Lukas 23:1-49 & Johannes 18:28-19:37
Dis al laat-oggend voor Petrus die moed het om weer sy gesig te wys. Hy probeer sy ore toedruk as hy die groot skare Jode woedend hoor raas en skreeu en vloek. Hy loop sleepvoet in die rigting van die lawaai. Sy hart is swaar. Hy verwag die ergste.
'n Ent voor hom sien hy die man in bloed-deurdrenkte klere tussen die malende massa wat in 'n nou straatjie teen die bult opsukkel. Die skare dreunsing al vuisswaaiende. “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Petrus voel naar. Is dit nie dieselfde mense wat vroeër die week nog gesing het: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom!” nie?
Petrus voel lus om sy swaard uit te pluk en 'n pad oop te kap na sy Meester daar voor. Sy emosies is 'n warboel van droefheid, woede, skuldgevoel en magteloosheid. Hy hoor twee mense gesels: "Foeitog, die arme man het nie 'n vel op sy rug oor nie! Pilatus het Hom glo verskriklik laat gésel!"
"Ja, en toe laat kom hy 'n skottel water en was sy hande in onskuld en gee die Man oor om te laat kruisig. Verbeel jou! En dit nadat hy die Man onskuldig bevind het!"
Petrus volg die skare op 'n afstand na die walglike “Kopbeen”, Golgota, waar al Jerusalem se misdadigers gekruisig word. Hy sien hoedat Jesus val onder die gewig van die kruishout wat Hy dra. Hy sien ook dat iemand anders deur een van die soldate opgekommandeer word om die swaar balk vir Jesus te dra. Eers later sou hy hoor dat dit sy naamgenoot, Simon was, 'n man uit Sirene, Aleksander en Rufus se pa.
Daar voor iewers herken hy 'n paar bekendes. Hy wil sy pad na hulle toe deurworstel, maar dan oorval die skaamte van sy liederlike verloëning hom weer en hy besluit daarteen. Op 'n afstand bly staan hy wanneer die soldate met Jesus by Golgota aankom. 'n Walglike doodsreuk hang swaar om die plek.....
Petrus draai sy gesig weg as hy aanskou hoedat hulle sy Meester se klere van Hom afstroop sodat Hy nakend in ál Sy skaamte daar staan voor almal. Hy snak na sy asem as hy sien hoe erg die Meester se liggaam verrinneweer is deur die wrede géseling. Sy liggaam is bedek met bloed en rou wonde waar die ysters van die géselsambok die vleis uitgeskeur het.
Petrus bars uit in rou snikke en sy liggaam ruk onbedaarlik. Dan hoor hy die angsgille van sy Meester as die soldate die ruwe ysterspykers deur Sy hande en voete kap. Hy hoor die bulderende gelag van die priesters en Fariseërs en al die kerkleiers.
As Petrus weer opkyk, sien hy vir Jesus daar opgehys aan die vervloekte kruishout hang tussen twee misdadigers.
Daar naby die kruis herken Petrus vir Maria, Jesus se moeder en haar suster asook Maria Magdalena en nog 'n paar vroue van Galilea af. Johannes staan ook daar by hulle. Petrus wens só dat hy ook die moed gehad het om hom by die bedremmelde groepie te gaan skaar.
Daar is iets verskrikliks aan die broei, dit voel Petrus aan. 'n Snaakse rooi skynsel in die lug maak hom kriewelrig. En dit begin skielik donker word. “Wat gebeur?” vra iemand naby hom beangs. Dit raak al donkerder en donkerder en Petrus voel die verskriklike beklemming om sy hart. Die honde blaf onbedaarlik en daar heers paniek onder die skare. Teen twaalfuur die middag is alles pikdonker.
“Die einde van die wêreld het aangebreek!” kerm iemand onbedaarlik. Vrouens gil en kinders huil.
“Dis is omdat hulle my Meester gekruisig het,” dink Petrus.
Eers drie ure later verskyn die son weer. Maar nóg is dit nie die einde nie, want skaars is die eerste verskrikking verby, of Petrus hoor 'n onaardse gerammel. Dan begin die aarde onder hulle skud. Weereens gil mense doodsbenoud. Van die groot klippe op die koppie word losgeruk deur die geweld van die skudding en rol deur die verskrikte skare.
As Petrus opkyk, sien hy dat sy Meester se kop vooroor hang. Hy is dood...........
Snikkend en verslae draai Petrus om en loop doelloos weg. Agter hom hoor hy die misdadigers aan die kruise in doodsangs gil van pyn. Hy hoor hoedat die manne se bene gebreek word om hulle dood te verhaas. Petrus druk sy ore toe en begin hardloop om weg te kom van hierdie hel......
Gebed:
Here, saam met Petrus ruk dit ook vanoggend in my binneste......