraham is, en dat dit dus die moeite werd sou wees om met hom ‘n vredesooreenkoms te sluit. Om Abraham as jou vyand te hê, beteken dat jy ook vir God as vyand het, en dit kan bitter gevaarlik wees. Abimelek moes kennis neem dat om God by jou te hê, selfs meer werd is as om vir Pikol, die leërbevelvoerder saam met jou te hê, of om die land met al sy rykdomme te besit. Inderdaad sal jy met my saamstem dat dit selfs meer werd is as enigiets anders waaraan jy kan dink!

Aan die ander kant is dit natuurlik vir Abraham ook van groot belang om in vrede saam met sy bure te leef. Op 100 wil ‘n man mos nie meer oorlog maak nie! Eintlik was Abraham sy hele lewe lank nog ‘n vreedsame mens wat verkies het om in vrede sy eie ding te doen, buiten natuurlik die slag toe hy verplig was om Lot te gaan red.

Abraham het egter ‘n groot probleem met ‘n waterput, en hy sukkel nou al baie lank vrugteloos om die probleem op te los. ‘n Put is in daardie dorre streke sekerlik jou kosbaarste besitting, en dit is van lewensbelang. Daarsonder kan jy net eenvoudig nie lewe nie!

Abraham het vir hom ‘n waterput laat grawe vir sy vee. So ‘n put is nie sommer maar net ‘n ou gaatjie in die grond nie. Dit is dikwels ‘n baie groot en diep gat met trappies af onder in die buik van die aarde in, sodat ‘n mens kan afklim tot waar die water uitsyfer. In daardie dorre wêreld was die watertafel maar bitter diep. Abimelek se slawe het hierdie kosbare put van Abraham watertand sit en aangaap, en toe op ‘n dag besluit hulle dat dit hulle put sal wees. Hulle verjaag Abraham se slawe en neem besit oor van die kommoditeit.

Natuurlik dompel dit Abraham in ‘n reuse dilemma, want sonder water kan hy net sowel tou opgooi. Abimelek se vredesverdrag kom dan juis vir Abraham op ‘n baie geleë tyd, en dan roer hy die sakie van die put aan op ‘n baie slim manier. Nadat geskenke uitgeruil is om die verdrag te beklink, keer Abraham sewe ooilammers uit vir Abimelek. “En dié?” wil Abimelek weet.

Vir die put”, verduidelik Abraham. Met daardie sewe skape “koop” hy nou die put wat hy self gegrawe het. Die verbaasde Abimelek stem in, en die transaksie word beklink. Ons kan sommer hoor hoe ou Abraham deur sy baard sis: “Yes! Yes! Yes!” Nou het hy sy eie stukkie eiendom in die land, iets wat aan hom persoonlik behoort. Al is dit ook dan net ‘n put, het hy uiteindelik die belofte dat God die land aan hom sal laat behoort begin waar maak. ‘n Piepklein stukkie van Kanaän is Abraham se eiendom.

Die plek word Berseba genoem om die verbond met mekaar te gedenk. In Hebreeus is dit ‘n lieflike spel van klanke wat die betekenis van sewe skape beloof, eed en waterput weerspieël.

Abimeleg is tevrede terug na sy land. Met Abraham en sy God sal hy nie moeilikheid hê nie, en die prys wat hy betaal het was bitter klein.

Abraham sien egter die wonderbare hand van God in al hierdie gebeure raak. Hy beleef die teenwoordigheid van God in die normale loop van omstandighede, en daarom kan hy dan ook nie anders nie as om daardie groot dag te gedenk deur ‘n tamarisk te plant. Nou mag hy maar bome plant, want dit is mos sy put! Daar is vir hom ‘n wonderlike toekoms wat wink, want God, die Ewige God is met hom. In aanbidding val hy voor die Here neer. Hier kan hy lank en gelukkig lewe.

Herken ek en jy ooit die hand van die Here in die alledaagse dinge, of gaan dit maar net verby sonder dat ons agterkom hoedat God voorsien in ons behoeftes? Kom ons maak ‘n slag ons oë oop en leef in dankbaarheid oor Sy wonderlike voorsiening in ons lewe.

Gebed:

Dankie Here vir klein wonderwerkies wat elke dag my lewe vul. Dankie dat U vir my voorsien in al my behoeftes.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Om na God te Luister
26 August, 2026
‘n Volk Kom tot Inkeer
25 August, 2026
Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026